Hoe verheerlik die kerk vir God?

image_pdfimage_print

 

Ninety-five percent of knowing the will of God consists in being prepared to do it before you know what it is –  Donald Barnhouse.

 

Hoe verheerlik die kerk vir God?

Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Efesiërs 3:20 – 21).

In die skepping en in verlossing, in die hemel en op aarde, is die wêreld gemaak om Hom te verheerlik. Geen wonder dat Paulus bid dat God eer in die kerk sal kry. Wat beteken dit? Uit die konteks van Efesiërs is daar veral drie maniere waarop die kerk vir God kan/moet verheerlik.

 

  1. Die kerk as ‘n lewende liggaam

Nêrens sal jy Jesus se liggaam kry nie. Hy het opgestaan en Hy lewe. Wat jy wel kry, is die lewende liggaam van Christus – die kerk. Hierdie word vir ons in Efesiërs 1:19 – 23 verduidelik. God het Christus uit die dood opgewek en laat Hom in die hemel aan sy regterhand sit. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Die krag van God waarna Efesiërs 3:20 verwys, sien ons in die opstanding van Jesus uit die dood. Tydens sy kruisiging is Jesus verneder, maar in sy opstanding ontvang Hy die Naam bo alle name.

 

Efesiërs 1 verbind  Jesus se verheerliking met die kerk. Dieselfde opstanding wat Jesus gekry het word ook in genade aan God se kinders gegee. Die kerk is Christus se opstandingsfamilie – sy lewende liggaam. Die kerk verheerlik God deur die opstandingslewe. Lewend in Christus getuig die kerk van sy teenwoordigheid. Deur vir, in en soos Christus te leef manifesteer die kerk die opstandingslewe.

 

  1. Die kerk is die plek van goeie werke

Efesiërs 2 sê vir ons dat verlossing nie deur goeie werke verkry word nie, maar dat diegene wat deur God se genade verlos is, sal goeie werke doen. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:10). Hierdie werke word bepaal deur die individuele gawes wat God aan sy kinders gee.

 

Wat het dit met die kerk te doen? In Efesiërs 2:1 – 10  vertel Paulus van God se plan om een nuwe geloofsgemeenskap te maak. Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig (2:16). God maak nie net ‘n klomp mense bymekaar nie – Hy maak ‘n nuwe liggaam; Hy maak mense wat goeie vrugte vir Hom produseer. Soos druiwe kom hierdie vrugte in trosse – in die konteks van ‘n gemeenskap.

 

  1. Die kerk as God se reklamebord

God het die kerk geskep om ‘n uitstalling te wees van sy krag en wysheid. Ons kan sê dat die kerk God se bemarkingstrategie is. God vertoon sy krag deur die swakkes te red; Hy vertoon sy geregtigheid deur die skuldiges te versoen; hy vertoon sy genade deur opstandiges sy vriende te maak. Paulus stel dit so: Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim (Efesiërs 3:10).

 

Waaruit bestaan hierdie wysheid? Dit bestaan daaruit dat mense verenig word: Jood en nie-Jood, oud en jonk, swart en wit. Individue wat natuurlik nie van mekaar hou nie, word verenig in Christus. Die heerlikheid van die kerk word gesien in die mosaïek van diverse mense wat dieselfde God aanbid en wat uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig is (Efesiërs 5:21). Gebeur dit word die kerk ‘n lig wat God se heerlikheid weerkaats.

 

image_pdfimage_print