Epilepsie en demone – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Celesté vra:

Ek wil graag weet, ons twee dogters is serebraal-verstandelik gestrem. Hulle kan niks vir hul self doen nie en is in rystoele en kry ook epileptiese aanvalle. Ek moet hulle 24/7 versorg. Die jongste een kry die grandmal epileptiese aanvalle en nou en dan kry sy die status epilepticus. Die grandmal is wanneer sy haar bewussyn verloor en blou word en ruk en pluk en snorkgeluide maak, en dit klink of sy sterf, wat vir my baie traumaties is. Die status epilepticus is dieselfde, maar haar liggaam hou op met ruk en haar brein hou aan “fit”. Dit is lewensgevaarlik en dit maak my rasend. Ek kan die goed nie meer hanteer nie. Dit hou my uit die slaap die hele nag en jy moet 24/7 op diens wees as sy dalk gaan fit om haar by te staan.

Ek wil graag weet, wanneer is epilepsie ‘n demoniese aanval van Satan, of is dit ‘n mediese toestand? Want ek is moeg dat mense my verwar. My kinders is verstandelik gestrem. Hulle is soos babas. Ek sukkel om te dink epilepsie is demonies. Ek weet nie, want in die Bybel praat Jesus ook van die seun wat in die vuur bly val het a g v epilepsie.

 

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Op die vraag of daar ‘n verband is tussen die mediese toestand bekend as epilepsie en duiwel- of demoonbesetenheid, is die antwoord kort en kragtig: Nee! Epilepsie (in al sy verskillende vorme, waarvan die vraagsteller aandui dat sommige inderdaad by haar dogters voorkom) is ‘n siekte soos enige ander siekte wat die liggaam kan aantas. In epilepsie se geval is dit ‘n siektetoestand van die brein, waarvan die oorsake meervoudig kan wees. En omdat dit ‘n mediese toestand is, moet dit behoorlik deur medies opgeleide kundiges gediagnoseer en behandel word. Dit is ‘n chroniese toestand en mens moet weet dat iemand lewenslank hiervoor behandeling moet ontvang.

Maar waarom word hierdie toestand soms met duiwelbesetenheid in verband gebring? Waarom juis hierdie toestand en nie ander siektes soos kanker of hartkwale nie? Waarskynlik omdat die manifestering (simptome) van epilepsie vreesaanjaend kan wees en omstanders laat dink dat daar iets paranormaal met die pasiënt skort. Die een oomblik kom die persoon heeltemal normaal voor en die volgende oomblik val die persoon op die grond neer (vandaar die “bynaam” vir epilepsie: vallende siekte), skuim kom by die mond uit, die oë rol, die tande klem op mekaar, die liggaam ruk, vreemde geluide word geuiter, ensovoorts. Vir liggelowiges en bygelowiges (het ons nie maar almal dié streep nie?) lyk dit dan kompleet asof iets of iemand van hierdie persoon “besit” neem. En hierdie iets of iemand kan mos net die duiwel wees, so word geglo.

Met die kennis vandag tot ons beskikking weet ons gelukkig van beter. Epilepsie is goed beskryf in die mediese wetenskap en daar is erkende behandeling daarvoor. Daarom hoef mens jou nie aan bygelowige praatjies te steur nie. Maar verplaas jou vir ‘n oomblik terug in die antieke wêreld waarin die Bybel ontstaan het, waar mense ‘n ander werklikheidsbelewing gehad het, dan kan mens verstaan dat verskynsels wat vandag as gewone siektetoestande beskryf word destyds maklik aan die werking van bonatuurlike magte, soos demone, toegeskryf is. Mense het destyds in elk geval geglo dat die lug vol onsigbare magte is wat enige oomblik kan toeslaan. Daarom dat sommige mense allerhande simbole, tekens en amulette gedra het wat, so is geglo, hulle teen hierdie magte kan beskerm. Ander het weer – heel tereg – geglo dat as jy aan die lewende God behoort, jy niks van hierdie magte hoef te vrees nie, want jy behoort aan Hom wat heers oor alle magte en kragte in hemel en op aarde (vgl Rom 8:37-39).

Iets van hierdie antieke werklikheidsbelewing sien ons in die beskrywing van sommige genesings van Jesus, soos dié van die geestelik versteurde seun (Matt 17:14-18). Die 1933-Vertaling sowel as die pas gepubliseerde Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling, praat van die seun as maansiek. Laasgenoemde is ‘n letterlike vertaling van die Grieks. Die soort verskynsel wat by hierdie seun voorgekom het, is in die antieke met die werking van die bonatuurlike in verband gebring. Daar is geglo dat die maangodin, Selene, die siekte veroorsaak het. Dikwels is die oorsaak van hierdie siekte ook gekoppel aan demone, soos hier in Matt 17. Wat maansiekte betref – ons het ook die uitdrukking vir iemand wat vreemd optree: Hy is met die maan gepla. Dan bedoel ons dat vreemde gedrag by so ‘n persoon voorkom. En vreemde gedrag was inderdaad aanwesig by hierdie arme seun: hy het dikwels in die vuur of water geval. Mark 9:18 voeg by dat hy skuim om die mond gekry het, op sy tande gekners en stuiptrekkings gekry het, en ook stom geraak het. Luk 9:39 meld verder dat hy aan die skree gegaan het. Geen wonder nie dat sommige Engelse vertalings (bv die Revised Standard Version) sê dat die seun aan epilepsie gely het, want dis tipies wat met grand mal epilepsie-lyers gebeur.

Maar dan, tipies van daardie tyd, word bygevoeg dat dit ‘n bose gees was wat al hierdie simptome veroorsaak het. En toe Jesus hierdie bose gees uitdryf, het die kind gekalmeer en was hy volkome genees. Dit is veral hierdie gebeure wat maak dat baie mense vandag nog epilepsie koppel aan duiwelbesetenheid. Ons moet egter daarop let dat dit tweede natuur was by die antieke mens, met hulle gebrekkige kennis van die ware oorsaak van siektes, om vreemde gedrag aan bonatuurlike, sataniese werking toe te skryf. Maar selfs die Bybelskrywers is ook nie altyd konsekwent in die manier waarop hulle hierdie siekteverskynsel beskryf nie. In Matt 17:14-18 word wel gesê ‘n bose gees was die oorsaak, maar in Matt 4:24 word maansiekte apart gelys van demoonbesetenheid, so asof Matteus die twee verskynsels daar duidelik van mekaar onderskei, asof hy wil sê: maansiekte kan by geleentheid manifesteer sonder die bykomende verskynsel van duiwelbesetenheid. Wat ons net weer wys dat die Bybelskrywers nie altyd met eksakte gegewens werk nie, maar ‘n algemene prentjie probeer skilder vanuit hulle ervaringswêreld van die soort kwale wat Jesus alles genees het. Jesus het vir al die bekende dinge wat mense gepla het, ‘n oplossing gehad. Daar is niks wat vir Hom te groot, te sterk of te ingewikkeld was nie. Of iemand nou net aan ‘n “gewone” siekte gely het, of ‘n siekte mét duiwelbesetenheid, of nét duiwelbesetenheid – Jesus het almal genees.

Met bogenoemde verduideliking wil ek nie beweer dat iets soos duiwelbesetenheid glad nie bestaan nie. Soos die karakter Hamlet aan sy vriend Horatio sê in Shakespeare se stuk, Hamlet: “There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy.” Waarmee Hamlet/Shakespeare wou sê: die werklikheid is kompleks, ons weet gewoon nie alles nie. Veral sendelinge vertel dikwels van verskynsels wat op geen ander manier verklaar kan word nie as dat daar ‘n boosheid is wat op bepaalde maniere manifesteer, op maniere wat dikwels met bekende siektebeelde ooreenstem. Die duiwel is na alles God se aap; hy is slu, maar nie vreeslik oorspronklik nie. Hy kan slegs inspeel op en gebruik maak van dit wat reeds bestaan. Dit is dus moontlik dat epileptiese simptome kan voorkom by bepaalde vorms van duiwelbesetenheid. Maar in die konteks waarin ons vandag leef, mag dit nooit ons eerste verklaring wees nie. Solank daar logiese, mediese verklarings vir siektebeelde is, is dit hoogs onverantwoordelik om onsself – en ander – te belas met iets soos duiwelbesetenheid. Dit verhoog nie net die spanning waaronder die pasiënt en sy/haar geliefdes verkeer nie, maar stel die pasiënt ook bloot aan bedenklike “terapieë” wat verdere spanning veroorsaak en selfs lewensgevaarlik kan wees. Nee, die Here het vir ons wonderlike mediese kennis en geneesmiddels gegee wat vandag ons eerste linie van genesing en behandeling is. Ons mag nie as eerste opsie terugsak in die antieke werklikheidsbelewing van gebrekkige kennis en waar alles by die geringste provokasie aan die werk van die bose toegeskryf is nie.

Uit die inligting wat ons vraagsteller verstrek, is ek van drie dinge oortuig: (a) haar dogters ly onder andere aan die mediese toestand, epilepsie, wat niks met duiwelbesetenheid te doen het nie; (b) sy het reeds haar keuse gemaak om haar dogters te versorg met al die toepaslike mediese kennis en behandeling wat die moderne wetenskap kan bied, en dit is goed en reg so; en (c) sy het al ons gebede en ondersteuning nodig om hierdie geweldige las te dra. Dit kan nie maklik wees nie. Dis eintlik ‘n bomenslike taak. Maar die Here weet van haar daaglikse stryd en hierdie liefdestaak wat sy op haar geneem het. Hy het haar tot hiertoe gedra, sal dit steeds doen, en sal ook verder deure oopmaak soos dit nodig word.

SkrywerProf Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...