Jesus by die tempel

image_pdfimage_print

 

The truly wise are humble because they know they still have so much to learn. —Don Whitney

 

Jesus by die tempel

Die Nuwe Testament vertel ons baie min van Jesus se lewe vanaf sy geboorte tot aan die begin van sy bediening. Ons lees: Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom (Lukas 2:40). In Lukas 2:41 – 52 beskryf Lukas wel een besondere geleentheid – Jesus by die tempel. In vers 49 lees ons Jesus se eerste woorde wat opgeteken is: Waarom het u na My gesoek?  Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie. Hiermee gee Hy duidelik te kenne dat Hy die Seun van God is. Hy sê dat sy roeping is om te doen wat die Vader van Hom vra en om die Vader te verheerlik – in alle dinge en te alle tye.

 

Van die apokriewe boeke vertel meer oor Jesus se kinderjare. Dit vertel van Jesus wat sy mag vir nietige dinge gebruik het. Daar is vandag baie belangstelling in die apokriewe boeke, want Dan Brown se DaVinci Code sluit baie van die spekulasie wat ons in die apokriewe boeke kry, in.

In die tempel sit Jesus tussen die geleerdes – die teoloë van sy dag. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Sonde belemmer ons vermoë om duidelik te dink. Almal van ons maak foute in ons denke. Al lees ons dieselfde Bybel is daar gedeeltes waaroor ons verskil, want ons kom na die Skrif met sekere vooroordele wat ons nie sommer kan ignoreer nie. Jesus se denke, daarenteen, was nie deur sonde beïnvloed nie, want Hy was sondeloos. Daarom dat die geleerdes verbaas was oor sy insig en antwoorde.

 

Jesus is na die tempel gebring toe Hy 12 jaar oud was. Dit was die paasfees. Na die paasfees vetrek Josef en Maria terug na Nasaret. Hulle reis in ‘n groot geselskap.  Daarom kom hulle eers na ‘n dag agter dat Jesus nie met die geselskap is nie. Hulle draai terug. Drie dae lank soek hulle Hom voordat hulle Hom in die tempel kry. Maria was ontsteld en wil weet waarom Jesus so met hulle gemaak het – jou vader en ek het met angs na jou gesoek.

 

Jesus wys sy moeder so ligweg tereg, Sy moes geweet het dat Hy in die huis van sy Vader moet wees. Sy het immers heelwat openbarings gehad. Selfs op die ouderdom van 12 jaar weet Jesus wat sy taak is: Hy was onderworpe aan die Vader vir die werk waarvoor Hy geroep is.

 

Wat kan ons uit hierdie gedeelte leer?

  • Jesus onderwerp Hom aan sy aardse ouers. Hy gaan saam met hulle terug Nasaret toe en Hy was aan hulle onderdanig (2:51). Net so moet ons ook onderdanig wees aan diegene wat gesag oor ons het.
  • Jesus het sy roeping voltooi. Daarom kan ons ook nou vir God Vader noem. Ons moet Hom vir hierdie voorreg loof.

 

image_pdfimage_print