Ek dank my God

image_pdfimage_print

Iemand vra vir Biskop B. F. Westcott of hy verlos is. I am saved, I am being saved, I will be saved.

 Ek dank my God

Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink (Filippense 1:4)

Paulus dank God die Vader al sit hy in die tronk vasgeketting aan ‘n Romeinse wag. Daar is drie lesse wat ons uit Paulus se gebed en danksegging leer:

  • Hy doen dit in die openbaar

Soos meeste Jode het Paulus waarskynlik hardop gebid. [Matteus 6:6 het te doen met die plek van aanbidding en nie of jy hardop of sag moet bid nie. Toe Hanna sag gebid het, het God haar gehoor, maar Eli het gedink dat sy dronk was.]

Enige persoon wat saam met Paulus in die kamer was – soos sy wag – sou die boodskap van die evangelie in sy gebed gehoor het. Sy gebed moes snaaks geklink het vir sy nie-Joodse wagte. Paulus se opmerkings oor Jesus Christus – ‘n Jood wat aan die kruis gesterf het en nou die Verlosser van die wêreld is – sou hulle glad nie verstaan nie. Maar Paulus se gebede gee uitdrukking aan sy oortuigings. As ons hardop bid, plaas ons op rekord dit wat ons oor God se mag en liefde glo. Mense kan ons ook verantwoordelik hou vir ons woorde.

  • Paulus is dankbaar vir spesifieke dinge

Paulus fokus op God se trou. Maar hy bid ook vir die Filippense: hy is dankbaar dat hulle aan die verkondiging van die evangelie deelneem; dat hulle liefde, begrip en aanvoeling sal toeneem; dat hulle goeie vrugte dra. In die hele brief is Paulus dankbaar dat niks God se genade kan neutraliseer nie. Hy is ook dankbaar vir hulle vriendskap, want in moeilike tye leer jy jou vriende ken. Paulus sit vasgeketting aan ‘n Romeinse wag, maar die Filippense staan by hom – hulle deel in sy skande. Hulle gee vir Paulus geld, want hulle is aan sy bediening toegewy. Hulle glo dat God hulle geroep het om vir Paulus te ondersteun. Paulus spesifiseer die dinge waarvoor hy dankbaar is – lees net Filippense 1:3 – 11).

  • Paulus is dankbaar vir toekomstige hoop

Al sit hy as gevangene in Rome is Paulus dankbaar, want hy weet hoe die storie gaan eindig. Nou is hy volledig toegewy aan die gemeente in Filippi, maar hy weet hy is verseker van ‘n toekomstige heerlikheid in Jesus Christus. Hy besef hy moet deur sy huidige probleme en eise kom. Wat hy nou doen, gaan ‘n impak op sy toekoms hê. Ons moet die besluite wat ons nou neem versigtig oorweeg. Dit is nie altyd maklik nie, want ons kom in die versoeking om ons persoonlike wense eerste te plaas. Kyk net na al die selfhelp boeke in die boekwinkels. Volg jy hulle aanbevelings mag jy dalk wêreldse resultate kry. Jy gaan egter gou uitvind dit is leeg. Ons moet by God en nie by onsself nie begin. As ons wil weet wat die doel en betekenis van ons lewens is, begin by God.

Paulus dank God vir alles en al die ander dinge val in plek.

image_pdfimage_print