Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (2)

image_pdfimage_print

There can be no peace between you and Christ while there is peace between you and sin. —C.H. Spurgeon

Die koninkryk van God: Historiese perspektiewe (2)

Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.

 Ons het in die vorige blog na enkele historiese perspektiewe gekyk. Ons moet na die geskiedenis kyk om die volle implikasies van die woorde – die koninkryk van God – te verstaan. Daar is twee dinge wat Ortodokse Christene glo:

 

  • Hulle glo in die fisiese en sigbare wederkoms van Christus.
  • Hulle glo in een of ander vorm van ‘n toekomstige, werklike koninkryk waarin al God se beloftes ten volle deur alle gelowiges geniet sal word. Daar sal ook ‘n toekomstige oordeel wees waartydens God se toorn oor die ongelowiges uitgeoefen sal word. Daar is skape en daar is bokke. Daar is mense aan wie die koninkryk behoort en mense aan wie die koninkryk nie behoort nie.

Hierdie siening kry ons in die vroeë belydenisskrifte en die verskillende kategismusse van die Hervorming.

 Die koninkryk van God moet ook ons denke en lewe vorm. Jesus het sy volgelinge herinner dat hulle nie van hierdie wêreld is nie. Ons word egter dikwels gekondisioneer deur agendas van die huidige kultuur. As die kerk vra wat die koninkryk van God is en hoe die koninkryk ons lewens moet beïnvloed – selfs bepaal hoe ons moet bid – vra ons die regte vrae.

 ‘n Soliede leer van die koninkryk van God bring vertroosting en versekering in tye van nood. Dit het versekering gebring vir die martelare tydens die periode van die kerkvaders. Daar is dinge waarvan ons seker is; daar is dinge wat ons moet glo en verkondig; daar is dinge wat meer vaag en ingewikkeld is waarvoor ons altyd na antwoorde sal soek. Daar is dinge wat ons nooit ten volle sal verstaan voor die einde nie. Dit alles lei ons om die God wie se koninkryk geen einde het nie, te aanbid.

 ‘n Korrekte leer van die koninkryk leer ons hoe om te bid. Op sy beurt lei dit ons hoe om te lewe. Jesus leer sy dissipels hoe om te bid: Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Ons moet versigtig wees om nie die koninkryk te soek – ‘n koninkryk soos ons dit definieer en soos ons dit verkies nie. Die versoeking om dit te doen is groot. Laat ons altyd dink aan hoe Jesus ons geleer het om te bid en te lewe: Laat u koninkryk kom. 

 Ons gaan volgende keer na die Koninkryk van God in die Nuwe Testament kyk.

image_pdfimage_print