Dawid en sy familie

image_pdfimage_print

 

Alas if our children lose the crown of life, it will be small consolation that they have won laurels of literature or art. —C.H. Spurgeon

 

Dawid en sy familie

Dit gaan alles oor die troonopvolger. As jy die eersgeborene was, was jy die volgende koning. Dit is nou nie as die koning jou as ‘n bedreiging sien en jou laat vermoor nie – Herodes het baie van sy seuns vermoor. Maar jy moes jou ook oor jou ander broers bekommer. Hulle kan jou ook dood maak om die pad na die troon vir hulle oop te maak. Ons mag dink dat koning Dawid se familie nie sulke spanning sou ondervind nie. Verkeerd. In Dawid se familie kry ons dieselfde spanning en risiko’s.

 

Die oudste seun, Amnon, word deur Absalom vermoor omdat hy sy halwe suster, Tamar, onteer het (2 Samuel 13). Absalom was derde in die ry. Ons lees dat Dawid woedend vir Amnon was, maar hy doen niks nie. Absalom moes vir drie jaar vlug, maar na drie jaar keer hy terug en word verwelkom aan Dawid se hof. Absalom is nou eerste in lyn, want sy broer net ouer as hy het vroeg gesterf. Absalom raak ongeduldig om die troon te bestyg en kom in opstand teen Dawid. Uiteindelik word hy deur Joab dood gesteek met drie spiese.

 

Dawid se persoonlike lewe was chaoties. Ons onthou hom as Israel se suksesvolste koning en vergeet van sy hartseer – sy kinders sterf en sy hele familielewe stort in duie. Hoe sou hy gevoel het as hy besef het dat hy deel van die skuld moes dra. Hy het baie vroue gehad; hy het owerspel gepleeg; hy kon aanvanklik nie die spanning in sy huishouding hanteer nie.

 

Was Dawid ‘n model vader? Beslis nie. Ons kom soms in ‘n soortgelyke posisie en wil weet wat ons verkeerd gedoen het. Ons beskuldig onsself. Hierdie verhaal van Dawid herinner ons daaraan dat God ons nie verlaat al is ons deel van die probleem nie.

 

Het Dawid nie omgegee vir sy familie nie? Nee. In 2 Samuel 18:33 sien ons dat hy oor die dood van Absalom gehuil het – hy was ontroerd. Om ‘n ouer te wees wat omgee, beteken nog nie dat jy ‘n doeltreffende ouer is nie. Gegewe dat Dawid se familielie ‘n mislukking was, hoe het hy dit hanteer? Watter lesse hou sy storie vir ons in?

 

Om te verstaan wat in Dawid aangaan, kan ons Psalm 3 as sleutel gebruik. Die opskrif: ‘n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Hier is ‘n gevoel van verraad.  Die gevaar vir Dawid is ‘n werklikheid. Hier is Dawid op sy laagtepunt. Hy skryf hier midde in ‘n krisis. Wat sê hy?

 

  1. U, Here, is ‘n skild rondom my

Dit beteken nie dat slegte dinge nie gebeur nie, maar dat dit nie groot skade aanrig nie, want ons word beskerm. In 2 Samuel 16:5 – 14 lees ons van Dawid wat vir sy lewe moes vlug. Simeï het Dawid gevloek en steek sy manne onder die klippe. Hy noem Dawid ‘n moordenaar en skurk. Sy manskappe wou hom doodmaak, maar Dawid sê: Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek.  Ons sien dat Dawid glo dat, maak nie saak wat gebeur nie, God is daarby betrokke. Hy is vir hom ‘n skild en beskerm hom. As ons lewe in duie stort, wie is ons skild?

 

  1. Maar U, Here, … my eer, en die een wat my kop hoog hou

Dawid staan hier midde in swaarkry. Simeï het hom gevloek en met klippe gegooi, maar Dawid het sy lewe gespaar. Dawid kan sy kop hoog hou, want hy het die regte ding in ‘n onmoontlike situasie gedoen. Probleme is nie vir Dawid ‘n teken dat God nie in beheer is nie.. Hy sien dit as ‘n geleentheid vir diep vertroue … en dit werk.

 

  1. Ek het gaan lê, aan die slaap geraak en wakker geword, want die Here ondersteun my

Dawid dank God vir die gawe van slaap. In krisistye is die laaste ding wat ons kan doen, is om te slaap. Dawid raak aan die slaap en hy sien dit as ‘n gawe van God. Omdat hy in God vertrou het, kon hy soos gewoonlik geslaap het. In Handelinge lees ons van Petrus in die tronk. Hy sou waarskynlik die volgende dag tereggestel word. Jakobus is immers pas onthoof. Skielik staan daar ‘n engel by hom. Hy moes aan Petrus vat om hom wakker te maak. As jy werklik vir God vertrou, is daar niks waaroor jy slaap moet verloor nie. God is wakker; slaap rustig. Dit is genoeg

 

  1. God gee vertroue

Ek is nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my stelling inneem nie (Psalm 3:7). Toe Dawid al die magte wat om hom saamgetrek is, sien, vlam sy hoop op – net God kan hom red. Dit is die veiligste plek: daar waar jy nie op jouself vertrou nie, maar op God alleen vertrou.

 

  1. God is daar waar alles verkeerd loop

Dawid se koningskap word herstel, maar Absalom is dood. Sy naam (Ab = vader; shalom = vrede) beteken vader van vrede.`Tog is dit nie wat met sy lewe gebeur nie.

 

Dawid se familielewe was maar deurmekaar sy kinders was verkragters, moordenaars, verraaiers. Hy het ok ‘n ander seun, Salomo, gehad wat hom opgevolg het. Dawid het baie dinge verkeerd gedoen, maar ook sekere dinge reg gedoen. Uit hierdie storie leer ons dat God weet dat vir meeste van ons verloop dinge nie altyd volgens plan nie. Hy wil egter hê dat ons moet weet: Ek het vir Dawid bygestaan en ek  kan dit ook vir jou doen. Natuurlik is baie van die probleme my fout, maar juis daarom het God vir Jesus gestuur. Nou is daar hoop en vergifnis vir ons.

 

image_pdfimage_print