Die Handelinge van die Apostels: Petrus se bevryding uit die tronk (Hand 12:6-16) – Francois Malan

image_pdfimage_print

12:6 Die nag voor Herodes se beplande verhoor slaap Petrus rustig, sonder enige planne of verwagting van ontsnapping, sy hande weerskante aan twee soldate vasgeketting. Die ander twee wagte staan buite die tronksel se deur. Hy word met die grootste strengheid bewaak (gewoonlik is vasgeketting aan een soldaat genoeg) en die gemeente bid met die grootste erns.

12:7 ‘En kyk!’ Hiermee vra Lukas die leser se volle aandag vir wat nou gaan gebeur: ’n Engel van die Here staan skielik daar (in die tronksel!); en ’n lig het in die selkamer geskyn. Hy het Petrus op sy sy geslaan om hom wakker te kry (in 12:23 word dieselfde woord patassō gebruik om Herodes neer te vel), hom opgewek en gesê: ‘Staan gou op!’ en die kettings het van sy hande afgeval. Waarskynlik nie van die soldate se hande nie. Met sy hande bevry kon Petrus die volgende opdragte van die engel uitvoer.

12:8 Die Engel sê toe vir hom: ‘Omgord en trek jou sandale aan!’ Die lang los kleed wat die mans gedra het, moes opgetrek en om die heupe vasgemaak word om vinnig te kan loop of te werk. Teen die koue van die nag het hulle in die onderkleed geslaap. Op die engel se bevel gooi hy ook sy bokleed om hom, ’n teken dat hy op pad is na buite toe,  en volg die engel uit die tronksel. Toe die Raad die apostels in die openbare tronk gegooi het, het ’n engel van die Here ook in die nag die tronkdeure oopgemaak en hulle uitgelei (Hand 5:18-19). Uit die verhoogde sekuriteit deur Agrippa, bevry die engel van die Here andermaal vir Petrus uit die tronksel. Jesus het voorspel dat sy dissipels gevange geneem en vervolg sal word, aan sinagoges oorgelewer en in tronke opgesluit sal word (Luk 21:12). Petrus het voor sy verloëning van Jesus nog verklaar ‘Here, ek is bereid om saam met U die tronk en die dood binne te gaan (Luk 22:33). Nou was hy al twee maal in die tronk en op pad na die dood. Telkens het die Here ingegryp.

12:9 Hy volg die engel uit die tronk, maar dink dat hy ’n visioen sien en kon nie dink dat dit regtig met hom aan die gebeur is nie. Lukas beskryf die gebeurtenis so, dat daar ’n sluier van geheimenis oor die geskiedenis bly. Petrus gehoorsaam die engel soos iemand in ’n waas en dinkIs dit ’n droom of werklikheid?’ Meesterlik word die oorgang uit  die slaap in die ervaring van die wonder, en Petrus se oorgang uit die belewenis van die wonder terug in die alledaagse  lewe, geteken.

12:10 Hulle is by die eerste soldaat op wag verby en by die tweede. Alvier die wagte is onbewus van wat gebeur. En toe hulle by die ysterhek kom wat die tronk van die buitewêreld afsluit, swaai die hek vanself (autómatos) oop. Die hek het waarskynlik vanself ook weer toegegaan en gesluit. Die engel begelei Petrus nog ’n straat verder om hom in die alledaagse wêreld terug te lei en verdwyn dan skielik.  Die engel se vertrek is net so wonderlik as sy skielike verskyning en die lig wat in Petrus se tronksel geskyn het. Niemand kom iets daarvan agter nie. Selfs Petrus dink hy is in ‘n droom. En dan moet Petrus verder self sy weg vind. 

12:11 Toe Petrus tot homself kom, praat hy met homself en spreek die beslissende belydenis uit: ‘Nou weet ek waarlik dat Christus, die Here, self ingegryp het om sy apostel van ’n gewisse dood te red;’ waarskynlik om hom op ’n ander plek te gebruik (12:17). Hy is gered uit die hand van Herodes Agrippa wat reeds vir Jakobus doodgemaak het, en gered uit die verwagting van die Joodse volk dat Herodes die Christene gaan uitroei. Dit is amper soos Daniël se belydenis: ‘My God het sy engel gestuur om die bekke van die leeus toe te sluit sodat hulle my niks kon aandoen nie (Dan 6:23). Ps 34:8 ‘Die engel van die Here vorm ’n laer rondom mense wat vir die HERE ontsag het, en Hy red hulle.’

12:12 Met die besef van die Here se ingrype om hom uit die tronk te red en hy nou in die stad Jerusalem is, gaan hy na die huis van Maria, die ma van Johannes wat Markus (sy Latynse naam) genoem word. So stel Lukas sy lesers bekend aan Markus, wat later weer in Handelinge ter sprake kom (12:25; 13:5,13; 15:37-39; vgl. ook Kol 4:10 Paulus verwelkom Markus, Barnabas se neef; 2 Tim 4:11 hy is baie nuttig vir Paulus se prediking; Flm 24 hy is Paulus se medewerker; 1 Petr 5:14 Petrus noem hom ‘my seun.’ Markus het waarskynlik die Evangelie van Markus geskryf om Petrus se woorde oor Jesus op te teken op versoek van die gemeente in Rome waar Petrus gesterf het. Moontlik is Markus die jongman van Markus 14:51-52 wat net in Markus voorkom).

Petrus het geweet waar hy die gemeente in die middel van die nag sou kry. Moontlik het hy die vorige keer wat hy in die nag uit die tronk bevry is, ook na dié huis gegaan, waar hulle ‘eie mense’ bymekaar was (Hand 4:23). Dit was moontlik in die groot bokamer van dié huis waar Jesus en sy dissipels die Pasga geëet en die nagmaal ingestel het, en dat Markus die man was wat die kruik water gedra het (Luk 22:10-12); ook waar Jesus aan die elf apostels na sy opstanding verskyn het (Luk 24:33; Hand 1:4,13). Tussen die baie Marias in die Nuwe Testament word hierdie Maria onderskei deur haar seun se naam te noem (waarskynlik was haar man al dood).

Petrus het waarskynlik geweet dat ’n huisgemeente se byeenkomste daar gehou word. Wat hy nie geweet het nie, was dat daar baie mense bymekaar was. Hulle was juis besig om die Here te smeek vir sy vrylating. Met die opmerking van Lukas dat hulle besig was om te bid (teenwoordige deelwoord wat voortgang van die gebed aandui), benadruk Lukas dat die Here hulle gebede reeds vervul het met Petrus se wonder-vrylating, terwyl hulle nog voortgaan om daarvoor te vra. 

12:13  Toe Petrus aan die deur van die ingangspoort van Maria se huis klop, kom die slavin (paidískê) met die algemene naam Rodé (rhodéa ‘roosknoppie/roos’) om die klop te beantwoord. Lukas skilder die teenstelling by die deur: buite staan die kloppende apostel Petrus en binne die luisterende deurwagsterslavin Rodé (met Jesus se verhoor was daar ook ’n slavindeurwagster by die hoëpriester se huis, Joh 18:17). 

12:14 Rodé herken Petrus se stem – sy was waarskynlik ’n Christen saam met haar huismense. Oorstelp van vreugde oor die wonder van Petrus se bevryding dink sy nie daaraan om die deur vir Petrus oop te maak nie, maar hardloop om te gaan uitblaker (apangéllō aankondig) dat Petrus voor die deur staan. Vir Lukas vertel die komiese toneeltjie die onbegryplike grootsheid van die wonder van God se onverwagte ingryping waarvoor juis gebid word. So het die vroue, wat die Sondagmôre na Jesus se graf toe is, die goeie nuus van sy opstanding aan die elf en die ander gaan vertel (apangéllō, Luk 24:9).

12:15 Die volgende toneel beskryf die biddende gemeente wat nie wil glo dat hulle gebede verhoor is nie. Hulle sê Rodé is mal (maínomai om heeltemal irrasioneel te dink, mal te wees), maar versekerd hou sy daarmee aan. Toe soek hulle ’n ander verklaring vir die wonder, dat dit Petrus se engel/hemelse boodskapper is? (Matt 18:10).

12:16 Petrus hou aan klop tot hulle die deur uiteindelik kom oopmaak, en toe hulle hom sien was hulle uitermate verbaas (die woord het Lukas al sewe keer in Handelinge gebruik vir mense se verwondering, twee oor Simon se toorkunste (Hand 8:9,11), vyf oor wat die Here doen (2:7 oor elkeen wat in sy eie taal hoor; 2:12 oor die groot dade van God; 8:13 Simon verstom oor die wonders deur die apostels; 9:21 verstom oor Saulus se ommekeer; 10:45 oor die Heilige Gees ook oor heidene uitgestort word).

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...