Geloofsvrae: Wat is openbaring?

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Wat is openbaring? – Adrio König

Dit is taamlik algemeen dat mense glo daar is ‘n God, so algemeen dat ons mense wat die bestaan van God ontken, as uitsonderlings kan beskou.

Daar is ‘n verskeidenheid van redes waarom mense aanvaar dat daar ‘n God is. Waar kom alles vandaan as Hy dit nie gemaak het nie? Dink maar aan die wonderlike dinge om ons, soos die grootheid van die heelal, die skoonheid van die natuur, of die merkwaardige wyse waarop die menslike liggaam werk. Daar gebeur ook wonderlike dinge, groot dinge in die geskiedenis, en klein dingetjies in mense se persoonlike lewens wat hulle oortuig dat daar ‘n God moet wees.

Daar is selfs mense wat oortuig is dat hulle kan bewys dat God bestaan. Dit blyk egter gewoonlik dat ‘n mens nie met hierdie `bewyse’ veel indruk maak op mense wat nie (wil) glo nie. Dit versterk gewoonlik net die geloof van dié wat reeds glo.

Tog is daar mense wat oortuig is dat daar iets van God in die natuur en in die geskiedenis sigbaar moet wees. Hoe is dit moontlik dat God alles gemaak het, en nog voortdurend in die geskiedenis betrokke is om sy doel met die wêreld te bereik, maar dat daar geen spoor van sy werk iewers sigbaar is nie?

Daarom kan ‘n mens redeneer dat, al sou dit nie moontlik wees om te bewys dat God bestaan nie, dit tog in elk geval makliker moet wees om alles te verklaar as ons die bestaan van God aanvaar as wanneer ons dit verwerp.

En tog moet ‘n mens dit alles met bepaalde voorbehoude oorweeg. Teenoor al die wonderlike dinge staan daar soveel aaklige dinge wat ‘n mens eerder aan die duiwel laat dink as aan God. Dink maar aan die wreedhede in die natuur, die vreeslike natuurrampe, siektes, menseslagtings, kindermishandeling. Is dit nie ewe waar dat ‘n mens soms voel jy kan hoegenaamd nie die bestaan van God met hierdie dinge rym nie? (Wat, terloops, weer mag beteken dat ons geloof in God ons juis behoort te inspireer om nie hierdie dinge te aanvaar nie maar in die Naam van God daarteen te stry.)

Uit die mooi én lelike dinge om ons, kan ons dus nie met enige sekerheid veel meer aflei nie as dat daar groter magte as ons in die wêreld werksaam is.

Dit is ‘n ander saak wanneer mense alreeds in die Here glo. Dan kan ons sy hand herken in sekere dinge om ons. Dan ervaar ons Hom ook in ons persoonlike lewe. So is dit ook in die Bybel. Daar lees ons dat die natuur ons van die Here vertel. Ps 19:2: `Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.’ Maar ons weet dit is gesê deur iemand wat Hom alreeds ken.

Daarom is dit nodig dat God Hom eers bekend maak voordat ons Hom kan leer ken en sy werk in die natuur en in die geskiedenis kan raaksien. Ons kan nie enige mag wat groter en sterker as ons is, as God beskou nie. Daar is baie magte om ons. Maar daar is net een ware God. Hy `woon in ontoeganklike lig’ (1Tes 6:16).

Daarom bely ons as Christene saam met die Jode dat ons God leer ken in die geskiedenis wat Hy met Israel gemaak het. En ons bely nog verder dat hierdie geskiedenis uitgeloop het op die koms van Jesus Christus wat die vervulling is van byna al die verwagtings in die Ou Testament. In hierdie geskiedenisse leer ons God ken, en in die lig hiervan probeer ons dan iets van sy dade herken in die natuur en in die geskiedenis.

Wanneer ons die Bybel bespreek, sal ons terugkom op wat ons nou net kortliks noem: God se openbaring is nie in die eerste plek ‘n boek (die Bybel) nie, maar ‘n geskiedenis: gebeurtenisse, en die verklaring van hierdie gebeurtenisse. Hy openbaar Hom in die uittog uit Egipte, en eers veel later word dié geskiedenis in boekvorm opgeteken.

Dit beteken ook dat God allereers Homself openbaar en eers in die tweede plek sekere dinge (waarhede). Israel leer Hom ken en daarna leer hulle dan geleidelik al meer besonderhede oor Hom en oor sy werk ken. Die God van Israel, die Vader van Jesus, wil in ‘n verhouding (verbond) met ons leef, en die besonderhede oor Hom en oor sy wil, help ons om sinvol in hierdie verhouding te leef. Ons het nie ‘n boekgodsdiens nie maar ‘n verhoudingsgodsdiens, ‘n verbondsgodsdiens.

Ons kan God net ken omdat Hy Homself geopenbaar het. Maar het Hy Hom nét in Israel en in Jesus geopenbaar?

Daar is skynbaar verwysings na sy openbaring in die natuur. Paulus sê dat ‘n mens uit die werke van God duidelik kan aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is (Rom 1:20). Maar hy vervolg onmiddellik dat die mense wat dit sien, nie positief daarop reageer nie. ‘n Mens sou dus kon sê dat daar wel kennis van God in die natuur is, maar dat mense dit nie gebruik om Hom regtig te ken nie. Dus wel `algemene openbaring,’ maar nie `natuurteologie’ nie, dit beteken ons kry nie ware kennis van God uit die natuur as ons Hom nie reeds ken nie.

Natuurlik is daar nog Rom 2:12-16. Daar is mense wat meen dat ons tog daarin lees van heidene wat `vanself dinge doen wat die wet vereis’ en dat hulle op grond daarvan gered kan word. Dit is egter te betwyfel of dit is wat Paulus bedoel. Volgens Paulus slaag die Jode nie eens daarin om die wet te hou nie, trouens niemand is in staat om die wet te hou sonder die krag van die Heilige Gees nie, en niemand kan in elk geval gered word deur die wet te hou nie (Gal 2:15-16; Rom 3:20-22; 8:4). Hoe kan heidene dit dan regkry?

Dit kan help as ‘n mens die verband van Rom 2 in ag neem. Nadat Paulus oor die wet gepraat het (2:12-16), vervolg hy met ‘n byna identiese deel oor die besnydenis (2:25-29). Daarin word dit dan duidelik dat hy onder `heidene’ in werklikheid `heidenchristene’ verstaan wat nie letterlik besny is nie maar tog deur die Gees die betekenis van die besnydenis ontvang het (2:28-29), of in terme van 2:12-16 uitgedruk, nie met die wet grootgeword het soos die Jode nie, maar tog, deur die krag van die Gees, die wet hou.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...