Is jy arm van Gees?

image_pdfimage_print

Is jy arm van Gees? – Dr Kobus Kok

In Matteus 5-7 vind ons die sogenaamde Bergrede van Jesus. Hier leer Jesus die skare, en deel hy met hulle belangrike konsepte en geestelike waarhede rondom die koninkryk. 

In die Afrikaanse Nuwe Vertaling van Matteus 5:3 lees ons die volgende: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

In die Ou Vertaling lees ons dit so effens anders: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.”

Die vraag is dan, hoekom lyk hierdie twee vertalings so verskillend van mekaar? Die antwoord lê in die oorspronklike teks, naamlik die Griekse Nuwe Testamentiese teks, en in die teorie oor vertaling. In die vertaalwetenskap praat die geleerdes onder andere van ‘n letterlike vertaling en dinamiese vertaling van die Griekse teks. Met die letterlike vertaling, vertaal ons die Griekse woorde net soos dit daar staan in die Grieks. Die probleem met sulke vertalings is egter dat hierdie soort vertaling nie altyd mooi vir ons help om presies te kan verstaan wat daar gesê word nie, omdat die manier van praat en die beelde wat gebruik is in die antieke tyd en antieke kultuur nie noodwendig meer so gebruik word nie. Vat maar net ‘n hedendaagse voorbeeld: “Die man is hoog in die takke met sy Sanna in sy hand op die wa.” Indien mens dit letterlik in Engels sou vertaal, sou mens dit so vertaal: “The man is high in the trees with his Sanna in his hand on the wagon.” Enige iemand kan sien dit is sommer ‘n deurmekaar en misleidende vertaling. In Afrikaans het ons natuurlik ‘n spreekwoordelike manier van praat, waar “hoog in die takke” iemand beskryf wat dronk is. ‘n Sanna was ‘n geweer in die tyd van die Boere-oorlog in 1899-1902, en ‘n wa verwys waarskynlik na ‘n ossewa. Daarom sal ‘n dinamiese vertaling eintlik beter wees, omdat dit die oorspronklike bedoeling van die teks en die betekenis beter weergee: “Die man is dronk en sit met sy Sanna-geweer op die ossewa”. Die Engelse dinamiese vertaling sal dus ook meer sin maak: “The man is drunk and sits with his gun on the wagon.”

Net so werk ons met vertalings van die Bybel. In ‘n sekere sin sou ons kon sê dat die Afrikaanse Ou Vertaling nader aan ‘n letterlike vertaling van die Grieks is en ook in ‘n Afrikaans wat jare terug gepraat is en waarvan sommige woorde nie meer so bekend is nie. Daarom word “salig” eerder vertaal met “geseënd” en dit is in elk geval ‘n meer akkurate beskrywing van die woord “makarioi” in die Grieks. Verder sien ons dat die woord “arm van gees”, in die Nuwe vertaling met “hoe afhanklik hulle van God is”, vertaal word. Hierdie betekenis is weereens nader aan die woord “ptogoi” wat ons in die oorspronklike Grieks vind. Die konteks van die antieke tyd moet dalk eers beskryf word om die laasgenoemde sin beter te verstaan.

In die antieke wêreld van die Bybel het die samelewingstrukture effens anders daarna uitgesien as vandag, en het soos ‘n piramide gelyk. Daar was ten minste twee groot groeperings, naamlik die rykes en die armes. Die rykes, aan die bopunt van die piramide, het bestaan uit twee prominente strata naamlik die hoër ryk klasse (senatorial) en die laer ryk klasse (equestrian) wat ongeveer 1-3% van die totale samelewing uitgemaak het. Heel onder aan die piramide was die massa arm mense, waarvan sommige ook slawe was. In die middel tussen die twee groepe het ons die middelklas gehad wat minder as die armes was. Dit beteken dat die meeste mense in die antieke tyd arm was en ons weet vandag dat die rykes die armes oor die algemeen uitgebuit het en teenoor hulle gediskrimineer het. In Griekse literatuur verwys die term “ptogoi” na die groot groep arm mense, en veral na die bedelaars – die wat die afhanklikste was en eintlik aan die heel onderste punt van die broodlyn geleef het.

Die teks van Matteus praat dan in die Grieks van die “ptogoi to pneumati” (die armes van gees). Hierdie mense is dus diegene wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Matteus sê dat sulke mense, wat weet hoe “ptogoi” (arm) hulle is, of hoe afhanklik hulle van God is, diegene sal wees wat sal beleef hoe God voorsien, hulle sal waarlik gelukkig en geseënd wees. Matteus sê dus dat om arm van gees te wees, ‘n goeie ding is, want mense wat arm van gees is, is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is, en aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Mag jy ook “arm van gees” wees. Dit is vir Matteus dus eintlik ‘n kompliment en nie ‘n belediging nie! 

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...