Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging – Adrio König

Regverdiging

Die begrip regverdiging is een van die kernbegrippe van die kerkhervorming. Lurther se vraag: Waar kry ek ‘n genadige God, was ten diepste ‘n vraag hoe hy geregverdig kan word d.i. hoe hy in die regte verhouding met God kan kom. Hy het goed geweet van die geregtigheid van God, en dit was juis sy vrees: God is self regverdig en daarom eis Hy geregtigheid van ons. Ons het dit nie. Daarom staan ons onder sy oordeel. Waar kry ek ‘n genadige God?

Maar toe ontdek hy God eis nie net geregtigheid nie, Hy gee dit ook. Trouens God se geregtigheid is selfs nog veel omvattender as dit. God laat geregtigheid geskied, wat in die OT beteken Hy straf die goddelose en red die hulpelose. God se geregtigheid beteken dat Hy ‘n Vader vir die weeskinders is en ‘n beskermer van die reg van die weduwees (Ps 68:6). Daarom eis die profete ‘n regverdige samelewing waarin die reg van die verdruktes beskerm word en die armes gehelp word, maar die verdrukkers verbrysel word (Ps 72:4).

Maar natuurlik het dit nie Luther se probleem opgelos nie – eerder vererger, want in die NT lees ons dat almal onregverdig is en die hele wêreld strafwaardig voor God (Rom 3:12,19). Dus opnuut die vraag: Waar kry ek ‘n regverdige God?

En dan die verrassing: God spreek die goddelose vry … as hy of sy glo (Rom 4:5). Dit gaan nie meer daarom of ek regverdig is nie (trouens ons het almal gesondig en is vervreem van God, Rom 3:23), maar of ek glo in Hom wat die goddelose regverdig. Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Rom 5:8). Toe ons nog vyande was, is ons deur die dood van sy Seun met God versoen (Rom 5:10). Glo dit! Dis die evangelie.

Regverdiging is om, terwyl ek skuldig is, deur God vrygespreek te word op grond van iemand anders se geregtigheid (dus nie my eie nie), en wel op grond van Christus se geregtigheid wat aan my toegereken word. Sondevergifnis is niks anders as regverdiging op grond van Christus se verdienste nie.

Maar Hy spreek my vry om my ook vry te maak, vry van die onreg in my lewe, vry om reg te doen, vry om geregtigheid in die samelewing te vestig.  Daar is geen regverdiging sonder heiliging nie. Dit sou goedkoop genade wees. God gee nie om hoe ek lyk as Hy my moet regverdig nie, maar Hy gee om hoe ek daarna lyk. Maar dit bring ons alreeds by die heiliging.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...