Die Groot Geloofswoordeboek: Voorsienigheid

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Voorsienigheid

Voorsienigheid

Betekenis

“Voorsienigheid” kom van “voorsien” en het te doen met die ma­nier waarop God voorsien in die lewe van sy skep­ping. Ge­woonlik kyk ons na twee groot fasette: onderhouding en rege­ring. Hoe hou God alles in stand (onderhouding), en hoe lei Hy sy skepping op pad na sy doel (regering).

Populêr, maar moeilik

 

Die voorsienigheidsleer is die populêrste deel van ons geloof, maar tegelyk ook een van die moeilikste. God se sorg in ons lewe is die manier waarop ons meestal oor Hom praat. As ’n mens voor­sienigheid en verlossing vergelyk, praat Christene baie meer oor God se sorg as oor sy verlossingswerk. Getuienisse gaan oor­we­gend oor hoe Hy ons bewaar, genees, moed gegee het, en sel­de oor hoe Hy ons sonde vergeef, ons sy kinders gemaak en ons lewe nuut gemaak het.

Maar God se betrokkenheid by ons lewe is tegelyk een van die heel moeilikste dele van ons geloof. Daar is skerp verskille on­der Christene, en juis omdat die oortuiging dat Hy in ons le­we teenwoordig is en werk, so populêr is, wek sommige van die ver­skille soveel emosie op. Dit is ook interessant dat min Chris­tene ooit regtig hulle oortuigings hieroor deurdink. Dit is ge­woonlik los gedagtes wat dikwels nie onderling sinvol met mekaar in ver­band gebring kan word nie. Iemand sal met en­toe­siasme vertel hoe God vir haar in die allerbesigste straat in die middestad ’n parkeer­plek voorsien het, sonder om ooit te vra hoe dit werk met al die ander gelowiges wat ook op daardie tyd daar moes uitkom. Of ook dat God so wonderlik beskik het dat hulle kind wat in die motoronge­luk was, net sy twee bene ge­breek het, maar nie sy nek nie, sonder om ooit te vra waarom Hy nie liewer die ongeluk voorkom het nie, en hoe dit werk dat die gelowige kind in die ander motor dood is.

Solank daar genoeg dinge is waaroor ons dankbaar is, werk die meeste beskouings nog taamlik goed. Maar sodra die seer en onreg oorneem, breek ons beskouings uitmekaar.

Die werklike probleem het dan ook alles te doen met die onreg en seer wat so erg is dat dit nie meer goedgepraat kan word nie. Die probleem is kortliks: As God almagtig en goed (liefde) is, hoe is dit moontlik dat daar soveel kwaad (onreg, seer, smart, sonde) in die wêreld is?

• As God almagtig is, kan Hy mos enigiets doen of verhoed. Hoekom gebeur die vreeslike dinge dan? ’n Mens kan dit net verstaan as Hy dan nie regtig goed/vol liefde is nie. Dan sal Hy nie omgee wat met ons gebeur nie. Maar só ken ons Hom nie.

• As God goed/vol liefde is, hoekom gebeur al die vreeslike dinge dan? As Hy nie regtig almagtig is nie, kan ons dit wel verstaan. Dan kan Hy nie alles keer nie.

• Maar as God regtig almagtig en vol liefde is, hoe kan daar dan soveel kwaad in die wêreld wees? Ons sal net sy almag en sy liefde kon verstaan as daar nie kwaad/lyding/onreg in die wêreld was nie.

Kyk mooi wat in hierdie drie stellings aangaan. Daar is drie dinge: almag, liefde, kwaad. In elke stelling word dinge wel be­gryplik as ons een van die drie uitskakel, maar al drie kan nooit gelyk waar wees nie. Ons kan nie begryp hoe God almagtig en vol liefde kan wees as daar soveel kwaad in die wêreld is nie. Kom ons kyk eers kortliks na ’n aantal maniere waarop mense die probleem probeer hanteer.

Die meeste beskouings wat in besonderhede uitgewerk is, is baie teoreties. Die oomblik wat ’n mens konkrete vrae begin vra, werk dit nie meer maklik nie. Kom ons neem een voorbeeld. Om te sê God beskik alles, is baie mooi en eerbaar. Dit gee al die eer aan God, tot ’n mens vra of Hy ook beskik dat ’n negejarige dogtertjie deur ses mans verkrag en met messe gesteek word sodat sy vir die res van haar lewe verlam lê.

Baie verskillende beskouings

Daar is ’n hele reeks verskillen­de beskouings oor hoe God in ons lewe en in die groot wêreld om ons betrokke is.

In die tweede eeu het Marcion ’n baie vreemde beskouing ont­wikkel. Hy het geglo daar is twee Gode, ’n slegte God en ’n goeie God. Die God van wie ons in die Ou Testament lees, is die slegte een, die een wat alles geskep het. Hy is wreed en ver­oorsaak al die ellende op aarde. Maar in die Nuwe Testament is daar ’n ander God, die goeie God, die Vader van Jesus. Hy stry teen hierdie slegte God en bewaar ons teen Hom.

Augustinus het in die vyfde eeu ’n baie interessante beskou­ing ontwikkel wat vandag nog aandag trek. Hy het aanvaar dat die heelal ’n ordelike geheel is waarin daar ’n groot verskeidenheid is wat alles mooi inpas en in harmonie saamwerk. Hy het graag die beeld van ’n skildery gebruik. Daar moet ’n verskeidenheid kleure en figure in ’n skildery wees. As alles net een kleur of vorm was, sou ’n mens glad nie kon sien wat daar aangaan nie. Daar moet kontraste wees om die patroon uit te bring. Net so moet daar in die wêreld ook verskeidenheid wees, goed én kwaad. Trouens, as daar geen kwaad was nie, sou ons nie eens geweet het wat goed is nie. Die kwaad is ook nie regtig sleg nie, dis net die afwesigheid van dit wat goed is.

’n Baie netjiese en aantreklike teorie, tot ’n mens alles begin kon­kreet maak. Is die verkragting van die dogtertjie regtig nodig, anders sou sy nie geweet het wat goed is nie? En is haar ver­krag­ting nie regtig sleg nie, maar net die afwesigheid van dit wat goed is?!

’n Mens beleef dikwels hierdie totale ineenstorting van ’n teo­rie as jy konkreet raak oor sleg en seer en sonde.

John Hick het in die vorige eeu bekendheid verwerf vir sy sie­ning dat lyding noodsaaklik is vir soulmaking, dit beteken die ont­wikkeling van die edel eienskappe van die mens. As daar nie ly­ding was nie, sou geen mens die edel eienskap ontwikkel het om ander in hul lyding te help nie. As daar nie bedreigings was nie, sou niemand heldedade verrig het om hierdie bedreigings af te weer nie.

’n “Pragtige” teorie, tot ’n mens die lyding en bedreigings be­gin konkretiseer: die meisietjie van nege!

Daar is drie bekende teorieë waarna ons in besonderhede kan kyk. Die meeste van ons sal ons in die omgewing van een van hier­die drie tuisvoel:

Albeskikking (Calvyn)

Toelating (Arminius)

Stryd en oorwinning (Irenaeus)

Albeskikking

*Calvyn (1509-1564) het ’n baie radikale stand­punt ontwikkel, ’n standpunt wat Arminius later probeer sagter maak het. Calvyn was oortuig dat God letterlik alles wat ooit gebeur, presies so voorbe­skik het. Calvyn wou hiermee aan God al die eer gee. Hy kon op geen manier aanvaar dat God net toe­kyk na dit wat op aarde gebeur, of net reageer op dit wat mense op aarde doen nie. Dit is sy skepping. Hy besluit oor dit wat hier gebeur. Calvyn het graag gepraat van die “soewereiniteit” van God.

Inderdaad gee hierdie siening al die eer aan God indien dit God se eer sou bevorder as Hy letterlik alles bepaal wat ooit op aarde gebeur. Die probleme kom dan ook nie solank ons dink aan die goeie dinge op aarde nie. Dis lekker om dit aan “ons lief­devolle Va­der” toe te skryf, soos Calvyn Hom tereg graag genoem het.

Maar wanneer ons aan die sonde en lyding in die wêreld dink, is die vraag: Is dit nie eerder tot oneer van God as ons aan­vaar dat Hy alles beskik nie? Calvyn was volkome konsekwent. As jy eenkeer jou voet op die pad van voorbeskikking gesit het, moet jy enduit volhou. En Calvyn het inderdaad. Alles wat ooit waar ook al gebeur, is presies net so deur God voorbeskik. Selfs die duiwel staan direk onder die beheer van God. Hy is die onwillige dienskneg van God.

Op vrae was Calvyn se reaksie dat ons ons nie hoef te be­kommer nie. God is ons liefdevolle Vader. Ons kan dit wat met ons gebeur, aanvaar as sy goeie doel met ons en Hom daarvoor dank. Hy het selfs ’n goeie doel met al die sonde en lyding en onreg wat Hy be­skik. Indien ons nie enige goeie doel kan sien nie, moet ons aanvaar dat dit ’n onbekende goeie doel is.

Hieroor kan ’n mens ’n hele paar opmerkings maak. Eerstens maak hierdie “onbekende goeie doel” natuurlik ’n verdere ar­gu­ment baie moeilik. Hoe kan ’n mens ’n “onbekende goeie doel” be­oordeel? En tog kan ’n mens vra of daar in beginsel eni­ge moont­like doel is wat ons “goed” kan noem in die lig van die vrees­like onreg, sonde en smart op aarde.

Tweedens maak die standpunt van Calvyn oor God se almag die saak nog moeiliker. Hy was oortuig dat God se almag beteken dat Hy enige oomblik enigiets kan doen wat Hy wil. Kom ons kyk weer na die negejarige dogtertjie. God se onbekende goeie doel kon dalk wees dat die ma tot bekering moet kom. Maar as Hy enige oomblik enigiets kan doen wat Hy wil, kan Hy mos iets doen wat minder vernietigend is om die ma tot bekering te bring. Hoekom dan die dogtertjie se ganse lewe verwoes?

Derdens is die vraag: Wat kan “liefdevol” nog in hierdie ver­band beteken? Hoe kan alles wat met kinders van God gebeur, ’n uitdrukking van sy liefde wees? Wat kan die duiwel aan ons doen wat erger is? Trouens, by Calvyn is daar ook nie meer ’n on­derskeid of dit God of die duiwel is wat dit doen nie. Dis presies dieselfde of God en of die duiwel dit doen. Die duiwel staan in elk geval onder die beheer van God en kan net doen wat God onveranderlik beskik het dat hy moet doen. Op hierdie manier raak dinge darem net te deurmekaar.

Vierdens beteken Calvyn se siening oor die albeskikking dat God ook alle sonde voorbeskik het. Die probleem is egter dat Hy sonde ten sterkste veroordeel. Hoe is dit dan moontlik dat Hy elke sonde wat ooit gepleeg word, onveranderlik voorbeskik het? Dan het Hy mos twee wille wat reg teenoor mekaar staan: sy wet teen sonde en sy beskikking dat ons sonde moet doen. Dan weerspreek Hy mos Homself.

Calvyn se antwoord was dat dit inderdaad vir ons so lyk, maar dat ons verstand so beperk is dat ons net nie kan begryp dat die twee wille in werklikheid nie bots nie. Hulle kan nie bots nie, want God is nie in Homself verdeeld nie. Ons sal dit eendag eers verstaan.

Vyfdens is dit natuurlik ’n vraag: Hoe kan die mens vir die sonde verantwoordelik wees as God onveranderlik voorbeskik het dat die mens dit moet doen? Calvyn se antwoord is dat God die sonde met goeie oogmerke voorbeskik het, maar dat die mens dit met kwa­de bedoelings doen. Dit maak die mens skuldig. Die moeilikheid met hierdie antwoord is natuurlik dat Calvyn juis met alle nadruk leer dat God alles wat ooit gebeur, voorbeskik. Dan tog seker die mens se bedoelings ook?

Die grootste probleem met Calvyn se standpunt is egter sy be­roep op die Bybel. Dit is ’n dringende vraag of ons regtig hier­die radi­ka­le siening op die Bybel kan grond. Die twee tekste waarop Calvyn hom die sterkste beroep, ondersteun nie regtig sy standpunt nie.

Matteus 10:29-31 is Calvyn se sleutelteks:

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.

Die drie gekursiveerde woorde: “sonder die wil van julle Va­der” staan nie in die Grieks nie. Die 1983-vertaling het eenvou­dig: “sonder die wil van julle Vader” ingevoeg, in navolging van Calvyn. Een van die groot beginsels van die 1983-vertaling was om duide­lik te vertaal. Dat ’n mossie “sonder julle Vader” op die grond val (1953), was nie duidelik nie. Daarom voeg hulle toe in: “sonder die wil van julle Vader.” Nou is die vertaling duidelik, maar is dit regtig wat die Grieks beteken?

As ’n mens na die verband kyk, is hierdie tekste deel van Jesus se gesprek met die twaalf wat Hy uitstuur (10:5-31). Hy waarsku hulle dat hulle vervolg gaan word, dat hulle hulle sal moet verdedig en selfs sal moet vlug, maar dat God hulle sal bystaan in hulle nood (10:16-20). Oor en oor verseker Hy hulle dat hulle nie bang hoef te wees nie (10:19, 26, 28, 31). Om hulle dan te verseker dat God na hulle sal omsien, vergelyk Hy hulle met mossies en met hare, die onbelangrikste goed in die wêreld. Hy sê dat God selfs omgee as daar net ’n mossie dood neerval of net ’n haar uit hul kop val. Hoeveel te meer sal Hy dan nie vir hulle omgee as hulle vervolg word nie! Hulle hoef dus nie bang te wees nie.

Maar in hierdie verband kan 10:29 nie beteken dat God die mos­sies laat dood neerval of die hare uit hul kop laat val nie. Hulle word vervolg. God gee vir hulle om. Dis die boodskap van die ver­band. Dan kan die woorde dat daar nie eens ’n mossie “sonder julle Vader” op die grond val nie, net beteken: “sonder dat julle Va­der omgee.”

As ’n mens kyk na dieselfde deel in Lukas 12:4-7 word hierdie betekenis bevestig. Daar praat Jesus ook met sy dissipels, en daar is die boodskap ook dat hulle nie moet bang wees nie (12:4, 7). En daar word van die mossies gesê dat God nie een van hulle vergeet nie (12:6).

Daar is dus geen manier om Calvyn se gedagte in hierdie tekste te kry dat God alles voorbeskik wat ooit gebeur nie.

Dieselfde geld vir die ander teks: Jesaja 45:7

Ek maak die lig en skep die donker;

Ek gee voorspoed en skep rampspoed.

Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.

Calvyn was oortuig dat dit hier gaan oor alle dinge wat ooit gebeur. God beskik alle dinge: lig en donker, goed en kwaad.

Maar gaan dit regtig hier oor alle dinge wat ooit gebeur? Gaan dit nie oor heel spesifieke dinge nie? Gaan dit oor dinge wat God in die ewigheid voorbeskik het? Of oor dinge wat Hy doen in die tyd van die profeet?

Hierdie teks is die hoogtepunt en afsluiting van die be­lang­rik­ste perikoop in Deutero-Jesaja (44:24-45:7). In hierdie deel word aan­gekondig dat die Here Israel uit die *ballingskap gaan terugbring. Hy gaan die Persiese koning Kores stuur om Babilon in te neem en die Babiloniërs te straf omdat hulle Israel te swaar laat kry het, en Kores gaan dan die volk toelaat om Jerusalem te gaan herbou.

Dit sou moeilik in dié verband inpas dat die laaste vers ’n al­gemene uitspraak is oor alle dinge ooit. ’n Mens sou eerder ver­wag dat dit dalk ’n samevatting is van die voorafgaande deel.

Die spesifieke woorde wat hier gebruik word (lig, duisternis, voor­spoed, rampspoed), dui inderdaad in hierdie rigting. “Lig” word elke keer in Deutero-Jesaja gebruik vir die terugkeer van Israel uit ballingskap na Palestina (42:6, 16; 49:6; 53:11), “donker” ver­wys in die meeste gevalle óf na die ballingskap self, óf na die ellende wat Babilon gaan tref as Kores hulle aanval (42:7; 45:3, 19; 47:5; 49:9). “Voorspoed” verwys elke keer na vrede, soms na die vre­de wat Israel deur die terugkeer gaan ervaar, en soms na die voor­spoed wat Kores gaan ervaar as die Here hom teen Babilon laat optrek (52:7; 54:10, 13; 55:12). “Rampspoed” word nie elders in hier­die vorm in Deutero-Jesaja gebruik nie, maar ’n afgeleide vorm word gebruik vir Israel se verdrukking in Babilon en vir die ramp wat Babilon gaan tref as Kores hulle binneval (47:10-11).

Hierdie gegewens wys sterk in ’n bepaalde rigting: Jesaja 45:7 lyk na ’n samevatting van die deel wat handel oor God se be­sluit om Israel deur Kores na Palestina te laat terugkeer en Babilon te straf. Die betekenis is dan soos volg:

Ek maak die lig (die Here lei Israel terug uit die ballingskap) en skep die donker (Hy bring onheil oor Babilon).

Ek gee voorspoed (die bevryding en vrede na die terugtog) en skep rampspoed (die rampspoed wat Babilon verdien).

Dit is dan ’n tipiese voorbeeld van die bekende Hebreeuse pa­rallelismus membrorum, die parallelle uitsprake wat dieself­de be­te­kenis het.

Die laaste reël se presiese woorde kon ’n mens van die begin af laat vermoed het dat dit nie gaan oor ’n algemene stelling oor alle dinge nie, maar oor spesifieke gebeurtenisse. Daar staan im­mers: “Ek doen al hierdie dinge” en nie: “Ek doen alle dinge” nie. Dit verwys terug na die dinge wat in hierdie perikoop bespreek word.

Ook hier het ons dus nie ’n uitspraak dat God alles wat ooit gebeur, goed én sleg, voorbeskik het nie.

Daar is baie kleiner getuienisse in die Bybel wat hierdie ge­dag­te van absolute voorbeskikking baie vreemd laat lyk. Dink maar net aan die woordjie “miskien” in die mond van die Here. Die He­re beveel Jeremia om sekere waarskuwings aan die volk te rig, en vervolg: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer” (Jer 26:3; kyk ook 36:3). Hoe rym so ’n uitspraak uit die Here se mond as Hy vooraf bepaal het wat die volk sal doen? Volgens Jesaja het die Here bepaalde dinge vir Israel gedoen, en toe “het Hy verwag dat hulle goeie druiwe sou dra,” maar toe dra hulle suur druiwe (Jes 5:2, 4). In beide gevalle is dit tog duidelik dat die Here aanvaar dat die toekoms oop is, dat Hy moet wag en sien wat Israel gaan doen. (*Alwetendheid) Elders lees ons dat die Here die volk tydens die uittog nie op die kortste pad na die beloofde land laat trek nie, want “as die volk in ’n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe terugkeer” (Eks 13:17). En wanneer Hy nie verder saam met Israel wil trek nie, maar Moses by Hom pleit om dit tog te doen, antwoord Hy: “Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen” (Eks 33:5).

Natuurlik het ondersteuners van Calvyn se radikale siening maniere om al hierdie uitsprake te “verklaar” en aan absolute voor­beskikking vas te hou. Jy aanvaar dat die Here maar net so praat omdat die profeet of Moses of die volk nie sou verstaan as Hy vir hulle sou gesê het hoe dit werklik is nie. Maar dit is nie oortuigend nie. Waarom sou hulle nie kon verstaan nie? Hy kon iets gesê het soos: “Ek het in die ewigheid al besluit of Ek met julle sal saamtrek, maar Ek wil dit nie nou al vir julle sê nie.” En hoe moet ons nou weet wanneer ons moet aanvaar wat in die Bybel staan, en wanneer ons dit deur die sif van die albeskikking moet gooi en daaraan ’n ander betekenis gee as wat ooglopend daar staan?

Calvyn het ’n voorsienigheidsleer uitgewerk waarmee hy ’n wonderlike motief gehad het, maar dit werk nie regtig nie.

Toelating

Arminius (1559-1609) is die naam wat meestal ge­noem word as ons na die toelatingsleer verwys, maar daar was voor en na hom baie ander wat ongeveer dieselfde oortuiging gehad het. Ar­minius het ná Calvyn geleef, en sy siening was hoofsaaklik ’n reaksie op Calvyn s’n. Maar hy het nogal ’n hele ent met Calvyn saamgestem, veral oor die soewereiniteit en die absolute mag van God. Hy het ook aanvaar dat God alle dinge wat ooit gebeur, kon voorbeskik het, maar dat Hy inderdaad net die goeie dinge voorbeskik het.

Die groot verskil het gekom by die slegte dinge, by onreg, ly­ding, sonde. Hierdie dinge laat God net toe, Hy het dit nie voor­beskik nie.

Arminius kon nie die beeld van God aanvaar wat uit Calvyn se siening voortgekom het nie. As God ook al die onreg en lyding en ellende en selfs al die sonde voorbeskik het, hoe kry ’n mens dan nog reg om Hom te vertrou as ’n liefdevolle Vader wat vir sy kinders omgee?

Arminius het daarvan uitgegaan dat God in ’n verbonds­ver­houding van liefde met die mens wou leef. Hy het ons lief, en Hy wil hê ons moet Hom ook liefhê. Maar om Hom te kan liefhê moet ons vry wees. Gedwonge of outomatiese/instinktiewe liefde is nie werklik liefde nie. Hy het ons dus vry gemaak sodat ons in staat sou wees om Hom met egte liefde lief te hê. Maar die probleem met vryheid is dat dit ook negatief gebruik kan word: om God nie lief te hê nie. En dit is presies wat toe gebeur het. Mense weier om God lief te hê.

Maar God het sy eie besluit gerespekteer: Hy gaan wel sover moontlik om die mens te verhinder om sonde te doen, maar daar kom ’n punt wanneer Hy dan sy besluit respekteer dat Hy die mens vry gemaak het, en die mens dan toelaat om Hom nie lief te hê nie. En daaruit vloei dan al die ander negatiewe dinge voort: die seer en smart en lyding en onreg en sonde.

Job

Arminius se belangrikste Skrifberoep was op Job. Hy het gemeen dit is duidelik dat God die Satan toelaat om Job te teister, en dit sou dan ook die model wees vir God se verhouding met die mens.

Dit is egter ’n vraag of ons Job só kan verstaan. Die “Satan” in hierdie verhaal is nog nie die Satan in Jesus se aardse bediening nie. Die verhouding tussen God en “Satan” in Job verskil hemelsbreed van dié tussen Jesus en Satan (en die bose magte). Daar is ’n rustige onderhandelingsituasie in Job, maar radikale vyandskap in die Evangelies. “Satan” in Job is deel van die hemelse huishouding, een van die engele in diens van God. Hy is iets soos ’n staatsaanklaer wat rondgaan en kyk of alles onder die mense reg loop. As hy onreg vermoed, rapporteer hy dit, en hy en God besluit dan wat om te doen. Hy maak nogal die voorstelle, maar God neem die besluit. Dan voer hy alles presies uit soos God besluit het.

Hierdie prentjie pas ook in die res van die Ou Testament. Ons lees elders net twee keer van Satan. Die een keer is in 1 Kronieke 21:1. Dié teks skep vir baie mense ernstige probleme omdat dit an­ders geformuleer is in 2 Samuel 24:1. In 2 Samuel lees ons die Here het Dawid teen die volk aangehits, maar in 1 Kronieke die Satan het Dawid teen die volk aangehits. Hoe kan dit moontlik wees? Dit is tog ’n absolute teenstelling.

Of is dit? Onthou die verhouding in Job waar die Here en Satan oor sekere optredes ooreenkom, en dan gaan voer Satan die Here se besluite uit. Dit kan netsowel ook hier die agtergrond wees. Die Here het dit gedoen – deur Satan wat sy besluit uitgevoer het. Immers, in die enigste ander plek in die Ou Testament is Satan weer die aanklaer, maar hier skyn al iets van die spanning tussen hom en die Here deur (Sag 3:1-3).

Niks van hierdie rustige samewerking tussen Jesus en Satan is egter meer in die Evangelies teenwoordig nie. Inteendeel! Hier is net sprake van absolute opposisie en vyandskap. Jesus dryf die magte meedoënloos uit die mense en skynbaar selfs uit die natuur uit (Mark 4:35-41). En hulle skree en smeek en vlug net.

Het daar iets met “Satan” gebeur in die tyd tussen Job en Jesus?

Daar is nie baie gegewens nie, maar Jesus verwys skynbaar wel na iets. Wanneer die 72 dissipels met groot vreugde van hulle sending terugkom omdat selfs die duiwels hulle aan hulle on­der­werp, antwoord Jesus: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die he­mel sien val” (Luk 10:17-18). En in Openbaring lees ons dat daar in die hemel oorlog uitgebreek het en dat die draak en sy engele verslaan is en uit die hemel uitgegooi is (12:7 ev). Dit is moontlik dat daar iets gebeur het wat die Satan van ’n onskuldige “staatsaanklaer” in ’n verbete teenstander van God verander het. Maar dan is dit nie sinvol om vandag nog die “toe­latingsverhouding” van Job te ge­bruik nie.

Die teologiese probleem met toelating is amper dieselfde as met albeskikking. As God die vreeslike onreg in die wêreld be­skik, hoe kan ons Hom nog vertrou as ons liefdevolle Vader? Maar selfs as God onreg en geweld nie beskik het nie, maar net toelaat, beteken dit dat Hy dit kon gekeer het. As Hy die verkragting van die negejarige meisietjie kon gekeer het, is dit nie ontstellend om te dink dat Hy dit nie gedoen het nie? En Auschwitz? En apartheid? Skok dit nie ook ons vertroue in Hom nie?

Ook die “onbekende goeie doel” kry ons net so by Arminius. Maar die probleem is dieselfde. Is daar ’n doel wat so goed is dat dit al die wrede onreg en lyding op aarde regverdig, veral as ons onthou dat almag hier gesien word as “enigiets enige oomblik”. As God enige oomblik enigiets kan doen, kan Hy mos so ’n goeie doel op ’n ander manier bereik.

Stryd en oorwinning

Irenaeus is ’n beroemde kerkvader wat in die tweede eeu geleef het. Hy het ’n teorie uitgewerk oor die *versoening, maar ’n mens kan dit ook op die voorsienigheid toepas.

Volgens hom het Christus tydens sy aardse bediening, en veral deur sy dood en opstanding, die duiwel en die demone oorwin en ons uit hulle mag bevry. Daar is natuurlik sterk Bybelse getuie­nis wat dit steun. Jesus se *eksorsisme is die enkele saak waaraan verreweg die meeste ruimte in die Evangelies afgestaan word, en ook die Brie­we gee baie aandag aan sy oorwinning van die bose magte.

Dit is egter ooglopend dat dit implikasies het vir die voor­sienig­heidsleer. Trouens, een van die opvallende sake in die teo­rieë wat reeds behandel is, is dat daar nie voldoende aandag ge­gee word aan ander rolspelers soos die mense self, die duiwel en die bose magte nie. Calvyn se gedagte dat God selfs al die son­des van mense voor­beskik het, en ook nog alles voorbeskik het wat die duiwels doen, is vreemd en onoortuigend. En Armi­nius s’n dat God die Bose toelaat om sy verwoestingswerk voort te sit, versterk ook nie vertroue in God nie.

Jesus se bediening maak een ding duidelik: dat daar ’n verbete stryd tussen God en die duiwel is, en dat Jesus die stryd teen die Bose aanknoop en hom oorwin.

Dit is nie iets wat in die Ou Testament voorkom nie. Die en­kele kere wat daar wel na die “Satan” verwys word, is reeds be­handel. In die Ou Testament is hy ’n onskuldige figuur, maar in die Nuwe Testament is hy sonder meer God se aartsvyand. Hy verwoes mense se lewens en selfs die natuur. En daarby kom die ongehoorsaamheid van mense wat eenvoudig teen God se wil optree. Die bekende tradisionele formule dat hierdie mense en die duiwel wel teen God se wil optree, maar nie buite sy wil nie, kan moeilik verduidelik word.

Ons moet aanvaar dat God in twee verskillende stryde ge­wikkel is: die stryd teen die bose magte en die stryd om die hart van mense. Kom ons begin by die laaste.

God se stryd om die hart van mense

Die grootste deel van die Ou Testament is die geskiedenis van God se stryd om die hart van sy volk. Alreeds tydens die uit­tog is die volk onophoudelik aan Hom ongehoorsaam. En in die beloofde land gaan dit hoe later hoe kwater. Kort voor die ballingskap bereik dit ’n laagtepunt. Die profeet Jeremia verwoord dit op skokkende wyse. Selfs die Here staan verskrik daaroor (Jer 2:12 se “hemel” is ’n eufemisme vir die Here self). Israel se sonde word hemeltergend. Selfs onder die heidene is dit onbekend dat ’n volk sy gode vir ander verruil, en dit terwyl hulle gode nie eens regtig gode is nie. Maar Israel verruil sy God, wat die enigste ware God is, vir nikswerd gode. Dis so goed as om ’n standhoudende fontein te verruil vir gebarste reënbakke. Dis skokkend.

Nou het ’n mens ’n keuse. Óf jy aanvaar die albeskikkingsleer, óf jy aanvaar dat God werklik in ’n stryd gewikkel is om die hart van sy volk. As jy die albeskikking aanvaar, aanvaar jy ook dat dit wat hier staan, nie so bedoel is nie. Jy moet van elders inligting kry om dit “reg” te verstaan. Jy moet dan hier tussen die lyne in­lees dat God dit natuurlik voorbeskik het dat Israel so skokkend sal optree, en ook dat Hy dan so ontsteld daaroor sal wees. En dan wonder jy net hoe dit werk: Hy beskik dat mense so skokkend optree, Hy beskik ook dat Hy dan so ontsteld daaroor sal wees, en verder beskik Hy dat Hy hulle dan met die vernietigende ballingskap sal straf oor hierdie ongehoorsaamheid en ontrou – wat Hy beskik het dat hulle sal doen?

Anders loop jy die ander pad. Jy aanvaar dat wat hier staan, so bedoel is en so verstaan moet word. Jy aanvaar ook dat alles hier staan wat nodig is om te verstaan wat hier gebeur. Jy aanvaar dat God regtig ontsteld is omdat Israel so ontrou aan Hom is, en dat Israel regtig uiteindelik die straf van die ballingskap verdien het.

Maar ook hierdie pad het dorings op. Jy aanvaar dan dat God werklik in ’n stryd gewikkel is om die hart van sy volk, en selfs dat Hy nie altyd op die korte duur hierdie stryd wen nie. Hy het nie daarin geslaag om Israel te oorreed om aan Hom getrou te bly nie, en uiteindelik moes Hy hulle in ballingskap wegstuur.

Jy aanvaar ook dat Jesus in dieselfde stryd gewikkel was om die hart van Israel, dat Hy by hulle gepleit het en hulle dringend vermaan het om Hom as Messias te aanvaar, maar dat hulle Hom uiteindelik verwerp en laat kruisig (Matt 21-23). Jy aanvaar dan ook dat God hierdie stryd om die hart van sy volk voortsit, dat Jesus die apostels na die heidene stuur om Israel jaloers te maak as hulle sien hoe die heidene met hulle Messias “wegloop” (Rom 11).

God se stryd teen die bose magte

Intussen aanvaar jy ook dat God in ’n tweede stryd gewikkel is: téén die bose magte wat die mensdom en die skepping wil vernietig. Jy aanvaar dat Jesus hierdie stryd ten volle ernstig opgeneem het, die magte beveg en uit die lewens van mense en selfs uit die natuur uitgedryf het, en veral deur sy kruis en opstanding oor die bose magte getriomfeer het (Kol 2:15). Jy aanvaar egter dat dié stryd nog nie verby is nie, dat ons trouens deel aan hierdie stryd het en sterk weerstand moet bied teen die bose magte in die lug (Ef 6:10 ev; 1 Pet 5:8 ev).

Dit alles beteken dat twee dinge langs die pad vir jou al be­lang­ri­ker word: die opstanding van Jesus en sy wederkoms. Sy opstan­ding is die beslissende slag in hierdie stryd teen die bo­se magte, en sy wederkoms sal die finale oorwinning wees. Dit beteken dan dat ons nie ons geloof kan behou as Jesus nie op­gestaan het (*“Nuwe Hervorming”) en weer sal kom nie, al kan ons ons nie regtig sy wederkoms voorstel nie. Maar ’n mens kon jou ook nie op grond van die profesieë van die Ou Testament voorstel hoe die Gees se koms sou wees nie. (*Ver­vulling van profesieë)

Hierdie siening het egter nog verdere implikasies. As dit waar is dat God nie altyd op kort termyn die stryd om die hart van sy volk wen nie, ook nie in die Nuwe Testament en in ons eie tyd nie, sal ons sy *almag anders moet verstaan as wat dit oor die algemeen gedoen word. Die gewone manier om sy almag te ver­staan is dat Hy enige oomblik enigiets kan doen wat Hy wil. Maar hoe aantreklik hierdie definisie ook al is, dit het nie steun in die Bybel nie. Dit is in werklikheid een van die laaste dinge wat ’n mens sou kon oorweeg as jy die Bybel ernstig opneem. Een van die deurlopende lyne in die Bybel is juis dat daar vrees­lik baie dinge téén God se wil gebeur, dat sy wet voortdurend oor­tree word, dat Hy aanhoudend deur die profete by sy volk pleit, maar nie ’n positiewe reaksie kry nie. As Hy enige oomblik enigiets kon doen wat Hy wil, sou alle mense altyd aan Hom gehoorsaam gewees het en sou Hy sy doel in die Ou Testament met Israel bereik het.

Daarom moet ons aanvaar dat die almag van God eerder be­te­ken dat Hy uiteindelik sy doel sal bereik, al neem dit ook lank. Ons het die versekering deur die opstanding van Jesus dat ons aarts­vyand, die dood, oorwin is.

Meer rolspelers

Maar dit alles beteken duidelik dat daar meer rolspelers as net God is wat bepaal wat in die geskiedenis gebeur. Daar is minstens ook mense en bose magte. En omdat beide teen God se wil kan handel, is dit duidelik dat die geskiedenis oop is in die sin dat dinge anders kan verloop as wat God wil. (*Uitverkiesing) Dit klink dalk na ’n skokkende stelling, maar daar is min dinge in die lang geskiedenis tussen God en Israel wat so duidelik is as dat God se wil oor en oor oortree word.

Dit beteken dat ons nie alles wat met ons gebeur, direk aan God se wil en beskikking kan toeskryf nie. Hierdie siening sal baie ver­warring en smart spaar vir mense wat ly. Daar is te veel Chris­tene wat voel hulle geloof is op die spel as iets smartliks met hulle gebeur. God is nie die een wat soewerein smart sit en uit­deel met onbekende goeie oormerke nie. God is die een wat sy kinders in hul nood bystaan soos Hy beloof het.

As ’n man homself dronk drink en ’n klein dogtertjie in die straat doodry, is die vraag nie waarom God dit beskik of toe­ge­laat het nie. Hy het nie. Hy sit nie agter dronk mense se onver­ant­woordelike optrede nie. Hy veroordeel dit. Die dronk man dra die verantwoordelikheid. Maar die ouers kan op die Here vertrou. Hy sal hulle deur hierdie vreeslike krisis dra.

Dit beteken dat ons in ’n onvolmaakte wêreld leef waarin vrees­like onreg en smart voorkom, klein én groot, van hierdie en­kele dogtertjie tot Hitler se vreeslike Jodemoord. Dit is een van die redes waarom die vroeë Christene so uitgesien het na die wederkoms van Christus: God het beloof om alles nuut te maak wanneer Christus weer kom, en om alle trane af te vee en selfs die dood te vernietig (Op 21:4). Tot dan leef ons in ’n harde, on­barm­hartige wêreld waarin God nie alles beskik nie, maar in alles by ons sal bly.

Hy maak ’n verskil in die nood van mense.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print