Gee my wysheid (9)

image_pdfimage_print

 

You cannot live a perfect day without doing something for someone who will never be able to repay you – John Wooden

 

Gee my wysheid (9)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Hou vas aan die geloof

 Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? (Galasiërs 3:2 – 3).

Paulus praat hier met die mense wat die geloof in Christus aanvaar het, maar nog steeds probeer om versoening deur goeie werke – die werke van die wet – te kry. Hulle hou nie vas aan die versoening soos ons dit in die evangelie kry nie – soos hulle wel geleer is. Verskeie dinge bewys die fout wat hierdie mense maak.

 

Jesus Christus het mens geword en is tussen hulle gekruisig. Hulle het die leer van die kruis geken – Paulus en ander leermeesters het dit aan hulle verkondig. Hulle het die sakrament van die nagmaal ontvang. Paulus verwys ook na die ondervinding wat hulle gehad het van die werking van die Heilige Gees in hulle. Hy vra vir hulle hoe hulle dit alles gekry het – deur die werke van die wet te doen of deur die evangelie te glo. As hulle eerlik wees, sal hulle erken dit was deur die evangelie te glo.

 

Hulle het goed begin. Dit word van hulle verwag om verder te groei na volwassenheid. Die goeie werke was nie ‘n verbetering op die evangelie nie – dit was ‘n verdraaiing daarvan. Hulle het die gevaar geloop om die evangelie heeltemal te verloor.

 

Paulus het die Heilige Gees aan hulle bedien; hy het wondere onder hulle gedoen. Hulle het baie goed besef dat dit die gevolg van geloof en nie as gevolg van goeie werke was nie. Daar was dus geen verskoning vir hulle nie – die leer was duidelik.

 

image_pdfimage_print