Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

image_pdfimage_print

Worry, like a rocking chair, will give you something to do, but it won’t get you anywhere. —Vance Havner

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (12)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Vergifnis: Ek glo aan … die vergewing van sondes

 

Vergifnis maak vriendskap moontlik; dit laat vrede vyandskap oorwin. Die vergifnis van sonde volg logies op die gemeenskap van die heiliges, want vergifnis is die fondament vir ons lewens saam. Geen vergifnis nie, geen geloofsgemeenskap nie. Sonder vergifnis kry ons nie toegang tot die gemeenskap van heiliges nie.

 

Sonder God se vergifnis staan ons buite die gemeenskap van heiliges. Ons het almal vergifnis nodig: Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie (Romeine 3:23). God het ons na sy beeld geskape en gesê dat dit goed was. Maar nou is ons so selfgesentreerd en trots – ons aanbid ons eie begeertes in plaas daarvan dat ons die lewende God aanbid. Selfs jong kindertjies het probleme. Geen ouer leer sy kind om te sê: Myne, nie – dit kom vanself.

 

Sonde bring skeiding tussen ons en God. Ons kan ons nie voor sy aangesig aanvaarbaar maak nie: nie deur ‘n stel reëls te onderhou nie, nie deur een of ander vorm van verborge wysheid nie, nie deur godsdiens te beoefen nie. Alle menslike pogings om God te bereik, is nutteloos. Ons het hulp nodig; God besef dit en daarom het Hy sy Seun gestuur. God in Christus het die straf wat ons verdien, weggeneem. Dis die vergifnis wat ons ontvang het – onverdiend.

 

Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, leer hy hulle onder andere: en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree (Matteus 6:12). Ons gewilligheid om vergifnis te aanvaar, impliseer ons gewilligheid om ander ook te vergewe. Petrus vra vir Jesus hoeveel keer hy sy broer wat teen hom gesondig het, moet vergewe. Hy maak ‘n voorstel: Selfs sewe keer? Dit klink vir hom redelik. Maar dan antwoord Jesus: Nie sewe keer nie, maar selfs sewentig maal sewe keer (Matteus 18:22). Daarna vertel Jesus die verhaal van ‘n koning wat saam met sy amptenare sy boeke nagegaan het. Jesus eindig hierdie verhaal met die volgende woorde: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie (18:35).

 

Die mens is meer op vergelding as vergifnis ingestel. As ons nie vergewe nie, is die gevolge haat en vergelding. Ons het ‘n keuse: vergeef of nie vergeef nie. Vergeet is nie ‘n opsie nie, want ons pogings om te vergeet, is  futiel. Al wat ons doen, is dat ons ons pyn en seerkry onderdruk. Ons vergeef ook nie deur ontkenning of deur die blaam te verskuif nie. Vergifnis verberg nie die waarheid nie.

 

Vergifnis beteken ons kies doelbewus om nie te vergeld nie. Ons oordeel nie, want slegs Jesus kan oordeel Vergifnis is iets wat ek gee – mense kan my nie dwing om te vergeef nie. Dit is iets wat ons vrylik gee. Maar vergifnis vereis geloof. Ons moet glo dat God ons seer emosies sal genees.

 

image_pdfimage_print

You may also like...