Die koste van vriendskap

image_pdfimage_print

 

What will really save the lost world? Let me tell you: none of our complaints against it. —Jared Wilson

 

Die koste van vriendskap

Ons gebruik van die woord vriend is dikwels taamlik onverskillig. Deels is dit die gevolg van Facebook waar “like” gelyk is aan vriend. Hiermee verloor ons die betekenis van wat vriendskap in die Bybel werklik is. Vriendskap is meer as aangename geselskap. Miskien is ware vriendskap vandag skaars omdat dit baie kos om ‘n ware vriend te wees.

 

Kom ons kyk na die koste van vriendskap.

  1. Vriendskap kos jou persoonlike gemak

Die ware toets vir vriendskap kom as my vriend iets wil doen of iets nodig het wat my nie pas nie. Dan moet ek my persoonlike voorkeure eenkant plaas: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3). Miskien beleef hulle ‘n moeilike tyd; miskien het hulle ‘n guns wat ‘n las op my gaan plaas nodig. Vriendskap mag soms vir my persoonlik ongemaklik wees, maar as ek sê “iemand is my vriend” moet ek bereid wees om op te offer.

 

  1. Vriendskap kos tyd

Die mens is gemaak vir gemeenskap. God het gesê dat dit nie goed is vir die man om alleen te wees nie (Genesis 2:18). Dit was voor die sondeval – dit is vandag nog meer waar. Jy kan nie ‘n betekenisvolle vriendskap verwag as jy nie bereid is om tyd daarin te belê nie. Maar as twee of meer nie gereeld bymekaar is nie, is dit moeilik om mekaar te ken en te dien.

 

  1. Vriendskap kos intimiteit

Aan die begin sien ek net die goeie in my vriende. As dit al is wat ek sien, is ons vriendskap maar oppervlakkig Almal het ‘n donker kant. Sonde is ons gemeenskaplike vyand. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word. Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie (Prediker 4:9 – 12). Om dit reg te kry moet jy die hart van jou vriend ken en hy moet jou hart ken. Ek moet bereid wees om die goeie en die slegte te deel.

 

  1. Vriendskap kos gemak

Vriendskap is maklik as alles goed gaan. Maar wat gebeur as die storms kom? Wat doen ons as ons verskil? Ware vriendskap vergewe en soek herstel. Dit is sekerlik die moeilikste deel van vriendskap. As ek ‘n vriend aanvaar, aanvaar ek ook ‘n verantwoordelikheid. Ek weet nie watter laste ek sal moet dra of watter opofferings ek sal moet maak nie of watter hartseer saam met die vriendskap kom nie. As ons eers vriende is, moet ons getrou wees – maak nie saak wat die koste is nie.

 

  1. Vriendskap kos gebed

Vriende bid vir mekaar. Hoe kan ons die mense wat ons sê ons vriende is nie aan God in gebed opdra nie. Ware vriende bid nie net af en toe vir mekaar nie – hulle bid gereeld en lê mekaar se behoeftes voor God.

 

  1. Vriendskap kos liefde

Hoe meer tyd ek met vriende spandeer, hoe meer word hulle en my sondes geopenbaar. Ons moet mekaar aanhou liefhê al sien ons die lelike raak. As God ons roep om vriende te wees, roep Hy ons om mekaar lief te hê en mekaar te vergewe. Om dit te kan doen, het ons die krag van Jesus Chriistus nodig.

 

Jesus was ‘n vriend van sondaars. Hy het vir ons gesterf en het opgestaan sodat ons vriende van God kan wees. Net as ons na ons Verlosser kyk en van Hom leer, kan ons ware vriendskappe met ander aanknoop.

 

 

image_pdfimage_print