DIE VLEUELS VAN GEBED (19)

image_pdfimage_print

DIE VLEUELS VAN GEBED (19) Jan van der Watt

Here, ek wil U iets VIR ANDER MENSE vra.

Die oomblik dat jy ‘n gelowige word, word jy deel van ‘God se span’, sy familie. En die oomblik dat jy deel van sy familie word, word jy opgeneem in die netwerk van sy belange. Dit impliseer voorbidding vir mekaar. Voorbidding is in die eerste plek dus vir mede-gelowiges.

 

Die hemelse posdiens is tot jou beskikking!

Die hart van voorbidding lê dus daarin dat ons aan Jesus behoort. Ons is almal deel van sy koninkryk op aarde. Daarmee saam is ons van mekaar afhanklik soos soldate in ‘n oorlog van mekaar afhanklik is, of die lede van ‘n rugbyspan op mekaar peil trek. Nou het die Here dit vir ons deur gebed moontlik gemaak om mekaar te ondersteun en aan mekaar goddelike ‘geskenke’ te stuur. Kyk hoe stel Paulus dit:

Dit is God wat ons uit groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red…

Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid.

So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring,

en dan sal baie Hom vir ons dank.

(2 Kor 1:10-11)

Hoewel Paulus en die Korintiërs ver van mekaar af was, was dit gebed wat die onsigbare brug tussen hulle gebou het. Deur gebed kon hulle die seënryk gawes van God aan Paulus laat aflewer (vgl. ook Rom 15:30; Ef 6:18-19; Kol 4:3-4). Dit is dus nie net asof hulle maar net gebid het nie. Nee, daar het iets gebeur. Hulle gebed in Korinte het vir Paulus, sê in Efese, die sluise van seën laat oopgaan. ‘n Mens sou kon sê dat God die hemelse posdiens tot ons beskikking stel om gawes aan mekaar te stuur; dit maak nie hoe ver ons van mekaar af is nie!

Wat ‘n wonderlike gawe is dit nie wat God aan ons gegee het nie! Jou kind of ma kan ver van jou af wees, maar nooit te ver om deur die seën van gebed te bereik nie! Of jou kind wat in die teater alleen tussen al die pype en dokters lê… gebed bind jou hart daar aan hom of haar vas.

Gebed vir andere en tot hulle voordeel is nie alleen ‘n wonderlike voorreg nie, maar ook ‘n verantwoordelikheid. God wil ons saam gebruik om sy koninkryk te laat kom. ‘n Belangrike deel van ons wapentuig om dit reg te kry is juis gebed. Daarom lees ons so baie in die Nuwe Testament dat gelowiges vir mekaar bid, soos die profete in die Ou Testament vir die gelowiges gebid het (Num 11:2, 21:7; Fil 1:4; Kol 1:3,9, 4:12; 1 Tes 1:2; File 4). Daarmee erken ons ons betrokkenheid by God en God se betrokkenheid by ons. God staan in die sentrum. By Hom moet ons gaan rapporteer, maar moet ons ook voorrade vir ons almal gaan aanvra vir ons stryd in die wêreld. Vir onsself moet ons so bid, maar ook vir ander. Uit die verse wat hierbo genoem is, sien ons telkens hoe gelowiges vir ander gelowiges se geestelike welsyn bid.

In Jak 5:14 kry ons waarskynlik een van die konkreetste oproepe om vir mekaar te bid. Hier kan ons reeds sien watter belangrike rol voorbidding in die vroeë kerk gespeel het. Oor alledaagse sake soos siekte moes gelowiges saam bid. Maar dit was nie al nie. Johannes vra die gemeente om te bid as een van hulle iets verkeerd doen. Hulle moet bid vir daardie persoon se redding (1 Joh 5:16). So naby aan mekaar moet gebed gelowiges bring.

Maak gebruik van die hemelse posdiens. Jou gebede kan ‘n verskil vir ander maak.


Die son van jou gebede moet ook oor jou vyande skyn!

Ongetwyfeld lê die klem in die Nuwe Testament op voorbidding vir mede-gelowiges. Maar dit beteken nie dat ons net voorbidding vir mede-gelowiges mag doen nie! Ook vir ons vyande moet ons bid! Daarbenewens moet ons ook ‘n spesiale woord vir die mense wat ‘regeer’ doen, dit is nou almal van die dorpsraad tot by die president. In gebed maak dit nie soveel saak of hulle vir of teen ons is nie. Daarom skryf Paulus:

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek

met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,

vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen,

sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei

in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid.

(1 Tim 2:1-2)

Uiteindelik sê Paulus in 1 Tim 2:3-7 dat die Here tog wil hê dat almal gered moet word. Daarvoor moet daar ook gebid word. Die gelowige moet dus nie in haat en afkeuring teenoor die ongelowiges staan nie! Vir hom of haar is en bly die ongelowige ‘n potensiële gelowige. So moet die gelowige ook die ongelowige in gebed aan die Here opdra. Per slot van sake is dit die Here wat die son oor die goeie en die slegte laat opkom. Hy gee vir hulle lewensruimte. Daarom is dit nie te veel gevra vir die gelowige om ook die son van sy gebed oor die ongelowige te laat skyn nie (Mat 5:44-45; vgl. ook Luk 23:34).


As jy bid, bíd dan regtig!

Dit is goed en wel om met die Here oor dinge te praat. Wat ‘n mens egter moet besef , is dat gebede verantwoordelikhede bring. Jy kan nie vir die Here vra om jou buurman te red as jy voortgaan om in kwaai vriendskap met hom te leef nie. Jy is immers die een deur wie God aan jou buurman wil ‘verskyn’. Onthou, jou saak is God se saak en God se saak is jou saak. By wyse van spreke kan jy nie maar alles vir God los nie. As jy vir God vra dat sy koninkryk moet kom, vra jy eintlik ook dat dit deur jóú kom. Sy wil wat moet geskied moet deur jou geskied. Net so kan jy nie vir vrede bid, as jy nie ‘n vredemaker is nie.

As jy bid dat die Here jou huwelik moet beter maak, moet jy bereid wees om aan daardie huwelik te werk. Dit beteken dikwels, ja gewoonlik, dat jy die minste moet wees. Jy kan nie bid dat God jou probleme by die werk moet oplos as jy oneerlik bly of nie bereid is om aan ‘n oplossing te werk nie. As jy bid, moet jy regtig bid. Dit beteken dat jy voortdurend sal bid, met ander woorde, dat jy met jou hele lewe jou gebede aan God waar sal wil maak.


Nou kan ons van die Here vra wat ons wil!

Kom ons raak prakties. Kom ons vra nou van die Here…

Soos met al die voorafgaande elemente van gebed is dit hier net so belangrik eers na te dink. Dink na oor wat presies in jou gemoed aangaan. Wat wil jy met die Here bespreek? Wat pla jou? Wat wil jy vir Hom vertel? Onthou jy, toe ons met gebed begin het, het ons net doodstil gesit en dink. Toe het daar verskillende dinge in ons gedagtes opgekom. Hierdie dinge wat so spontaan in ons gedagtes opgekom het, is sekerlik belangrik om met die Here te bespreek.


* Maak nou ‘n lysie van dinge wat jy met God sal wil bespreek. Dit kan dinge wees

wat jou pla, sake waaroor jy raad wil vra, iets wat jy met God

wil bespreek…………………… ……………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

* Praat nou met God oor elkeen van hierdie sake. Verduidelik aan Hom hoe jy

daaroor voel, hoe jy oplossings vir die probleme sien, wat jy nie verstaan nie en

so aan. Beplan ook aktief saam met God jou lewe, met ander woorde wat jy gaan

doen en hoe jy dit gaan doen…………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

* Dink ook veral aan mense wat jou voorbidding nodig het. Skryf hulle behoeftes

neer en bespreek dit met jou hemelse Vader. Vra Hom ook hoe jy daarby

betrokke kan wees om sy koninkryk vir daardie mense te laat kom…………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

* Kyk ook sommer watter gebede van gister en eergister God verhoor het…………….

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………………………………………..


Skrywer:  Prof Jan van der Watt

image_pdfimage_print

You may also like...