Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(18) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die hoëpriester

Aäron, as lid van die Kehatgroep, was dus ook ‘n Leviet. As broer van Moses en sy direkte helper tydens die uittog uit Egipte word hy volgens Eksodus 28:1 deur die Here aangewys as priester saam met sy seuns. So het die afstammelinge van Aäron onder die Leviete priesters geword. In hierdie tyd was dit algemeen onder al die antieke volke dat funksies en posisies grootliks deur afstamming bepaal was. Daarom was die koningskap ook byna uitsluitlik een van erfreg. Hierin was Dawid ‘n besondere uitsondering.

Levitikus 8 beskryf die wyding van Aaron en sy seuns as priesters. Hoewel daar nie in Levitikus 8 spesifiek gesê word dat Aäron tot hoëpriester aangewys is nie, dui die rol wat hy in al die verrigtinge gespeel het in Levitikus 8 en 9, dat by die voortou geneem het en sy seuns hom, soos te verwagte, bygestaan het. Dit sou immers volgens die gebruike van destyds onhoudbaar gewees het dat ‘n seun hoof oor sy vader sou wees. Eers in Levitikus

16:24 word die term hoëpriester gebruik i v m Aaron wat sy hoëpriesterlike klere moes aantrek as hy versoening vir die volk se sondes doen. Maar in Eksodus 29, waar ook van die wyding van Aäron en sy seun vertel word, kry Aäron (vers 6) die priesterkroon. Die term hoëpriester word nie eers in Numeri 20:22-29 gebruik as Aäron sterf en sy seun Eleasar sy kleed ontvang nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat die skrywers van die Bybelboeke dit as algemeen bekend aanvaar dat Aäron hoëpriester was en dat die term nie nodig is om oral te noem nie. Nietemin, Aäron was vir die Jode die: eerste hoëpriester.

Die hoëpriester was die enigste wat toegelaat was om een maal per jaar op die groot versoendag in die Allerheiligste van die tabernakel en latere tempel in te gaan.

Aäron het vier seuns gehad waarvan twee gesterf het omdat hulle ongeoorloofde vuur by die altaar gebruik het (Levitikus -10:1-3). So het die derde seun Eleasar sy vader as hoëpriester opgevolg (Numeri 20:25-29). Eli was uit die familie die vierde seun van Aäron, naamlik Ithamar (volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus en ‘n vergelyking van 1 Kronieke 23:4, 1 Samuel 22:9 en 14:3). Voor Eli was Pinehas, die seun van Eleasar, hoëpriester (genoem “priester voor die Here”, Rigters 20:28). Hoe die wisseling gekom het, is nie bekend nie behalwe dat volgens 1 Samuel 2:27-28 Eli hoëpriester (die een wat die skouerkleed gedra het voor die Here) geword het omdat die Here hom gekies het. Dit is opvallend dat in 1 Kronieke 6:3-15 daar geen vermelding van Eli, of sy opvolgers, is nie. Toe Salomo vir Abjatar ‘n nakomeling van Eli ontslaan het (1 Konings 2:26-27) is die oordeel oor Eli se huis voltrek en het Salomo vir Sadok (1 Konings 2:35) ‘n nakomeling van Eleasar as hoëpriester aangestel (1 Kronieke 6:3 en 12). So het die priesterskap voor die Here weer teruggekeer na die afstammelingslyn. So het dit gebly en het alle hoëpriesters uit Eleasar se geslag gekom totdat die Seleukiede koning Antiogus Epifanes (175-164 v. C.) die Jode verslaan het in die tyd van die Makkabeërs en die hoëpriester afgesit het. Daarna was hoëpriesters deur die oorheersers aangestel en afgesit. In die tyd van die Nuwe Testament lees ons van, sowel Annas as Kajafas. In 6 n.C. het die Romeine Annas aangestel en horn in 15 n. C. deur sy skoonseun Kajafas vervang. Na sy afdanking het die Jode nog voortgegaan om Annas as hoëpriester te behandel (Johannes 18:13, 24).

Skrywer:  Prof JP Louw

image_pdfimage_print

You may also like...