Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Sosiale en Politieke Groepe(4) – JP Louw

image_pdfimage_print

Die Fariseërs

Die Fariseërs was direkte opvolgers van die Chassidim. Hulle naam beteken “die afgeskeidenes” wat in gees aansluit by die van die Chassidim. Ten tye van, die Nuwe Testament was hulle omtrent 6000 in getal. Hulle was besonder nougesette Jode wat hulle geloof ten strengste probeer uitleef het en geglo het dat die ballingskap van weleer die gevolg was van afval en vervlakking. In hulle strewe na wetsgetrouheid wou hulle moreel rein wees, want die nakoming van die Wet was vir hulle die metode om godsdienstig reg te lewe.

Die Fariseërs se opvatting oor wetsgetrouheid het egter probleme vir hulle gebied, want al was daar oor die seshonderd bevele in die Wet was almal nie altyd spesifiek genoeg om alle situasies te hanteer nie. As die Wet sê die Sabbat moet geheilig word, wat het dit presies beteken? Wat kon gedoen word op ‘n Sabbat, en wat nie? Die skrifgeleerdes was mense (merendeels Fariseërs, maar ook van die ander groepe) wat hulle in besonder daarop toegelê het om die Wet, die Torah, tot in die fynste besonderhede uit te pluis. Hulle het bepalings uitgewerk hoe ver ‘n mens op ‘n Sabbat mag loop, of jy iets mag dra, ens. Baie van hulle debatte lyk vandag vreemd, byvoorbeeld, of dit reg was om ‘n eier wat op die Sabbat gelê is, te eet.

Die Fariseërs se doel met al hulle regulasies was om mense te help om die Wet getrou na te kom. Vir elke nuwe situasie moes hulle nuwe reëls formuleer en hierdie reëls het hulle die mense ingeprent, ja selfs op skrif gestel. Onder die skrifgeleerdes was daar egter ook verskillende skole van denke en interpretasie. Bekend is Rabbi Shammai van ‘n ryk aristokratiese familie wie se leerstellings baie streng was. Rabbi Hillel weer, was ietwat meer gematig. Hy het uit die middellae van die volk gekom en meer begrip vir die praktiese probleme van die armer bevolking gehad. Die verskille in interpretasie het dikwels lewensbelangrike dispute veroorsaak. In Matteus 19:3-12 lees ons hoe vrae oor egskeiding aan Jesus gestel is om te toets of by die Wet goed kon uitlê. So ook in Matteus 22:36 lees ons dat hulle Jesus op die proef gestel het oor wat die grootste gebod is. In Matteus 15:3 kla die Fariseërs by Jesus dat sy dissipels as hulle eet nie die hande was nie en so die oorgelewerde gebruike verontagsaam. Hier moet ons nie dink dat die dissipels slordig was nie. Die skrifgeleerdes het voorskrifte gehad oor die presiese wyse waarop hande gewas moes word. As dit nie soos hulle voorskryf gedoen is nie, het hulle dit nie as handewas erken nie. In Matteus 22:24 stel diegene onder die Sadduseërs weer ‘n vraag aan Jesus om ‘n wet van Moses uit te lê wat in die praktyk vir hulle probleme opgelewer het omdat hulle nie in die opstanding geglo het nie. So lees ons oral in die Evangelies van gesprekke wat Jesus met skrifgeleerdes en hulle interpretasies gevoer het.

Die strengheid waarmee baie Fariseërs die volk vermaan het, was deels daarvoor verantwoordelik dat hulle nie altyd geliefd was nie. Hulle het volgens Matteus 22:4 soms swaar eise aan mense gestel, maar dit tog self nie nagekom nie behalwe (vers 5) as hulle daarmee kon vertoon hoe vroom hulle was. Hierdie houding het gemaak dat die term Fariseër ongelukkig ‘n negatiewe klank gekry het van skynheiligheid. Tog moet ons daarteen waak om die Fariseërs nie so eensydig te beoordeel nie. Al was hulle opinies dikwels vergesog; het hulle oor die algemeen die toegewyde deel van die volk uitgemaak en was die Fariseërs die groep in Israel wat deur die eeue heen die Joodse geloof in stand gehou het en as die grondleggers van die moderne Jodedom gesien kan word. In moderne taal gesê was die Fariseërs die getroue kerkmense van hulle tyd.

Dit is ironies dat juis die Fariseërs sterk teen Jesus gekant was. Hulle diepe godsdienstigheid moes hulle tog eerder aangespoor het om na Jesus se leer te luister. Juis hier het die probleem gelê. Hulle wou niks aanvaar wat nie presies met hulle eie idees ooreengestem het nie. Jesus se uitleg van die Wet het hulle vererg gemaak. Verder was Jesus baie populêr onder die gewone volk (Markus 12:37, Johannes 12:19). Dit het die Fariseërs nie aangestaan nie, want hulle was mos die mense na wie die gewone volk moes opsien. Jesus was vir hulle dus n bedreiging. Veral ook as Jesus gesê het dat hy nie gekom het om die Wet ongeldig te maak nie, maar om die voile betekenis van die Wet te leer. Jesus het hulle ook dikwels baie skerp aangespreek, so erg dat in Lukas 11:45 ‘n skrifgeleerde aan Jesus sê dat hy hulle mos beledig as hy so oor hulle praat. Lukas 18:9 verwys na die Fariseërs as hooghartig – mense dus wat vroom wil lewe maar die sin van ware godsdiens nie verstaan het nie. Inderdaad tragiese mense.

 

Die Esseners

Die Esseners was gewis nog strenger as die Fariseërs. Hulle het egter min direkte invloed gehad omdat hulle afgeskei geleef het. Die Esseners was na skatting ongeveer 4 000 in getal en het in eensame plekke weg van die massas gaan leef om hulleself “rein” te hou. Hulle was askete wat in kommunes by En-Gedi in die nabyheid van die Dooie See gewoon het, byna soos die monnike van die Middeleeue.

Die Esseners het handwerk en landbou beoefen vir eie onderhoud en baie tyd bestee aan studie van die Skrif-veral oor morele sake. Hulle was baie gesteld op rituele reinheid en het allerhande voorskrifte hiervoor gehad. Om lid te word moes iemand ‘n periode van een of twee jaar deurgaan om horn van die wêreld te suiwer. Daarop volg ‘n tyd van inlywing met ede en studie. Aan die einde is ‘n nuweling eers toegelaat om aan die gemeenskaplike ete deel te neem. Die Esseners was almal ongetroude mans en het interessant genoeg geen diere as offers gebring nie – dalk om hulle nie met bloed te verontreinig nie. Hulle het geglo dat hulle vrome lewens sal maak dat God die boosheid van die wêreld tot ‘n einde sal bring wanneer ‘n Messias sal kom om die boosheid te oorwin.

Die Esseners het baie gedoen om ou manuskripte van die Ou Testament te bewaar. By Qumran waar die Esseners ‘n klooster gehad het, is baie boekrolle in 1947 gevind wat ouer was as die oudste manuskripte tot op datum van die Ou Testament. Die rolle het ook kommentare op Habbakuk, Nahum en van sommige Psalms bevat, verskeie reëls en voorskrifte, lofliedere, spreuke, ens.

Johannes die Doper se prediking het geklink na wat die Esseners ook verkondig het en die plek waar Johannes gedoop het, word tradisioneel aangewys naby die oorblyfsels van die Qumran klooster sodat sommige vermoed dat hy dalk op een of ander wyse met hulle verbind was. Johannes het ook soos die Esseners geregtigheid (d. w. s. om reg te lewe) gepreek, op bekering klem gelê en mense gedoop as simbool van reiniging en toewyding. Die verwysing in Lukas 1:80 dat Johannes in die woestyn gebly het tot op die dag van sy openbare verskyning word soms aangehaal om Johannes, wat dus ook ‘n askeet was, met die Esseners te verbind. Die gegewens oor sowel die Esseners as Johannes is egter onvoldoende om enige sekere verbinding tussen hulle te bevestig.

qumrangrotte

Die Dooie See rolle is ontdek in hierdie grotte naby Qumran.

Toe die Romeine ‘n rebellie in 66 n.C. in Palestina onderdruk het, is die klooster by Qumran ook verwoes. Die Esseners het egter hulle waardevolle manuskripte in byna ontoeganklike grotte versteek waar dit vir eeue bewaar gebly het tot dit (of ten minste dele daarvan) in 1947 ontdek is.

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...