Die karakter van Jesus

image_pdfimage_print

 

“The thing which breaks your heart is perhaps the very thing God wishes to do through you to move God’s mission forward.”

—Andy Stanley

Die karakter van Jesus

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

As ons die evangelies lees, wat let ons op? Ons kry geen beskrywing van Jesus se voorkoms nie. Ons leef in ‘n tyd wat baie waarde heg aan beelde en voorkoms. Wat vir die skrywers belangrik was, was nie Jesus se voorkoms nie, maar sy karakter. En sy karakter was merkwaardig.

 

In Jesus kry ons die deugde en eienskappe wat ons gewoonlik as teenstrydig in dieselfde persoon sou beskou. Jesus kombineer majesteit met nederigheid; Hy is aan geregtigheid toewy maar kombineer dit met genade en barmhartigheid. Ons sien teerheid sonder enige teken van swakheid, nederigheid sonder enige onsekerheid. Hy was toeganklik; Hy het op die waarheid aangedring, maar dit gaan altyd met liefde gepaard; sy mag gaan met sensitiwiteit gepaard, sy integriteit sonder rigiditeit en sy passie sonder vooroordeel.

 

‘n Interessante kombinasie was Jesus se waarheid en liefde.  Hy verbaas almal deur saam met tollenaars te eet – dit ontstel diegene wat teen die Romeinse beheer van Israel was. Hy eet  met prostitute; Hy raak doelbewus en met teerheid aan melaatses wat Hom seremomieel onrein maak. Hy vergeef sy vyande wat Hom gekruisig het – en sy vriende wat Hom in sy benoudste uur verlaat het.

Jesus getuig te alle tye van die waarheid. Saggeus, die gehate tollenaar, was verbaas deur Jesus se liefde om hom te aanvaar. Hy los onmiddellik sy uitbuitery.

 

As Jesus met mense wat deur die gemeenskap as sedeloos beskou is, verkeer, doen Hy dit met respek en genade wat diegene wat teenwoordig was verbaas. Maar Hy wys vir die Samaritaanse vrou op die wrakke van haar baie mislukte verhoudings, en sê sy moet van die ewige water drink. Toe die mense ‘n vrou wat in owerspel betrap is na Hom toe bring, sê Jesus vir haar dat Hy haar nie veroordeel nie, maar voeg dadelik by:  Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie (Johannes 8). Hy is vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 

Jesus keer die dominante sosiale patroon van sy tyd op sy kop. Hy eet met uitgeworpenes. Hy was nie bang dat hulle Hom sal kontamineer nie; Hy verwag dat sy liefde hulle sal beïnvloed en verander. Dit is wat gereeld gebeur het.

 

image_pdfimage_print