Die skrywers van die Psalms

image_pdfimage_print

 

All the good things that Christ bestows on his saints come to ’em as freely as water runs down in a river.” Jonathan Edwards

 

Die skrywers van die Psalms

Die oorsprong van die psalms is die ou gedigte van die Jode. ‘n Goeie voorbeeld van hierdie ou gedigte is die lied van Moses (Deuteronomium 32) en die oorwinningslied van Debora en Barak (Rigters 5). Die Kanaäniete het soortgelyke gedigte geskryf. Dit het ontstaan tussen die tyd van Moses en die tyd van die Babiloniese ballingskap.

 

Die naam wat algemeen gekoppel word aan die psalms is Dawid. Aan Dawid word 73 psalms toegeskryf, Asaf twaalf, die Koragiete nege, Salomo twee en aan Heman (saam met die Koragiete), Etan en Moses een elk. Daar is 51 anonieme psalms. Volgens die Nuwe Testament word twee van hierdie psalms (Psalm 2 en 95) ook aan Dawid toegeskryf (Handelinge 4:25 en Hebreërs 4:7).

 

Dawid se invloed was ongetwyfeld groot, maar hy het nie persoonlik al die psalms geskryf nie. Die opskrifte is eers eeue later bygevoeg en was nie deel van die oorspronklike psalms nie. Slegs ongeveer die helfte meld van Dawid. Wat beteken dit? Die voorvoegsel van (le in Hebreeus) kan verskillende dinge beteken:

  • Geskryf deur Dawid. Sekere psalms is ongetwyfeld deur Dawid geskryf.
  • Geskryf vir Dawid. Sekere psalms is deur ander ter ere van Dawid geskryf.
  • Geskryf in die styl van Dawid. Dawid het die patroon neergelê en ander het dit nagevolg.
  • Baie breekware is in Palestina opgegrawe met die woorde lemelek daarop – behoort aan die koning/koninklike eiendom. Van Dawid mag dus ook beteken in opdrag van of goedgekeur deur Dawid.
  • Dawid beteken nie net die groot koning met daardie naam nie. Openbare aanbidding in die tyd van Dawid was nog nie goed ontwikkel nie. Ons moet onthou die tempel is eers na die tyd van Dawid gebou. Dit was Salomo wat die kore en musiek wat ons verbind met die tempel gevestig het. In 2 Samuel 7 lees ons dat God, deur die profeet Natan, nie net vir Dawid nie, maar ook al sy afstammelinge, geroep het tot daardie spesiale verhouding met God. Eeue later het die heersende koning nog soms bekend gestaan as “Dawid, seun van God”. Van Dawid moet hierdie gebruik ook in ag neem.

 

Maar hoekom word Dawid se naam so dikwels aan die psalms gekoppel?

  • Dit word algemeen aanvaar dat Dawid die outeur was van die klaaglied oor Saul en Jonatan (2 Samuel 1:19 – 27). Hierin openbaar hy duidelik ‘n digterlike gees. Ons kry dieselfde gees in die sogenaamde laaste woorde van Dawid (2 Samuel 23:1 – 7). Dawid was ‘n digter.
  • In Saul se koninklike paleis was Dawid bekend as ‘n goeie musikant. Toe die boosaardige gees Saul beetgepak het, het sy amptenare aanbeveel dat hulle iemand moet kry wat die lier kan speel. Saul sê: Kyk maar vir my uit na ‘n man wat goed kan speel (1 Samuel 16:17). Hulle kry toe vir Dawid. Amos sê dat Dawid musiekinstrumente kon uitdink (6:5). Dit is veral die skrywer van die Kronieke-boeke wat die bydrae wat Dawid tot die musikale aspekte van die Israeliete se aanbidding gemaak het, beklemtoon.
  • Die vroeë monargie (Dawid was slegs die tweede koning van Israel)  was ‘n tyd waartydens nasionalisme bevorder is. Dit was ook ‘n tyd van voorspoed en kreatiwiteit – ook wat die kunste betref. Dawid staan sentraal in hierdie beweging.
  • Daar is ‘n ooreenkoms tussen Dawid se lewe (soos beskryf in die historiese boeke) en sommige psalms. Dink maar aan die verhaal van Dawid, Batseba en Urija in 2 Samuel 11:1 – 12:25 en Psalm 51.
  • In 2 Samuel 23:1 word na Dawid as die gevierde in die liedere van Israel Die King James Version praat van the sweet psalmist of Israel.

 

Dat Dawid self sekere van die psalms geskryf het, is seker, maar dit is onwaarskynlik dat hy al die psalms wat na hom verwys, geskryf het.

 

image_pdfimage_print