DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (6)

image_pdfimage_print

DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (6) – Jan van der Watt

Die verskynings van Jesus

Daar is baie verhale in die Nuwe Testament wat vertel van Jesus wat aan verskillende mense verskyn het (lees bv. 1 Kor 15:1-11). Op grond daarvan kan ‘n mens eintlik nie ontken dat Jesus aan mense verskyn het nie. Tog is daar mense wat dit probeer weg verklaar.

 

  1. Daar is mense wat beweer dat die mense aan wie Jesus verskyn het gehallusineer het. Nou, hallusinasie is iets wat individueel in ‘n mens se kop plaasvind – dit lê dus nie buite jou nie. Wat is die kans dat soveel verskillende mense op verskillende plekke en in een geval aan 500 mense gelyk presies dieselfde gehallusineer het. Eintlik is dit nie werklik eers te oorweeg nie.

 

  1. Ander gee toe dat die hallusinasieteorie te onwaarskynlik is. Hulle maak dit meer verfynd deur te sê die dissipels en al die ander het gerou en in die emosionele staat het hulle gesigte van Jesus, wat hulle baie gemis het, gesien. Die getuienis in die Evangelies maak dit baie onwaarskynlik, want daar word baie klem gelê op die feit dat Jesus aan meer as een persoon gelyk verskyn het en dat mense saam met Hom kon eet en aan Hom kon vat. Hoe vat ‘n mens aan ‘n “gesig” wat jy sien omdat jy hartseer is? Die teorie veroorsaak ook net te veel probleme om regtig ‘n goeie verklaring vir die verskynings te wees.

 

  • Getuienisse verskil

 

‘n Ander argument is dat die verskillende getuienisse oor die opstanding van Jesus heelwat verskil, kyk maar na die beskrywings in die verskillende Evangelies. Lukas vertel byvoorbeeld van die Emmausgangers (Luk 24:13-35) en Johannes van Tomas wat nie wou glo nie (Joh 20:24-29) en die verhale kom nie in die ander boeke voor nie. Wat is nou presies wat? Veronderstel Jesus het nie opgestaan nie en die dissipels wou ‘n storie opmaak, hoe sou die storie gelyk het? Sou hulle vir elkeen gesê het om sy eie storie op te maak? Nee, hulle sou probeer het om ‘n eenvormige storie die wêreld in te stuur. Tog is dit nie wat ons in die verhale van die Nuwe Testament kry nie. Hier lees ons verskillende verhale van verskillende mense. Die rede is waarskynlik omdat elkeen weet wat met hom of haar gebeur het en die verhaal wou hy of sy vertel, maak nie saak wat die ander ervaar het nie. So gesien bevestig die verskeidenheid van verhale eintlik juis die outensiteit van elke verhaal van Jesus se opstanding.

 

Histories gesien is die waarskynlikheid dus groter dat Jesus wel opgestaan het as dat dit alles sommer net stories is. Die mense wat die opstanding ontken het eintlik meer om te verduidelik as die mense wat die opstandig erken.

 

Dink nou na oor die volgende:

 

  • Wat sou jy sê beteken die opstanding vir jou? 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...