Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29)

image_pdfimage_print

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:22-29) – Francois Malan

4:22 Met hulle vyf-boek Bybel het die Samaritane nie die volle openbaring van God nie, al verwag hulle ook ‘n profeet soos Moses (Deutr. 18:15,18). Hulle aanbid ‘wat’ hulle nie ken nie, hulle ken nie ‘n persoonlike verhouding met God nie. Vir baie Jode het hulle God ook ‘n ‘wat’ geword en nie ‘n ‘Wie’ nie. Dit is juis die Profete-boeke en Geskrifte van die Ou Testament wat die verwagting van ‘n verlossing verkondig; ‘n Verlosser vanuit die Jode, wat God uitgekies het, waaruit sy Verlosser sou kom  (vgl. Jes.2:2-5 se verheffing van Sion bo alle berge, waar alle volke na die Here sal kom luister, Hom sal dien, en in vrede begin lewe; die vervulling van dié profesie is met Jesus se koms begin, Lk 2:32, en sal voltooi word wanneer alles aan Hom onderwerp is (1 Kor 15:25).

4:23 Nie op Gerisim of in Jerusalem nie; die nuwe tyd het aangebreek met Jesus se menswording, soos reeds met die tempelreiniging aangekondig is. Jesus beweeg verder as die vrou se persoonlike en huislike tragiek, haar skuld en haar skuiling agter die godsdiens. Ware aanbidders volg die wil van die Vader. Hulle aanbid Hom deur  Gees en Waarheid: deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om hulle te lei; en deur die Waarheid – in 14:6 sê Jesus ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.’

 

4:24 God is Gees – nie aan ‘n plek verbonde nie, maar oral teenwoordig deur die Heilige Gees. Die Gees leer ons hoe om God te aanbid; die Gees is verbonde aan die Waarheid, wat vir ons die weg na God open deur sy liefdesoffer aan die kruis (14:26; 15:26; 16:14).

 

4:25 Volgens Deutr.18:18 verwag die Samaritane ‘n profeet soos Moses. Hulle noem Hom  Ta’eb (‘bekeerder’), wat die vrou met Messias bedoel (Christus in Grieks). Maar sy het nie Jesus se woorde in vers 23 gehoor nie: ‘daar kom ‘n tyd, en dit is nou’.

 

4:26  Jesus sê ‘Ek is, wat met jou praat’. Dit is die eerste keer in Johannes dat Jesus die uitdrukking ‘Ek, Ek is’ gebruik (vgl. 6:20; 8:24,28,58; 13:19). Dit herinner aan die selfbekendstelling van die Here aan Moses by die braambos (Eks 3:14: ‘Ek is’, Jaweh, HERE vgl. Jes 52:6). Hy is voortdurend aktief teenwoordig. In die res van Johannes word ‘Ek is’ uitgebrei, bv. met Ek is die goeie herder (10:14), die brood van die lewe (6:35), die ware wynstok (15:15), die weg, die waarheid en die lewe (14:6), die lig (9:5), ens.

            Vir die vrou is Jesus se selfbekendstelling ‘n bevestiging: Ek is die Messias wat julle nog verwag, jy hoef nie meer te wag nie! Dit is die hoogtepunt van die gesprek – Jesus se selfopenbaring aan ‘n Samaritaanse vrou, as teken van Jesus se sending om God se verlossing vir alle volke te verkondig, ook vir vroue, en hier ‘n vrou met ‘n slegte reputasie. ‘n Nuwe era vir God se verhouding met die mense het aangebreek met God se liefdesgawe van sy enigste Seun vir die wêreld om die ewige lewe saam met God te verkry. 

 

4:27 Die dissipels kom terug van die dorp waar hulle gaan kos koop het, daag by die fontein op, juis toe die gesprek sy hoogtepunt bereik het. Hulle verwonder hulle dat Jesus met ‘n vrou praat. Vir die Jode was dit verbied. Die Rabbi’s het later nog geskryf: ‘n Man moet nie met ‘n vrou op straat praat nie, nie eers met sy eie vrou nie, en vir seker nie met iemand anders se vrou nie, vanweë die geskinder van mense. Dit was selfs verbied om ‘n vrou op straat te groet. En hier kom Jesus en die eerste persoon aan wie Hy Homself as die Messias openbaar, is ‘n vrou. Die dissipels vra egter nie vrae oor Jesus se afwyking van die gedragspatrone van sy tyd nie. Dit sou van wantroue getuig en hulle het te veel eerbied vir Hom. Later sou hulle begryp dat Jesus vroue kom bevry uit hulle ondergeskikte posisie in die samelewing, en dat Hy van hierdie vrou  sy getuie gemaak het.

 

4:28,29 Met groot geesdrif los die vrou haar waterkruik net daar by die put. Sy het iets gevind van baie meer waarde as die water wat sy gaan haal het, nl. die blye boodskap. Sy haas haar daarvandaan na die stad, en gaan  vertel van haar heel persoonlike ondervinding, van Jesus wat haar sondige lewe en verlede oopgevlek het, en dat sy daardeur bevryding gevind het by die verwagte Redder Messias. Die Samaritane het die Ta’eb, die hersteller en openbaarder van die waarheid, verwag. Sy nooi hulle uit: kom kyk! Die wind waai waar hy wil…maar jy weet nie waarheen hy gaan nie; so onverklaarbaar is die lewensvernuwing deur die Heilige Gees.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...