Die Psalms: Inleiding (3)

image_pdfimage_print

 

Patience is the companion of wisdom – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (3)

Die psalms is van die merkwaardigste geskrifte wat vir ons behoue gebly het. Die psalms was sekerlik voltooi toe die Makkabese tyd aangebreek het (ongeveer 150 vC). Tog bly dit die geliefde liedboek van twee  van die wêreldgodsdiente. Die vorm toon net soveel verskeidenheid as sy inhoud.

 

Wat die psalms egter aan elke geslag geliefd gemaak het en mense verwonderd laat, is die oneindige breedte van godsdiensondervinding, van ‘n vroom gevoel, van aspirasie, kla, stry, protesteer en spyt. Die psalms weerspieël die mens se siel in al sy wisselvalligheid – geloof en ongeloof, vreugde en verwardheid, opstand en onderdanigheid. Die psalms doen dit met absolute eerlikheid, vryheid en moedigheid. As individue of gemeentes:

  • hulle sondes bely,
  • kla oor God se swak behandeling (of stilswye) van die mens,
  • vra dat hulle vyande gestraf moet word,
  • pleit vir ‘n langer lewe, genesing, verlossing of vertroosting,
  • ontsteld is oor die lewe mense onregverdig behandel,
  • protesteer oor God se geheimsinnige weë, sy toorn of sy gebrek aan optrede,
  • uitbars in vreugde en lof en danksegging en getuig van God se trou, en
  • skryf oor humor of seksuele liefde.

 

Om die psalmis se ondervinding te waardeer, moet ons deel dat niks hom verbaas het nie, dat hy uiters realisties was en dat hy die versoeking weerstaan het om harde uitdrukkings te versag in niksseggende alledaagsheidjies. Hy het nie sy verlange of angs probeer wegsteek nie. Soms is die psalmis ongeduldig: Hoe lank nog! Hulle is bereid om met God te argumenteer. Soms is hulle ontsteld wat ons dikwels sien as selfregverdiging of persoonlike wraak. Soms aanvaar die psalmis dat sy vyande ook God se vyande is. Soms word gevra dat die goddeloses in hulle eie strikke gevang word. Hulle vra dat geregtigheid moet geskied. Hulle is egter oortuig dat God hulle sal regverdig en sy eie mense sal verlos.

 

Dikwels word die armes en die behoeftiges gesien as diegene wat werklik regverdig is; dié wat ryk en magtig is, word as ontrou en boos beskryf. Hierdie gesindheid word tot ‘n mate geregverdig deur die toestande na die ballingskap. Toe was mense sonder gewete wat met die vyand saamgewerk het, voorspoedig en die wat die vreemde invloede teengestaan het, was arm en is wreed vervolg.

 

Ons moet egter toelaat dat elke psalm op sy eie manier met ons praat. Soms moet ons ons voorberei op aanbiddingsvorme wat vir ons vreemd is. Ons moet gewoond raak aan ‘n geloof wat berus op ondervindings – die eksodus – en die skoonheid van die natuur en op fundamentele idees – skepping, verkiesing, nasionale eer. Dit verskil van menswording, Golgota, die opstanding, pinkster en ewige vryspraak.

 

Soms word verwys na God se oorwinning oor die oermagte van chaos – soms selfs in ‘n taal wat herinner aan die Babiloniese skeppingsmites. Ons ontmoet ook die invloedryke wysheidskole in Judaïsme. Vir hulle was die vrees vir God die fondament van ‘n wyse lewe. Die enigste intelligente optrede van rasionele wesens was om ten volle bewus te wees dat jy ‘n skepsel is – jy moet te alle tye jou Skepper met ontsag onthou.

 

Volgens tradisie, deels toegeskryf aan Dawid en deels aan Hiskia, (1 Kron 15:16 – 24; 16:37 – 42; Hoofstuk 25; en 2 Kron 29:25 – 30; en Esra 3:10 – 11) het die sisteem van aanbidding tydens die monargie begin. Dit is verder ontwikkel tydens die tweede tempel periode. Leviete het musiekinstrumente (trompette, harpe, liere en simbale) gespeel. Kenaja was ‘n Leviet wat in musiek onderleg was. Hy het die sang gelei. Opgeleide musici (288 is getal) het beurtelings gedien. Ons lees van priesters, die gehoor en kore wat reageer het op die sang. Ons weet ook van gereelde feeste, geleenthede van nasionale boetedoening of danksegging, die wyding van die tempel en ander wat almal weerklank vind in die psalms.

 

Die psalms is die hart van die kerk, die gesin en die gelowige. Wie die psalms met oorgawe en toewyding sing en lees en wie dit aanvaar, ontmoet vir God.

 

image_pdfimage_print