Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

image_pdfimage_print

 

“… hospitality asks for the creation of an empty space, where the guests may find their own souls.” ~ Henri J.M. Nouwen (1932 – 1996)

 

Die Prediker van die kruis (1 Korintiërs 2:1 – 5).

Paulus se eie voorbeeld moes vir die Korintiërs gewaarsku het dat hulle ‘n baie gevaarlike pad geloop het. Hy het hom doelbewus gedistansieer van die retoriese opgeblasenheid van destyds: Toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie (2:1). Baie intellektuele bewegings plaas baie klem op retoriek. Filosowe is geloof vir  hulle aanbieding – net soveel as vir die inhoud. Hierdie openbare sprekers is geloof en gevolg as gevolg van hulle vermoë om in die openbaar oortuigend te praat. Sprekers wat nie aan hulle standaarde kon voldoen nie, is as minderwaardig beskou.

Wat is die beginsels wat Paulus hier na vore bring?

  • Verkondig die getuienis oor God

Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig (2:1). Vroeër het ons gelees: Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld is, dié te red wat glo (1:21). Die inhoud van Paulus se boodskap is die getuienis oor God – dit beteken dit wat God in Jesus Christus gedoen het. Paulus verkondig hierdie boodskap – dit beteken nie net Sondae van die preekstoel verkondig nie. Verkondiging is die aanbieding van God se evangelie waardeur mense Hom leer ken. Die inhoud van hierdie boodskap is ononderhandelbaar en mag nie afgewater word nie.

 

  • Fokus op Jesus Christus as die gekruisigde

Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (2:2). Alles wat Paulus gedoen en geleer het, is aan die kruis verbind. Dit bepaal Paulus se prioriteite, sy leefwyse en sy bedieningstyl. Dit beteken hy verwerp ‘n bedieningstyl wat ontwerp is om te beïndruk en applous te ontlok. Maar wat beteken hierdie vers vandag? Ons is so prestasie-geörienteerd dat ons nie eers besef hoe gekompromitteerd ons is nie. Die vertoning raak vir ons belangrik. Het ons nie toegelaat dat allerhande bykomstighede die inhoud verplaas nie?

 

  • Moenie dat swakheid, angs en huiwering jou oorweldig nie

Dit is juis onder sulke omstandighede dat God veral sy mag tentoonstel. So lank as wat mense  beïndruk is met jou sterk persoonlikheid en indrukwekkende gawes is daar min ruimte om hulle met die gekruisigde Verlosser te beïndruk. Paulus was bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering het ek na julle toe gekom (2:3). Hy het besef dat God se krag veral in ons swakheid na vore kom. Hy was bang en swak; hy het gevoel dat hy oorweldig word deur die omvang van sy taak. Hy het egter nie op sy swakheid gefokus nie. Hy kon skryf: Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:10).

 

  • Moenie mense manipuleer nie

Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (2:4). Paulus oortuig mense sonder om hulle te manipuleer; om mense met geleerdheid en welsprekendheid te oortuig is goed mits dit nie gepaard gaan met afwatering van die evangelie nie. Dit is die waarheid en krag van die evangelie wat mense moet oortuig en nie geleerdheid of welsprekendheid nie.

 

  • Besef dat ‘n kruis-gesentreerde bediening gekenmerk word deur die krag van die Gees en bevestig word deur lewens wat verander het

Paulus se boodskap gaan gepaard met die kragtige werking van die Gees. Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.  Waar daardie krag teenwoordig is, weet mense dit.

 

Die boodskap van die kruis breek die afgode van die kerk: selfbevordering, die liefde vir meer professionalisme, ons verslawing aan goed gedefinieerde metodes. Bybelse verkondiging beklemtoon die evangelie en verhoog die gekruisigde Christus.

 

 

image_pdfimage_print