Hoe moet ek die Bybel benader?

image_pdfimage_print

The God of the philosopher is a concep that derives from abstract ideas; the God of the prophets is derived from acts and evente. The root of Jewish faith is, therefore, not a comprehension of abstract principles but an inner attachment to those events – Abraham  Joshua Heschel

 Hoe moet ek die Bybel benader?

Volgens Scot McKnight (The Blue Parakeet) is daar drie maniere om die Bybel te benader. Baie mense kombineer hierdie benaderings

Benadering #1: Lees om te herwin

Ons keer terug na die Bybelse tye om idees en praktyke te herwin. Hier verskil mense se benadering:

 

  • Probeer om alles moontlik te herwin. As Jesus sê dat ons mekaar se voete moet was, was ons mekaar se voete; as Petrus sê vroue moenie goue juwele dra nie, dra vroue nie goue juwele nie … Ons moet die Bybel uitleef deur na die vroeë kerk terug te keer en al hulle idees, maak nie saak hoe ongemaklik dit is of hoeveel dit kos nie, te herwin. Ons doen alles wat die Bybel vir ons leer. Dit is tog nie moontlik nie, maar dit is ook nie wenslik nie. In 1 Korintiërs 9:19 – 23 sê Paulus dat sy strategie een van aanpassing is: Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Ons is geroep om 21ste eeu lewens te leef in die lig van die openbaring wat God vir ons in die 1ste eeu gegee het.
  • Ons herwin net dit wat ons vir ons tyd en kultuur kan red. Dit is ook problematies, want nou bepaal die kultuur wat van waarde in die Bybel is. Die probleem is dat daar te veel aanpassing mag wees en te min vertroue in die Bybel. Die Bybel het die vermoë en is ontwerp om met ons in elke kultuur, elke tydperk en in elke taal te praat. Wat ons moet toelaat is dat die Heilige Gees met ons in ons kultuur, tyd en taal praat. God praat met elke geslag in daardie geslag se kultuur.

Ons moet die verlede aanneem en by nuwe omstandighede aanpas, maar op so ‘n manier dat dit getrou aan die Bybel is.

Benadering #2: Lees die Bybel deur die tradisie

Hiervolgens moet mense die Bybel deur die tradisie lees of hulle sal die Bybel verkeerd lees. Natuurlik moet elkeen die Bybel vir homself  lees, maar niemand het nog ooit gesê dat hulle die Bybel vir hulleself moet interpreteer en waarmee hulle na vore kom, is so goed soos enigiemand anders se idees nie. Martin Luther se groot ideaal was om die Bybel in sy eie taal aan elke Duitser te gee, maar hy laat nie toe dat skoolkinders die Bybel lees voor hulle eers die Kategismus bemeester het nie. Hy wou sy lesers toerus sodat hulle die Bybel akkuraat kon lees. Ons kan leer hoe om die Bybel vir onsself te lees, maar ons is verantwoordelik om dit wat die kerk nog altyd geleer het in gedagte te hou.

Dit moet van die onbuigsame, moenie-vrae-vra tradisionalisme onderskei word waar vernuwing en aanpassing net nie moontlik is nie.

Benadering #3: Lees die Bybel met die tradisie

God is aan die beweeg; diegene wat na God luister, is ook aan die beweeg. Om die Bybel te lees sodat ons dit vandag kan uitleef, beteken ons moet aan die beweeg bly. Diegene wat gaan stilstaan en ‘n besondere oomblik in ‘n monument wil verander, sal gou wonder waarheen God gegaan  het. Ons mag nie ignoreer wat God deur die jare vir die kerk gesê het nie, maar ons mag nie fossiele daarvan maak nie. Ons moet teruggaan sonder om in die verlede vas te val. Ons beweeg vorentoe deur die Bybel vry te stel deur wie ons is, wat ons dink, hoe ons leef voortdurend te vernuwe. Ons moet respek vir ons verlede hê, maar ons mag nie die finale gesag aan ons tradisie toeken nie. Die finale besluit lê altyd by die Bybel.

Laat die Bybel die Bybel wees. Die Bybel sal sy eie werk doen as ons net uit die pad kom en die Bybel toelaat om sy werk te doen.

image_pdfimage_print

You may also like...