Mense en Redding: Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament (3) – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Jakobus argumenteer soortgelyk oor geloof (Jak 2:14-26). Geloof sonder werke is dood, met ander woorde, as iemand sê hy of sy glo, maar nie so leef nie, bestaan daardie geloof per definisie nie. Jakobus skryf nie veel oor die oomblik dat ‘n persoon gered word nie, want dit gaan eerder vir hom oor die lewe van ‘n gelowige volgens die wysheid van God (Jak 4:13-18).

Die beeld van die gelowiges wat kinders van God is, staan sentraal in die briewe van Petrus. Hy gebruik ook die beeld van die geboorte van die gelowige wat dan deel van die familie van God uitmaak (1 Pet 1:23): Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.  Hy verbind die nuwe lewe direk aan die opstanding van Jesus (1 Pet 1:3): In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Die opstanding van Jesus het bewys dat daar ‘n lewe na die dood is en dat mense ook tot die ewige lewe opgewek kan word. Daarop hoop gelowiges (1 Pet 1:4-5; 3:21-22). Net soos Jesus sal hulle ook die ewige lewe kan kry: En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Pet 1:5).

Die lyding, dood en opstanding van Jesus speel ook ‘n belangrike rol in Petrus. In 1 Pet 3:18 word Jesus se lyding ter wille van ons skuld en sonde, sy dood en opstanding saam beskryf as heilsgebeure: Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. In 1 Pet 2:24 stel Petrus dit nog meer onomwonde: Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Hier argumenteer Petrus dat ons vir ons sonde moes sterf. Jesus het egter vir die gelowige se sondes gesterf deur die gelowige se sonde in sy liggaam aan die kruis te dra, met ander woorde, daar is klaar vir die sonde van die gelowige gesterf. Die gedagte van plaasvervanging word hier gebruik, naamlik, die een sterf vir en in die plek van die ander. Dit was gebruiklik in die antieke tyd. Dat een persoon, naamlik Jesus, vir almal sterf, was ook gebruiklik in die antieke tyd, omdat hulle groepsmense was. Die leier van ‘n groep kon dus die hele groep verteenwoordig. Dit is byna soos ‘n kaptein van ‘n span. Hy verteenwoordig die hele span as daar geloot word oor wie eerste gaan gaan kolf of so iets, en hou die beker namens die hele span hoog as daar gewen word. Wat van hom geld, geld van die span ook.

Petrus gebruik ook die beeld van loskoping (waar iemand betaal om ‘n slaaf vry te maak) om te verduidelik wat met gelowiges gebeur as hulle gered word: Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is (1 Pet 1:18-19). Hier herken ons weer motiewe wat ons by ander skrywers ook raakgeloop het, naamlik offertaal (lam en bloed) en natuurlik loskoping. Die bloed en offer van Jesus is die ‘betaling’ wat gegee word om mense vry te maak vir ‘n sinvolle bestaan saam met God.

Die brief van Petrus was gerig aan mense wat sosiaal swaar gekry het omdat hulle Christene was. Hulle is vervolg en eenkant toe geskuif vanweë hulle geloof. Daarom is die brief ook geskryf – die brief is bedoel om hulle moed te gee en hulle goed te laat voel omdat hulle Christene is, al gaan dit sleg met hulle. Dit doen Petrus deur vir hulle te wys op wat met hulle gebeur het. Hy vergelyk hulle met die volk van God en verduidelik dat hulle al die seëninge van die verbondsvolk het, juis omdat hulle gered is (1 Pet 2:9-10): Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Hulle moet volhard, omdat God hulle nou sy verbondsvolk gemaak het. Hulle status het van geen volk na God se volk verander.

Om die rol van die doop in die reddingsproses te beskryf, verduidelik Petrus aan die hand van ‘n vergelyking met Noag (1 Pet 3:18-22): Dit (= die Noaggebeure) dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus (vers 21). Die doop is ‘n oorgangsrite waartydens die persoon van een bestaan/status na ‘n ander oorgaan. Op grond van die opstanding van Jesus word mense gered en die sigbare en rituele bevestiging daarvan is deur die doop. Die wat gedoop is, is dus ‘afgeskei’ van die wat nie gedoop is nie.

Ook Petrus gebruik dus verskeie beelde om fasette van die redding mee te beskryf. Dit gaan egter oor die verandering wat in ‘n persoon se lewe plaasvind sodat hy of sy nou kind van God in God se volk kan wees. Dit lei ‘n nuwe en opwindende lewe in wat op die ewige lewe met God gaan uitloop.

Hoewel daar groot verskeidenheid bestaan in die maniere waarop die verskillende skrywers oor redding skryf, is daar tog ook duidelike ooreenkomste. Al die skrywers lê klem op die probleem van die bose en sonde wat die mens van God weghou en wat oorkom moet word. Dit gebeur deur geloof in Jesus. Deur Jesus se optrede herstel God die verhouding tussen Hom en gelowige mense. Hy gee aan hulle nuwe identiteit. Nou kan hulle saam met God leef. Hulle is gered.

In die volgende artikel begin ons na verskeie aspekte van sonde kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...