Die verskillende Afrikaanse Kerke

image_pdfimage_print

Die verskillende Afrikaanse Kerke – Kobus Kok

Herman vra:

Hoe verskil die NG,Geref,Hervormde en APK van mekaar? Waarmee verskil die APK van die res?

Antwoord:

Dr Johan van der Merwe antwoord:

Die Nederduitse  Gereformeerde Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika , Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk: Ooreenkomste en verskille.

Al vier hierdie Afrikaanse kerke vind hulle wortels terug in Reformasie van die 16e eeu en staan  daarom bekend as Gereformeerde kerke. Met die koms van Jan Van Riebeeck in 1652, is die eerste kerk van Gereformeerde oorsprong aan die Kaap gevestig. Die eerste gemeente is in 1665 amptelik gestig met die koms van die eerste predikant, ds. Johan van Arkel.  Daar word algemeen aanvaar dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk die kerk is wat deur van Riebeeck hier geplant is alhoewel hierdie standpunt deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika betwis word.  Na die Groot trek van 1834-35 het verdeeldheid egter vinnig op Transvaalse bodem onstaan.  In 1853 is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika onder leiding van ds. Dirk van der Hoff gestig.  Politieke vrese en ʼn meer liberaal teologiese benadering was die vernaamste redes vir die ontstaan van die kerk. Slegs ʼn paar jaar later is die  Gereformeerde Kerk in Suid Afrika onder leiding van ds. Dirk Postma gestig in 1859.  Weerstand teen die “Evangelische gezangen” was die vernaamste rede vir hierdie wegbreek aksie.  Vir die volgende bykans 130 jaar sou hierdie drie Afrikaanse Gereformeerde Kerke ʼn groot rol in die geskiedenis van Suid Afrika speel.  Al drie die kerke het die apartheidsbeleid van die Nasionale Party Bybels fundeer en was kerke uitsluitlik vir wit Afrikaners, sogenaamde volkskerke.  In 1986 het die Nederduitse Gereformeerde Kerk ʼn nuwe beleidsdokument “Kerk en Samelewing” aanvaar.  Hierdie dokument het die beleid van apartheid veroordeel en kerklidmaatskap oopgestel vir mense van alle rasse.  In reaksie op die verandering van die beleid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, het meer as 100 000 lidmate van die kerk weggebreek om in 1987 die Afrikaanse Protestantse Kerk te stig.  Alhoewel daar ook teologiese verskille tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk bestaan, was die hoof rede vir die stigting van die kerk polities van aard.

ʼn Voëlvlug oor die ontstaansgeskiedenis van die 4 kerke toon aan dat daar veel meer ooreenkomste as verskille tussen die verskillende kerke is.

Die volgende ooreenkomste is belangrik:

  • Al vier die kerke gryp terug na dieselfde Gereformeerde wortels en onderskryf die drie Gereformeerde Belydenisskrifte naamlik: die Dordtse Leerreëls, die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • Al vier die kerke se voertaal is Afrikaans.
  • Al vier die kerke bestaan grotendeels uit wit Afrikaanssprekende lidmate.
  • Al vier die kerke is gegrond op ʼn Sinodaal Presbiteriaanse vorm van kerkregering waar die ampte van leraar, ouderling en diaken onderskei word.

Die volgende verskille kan getipeer word:

  • Op die terrein van die teologie vertoon die Nederduitse Gereformeerde Kerk baie duideliker evangeliese tendense as die ander drie Afrikaanse kerke. Dit is grootliks te wyte aan die invloed van die Skotse predikante en met name Andrew en John Murray wat ʼn sterk piëtistiese invloed op die Nederduitse Gereformeerde Kerk uitgeoefen het. Die groot herlewings wat in 1860 – 1861 in die Kaap plaasgevind het, staan in die teken hiervan. Dit is waarom die sogenaamde “Pinksterbidure” slegs in die Nederduitse Gereformeerde Kerk voorkom.
  • In aansluiting by die teologiese verskille verskil die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika van die ander drie Afrikaanse kerke omdat daar steeds slegs psalms en sogenaamde “skrifberymings” in die kerk gesing word terwyl Gesange saam met die Psalms in die ander kerke gesing word.
  • Politiek het deur die jare ʼn groot rol in al vier die Afrikaanse kerke gespeel. As die grootse van die vier kerke was die Nederduitse Gereformeerde Kerk se wegdraai van die Bybelse ondersteuning van Apartheid in 1986 baie meer dramaties en het dit direk aanleiding gegee tot die ontstaan van die Afrikaanse Protestantse kerk. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika sowel as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het reeds die Bybelse fundering van Apartheid verwerp en met die gedagte van die kerk as ʼn kerk uitsluitlik vir die Afrikanervolk gebreek. Die Afrikaanse Protestantse Kerk beskou haarself egter steeds as ʼn volkskerk vir slegs blanke Afrikaners.
  • ʼn Laaste beduidende verskil tussen die kerke wentel om die hele saak van die vrou in die amp. In die Nederduitse Gereformeerde Kerk en in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika word vroue tot die amp van predikante, ouderlinge en diakens toegelaat. Die Gereformeerde Kerk in Suid Afrika en die Afrikaanse Protestantse Kerk laat nie vroue in die amp toe nie.

Alhoewel daar in veel meer detail na die onstaan van die vier kerke gekyk kan word en die verskille fyner genuanseer kan word, vertel bogenoemde kursories die tragiese verhaal van kerklike verdeeldheid en verskeurdheid.  Persoonlike voorkeur en vooroordeel sowel as politieke verskille,  veel meer as teologiese verskille,   het waarskynlik ʼn groot rol gespeel in die onstaan van  vier Afrikaanse  kerke.  Of die verskeurdheid ooit weer herstel sal net die tyd en die omstandighede in Suid Afrika leer.

 

Skrywer: Dr Johan van der Merwe

image_pdfimage_print

You may also like...