God het van oordeel gepraat (3)

image_pdfimage_print

 

 “If the Spirit of God detects anything in you that is wrong, He does not ask you to put it right; He asks you to accept the light, and He will put it right.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (3)

So het hulle God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het (Psalm 106:21). Deur ‘n goue kalf te maak, wys Israel geen respek vir God en sy gebooie nie. Hulle aanbid nie vir God nie, maar beledig Hom. Hoe reageer God hierop? Hy straf die volk – Hy tref hulle met ‘n ramp (Eksodus 32:35). Hoekom tree God so drasties op? Die antwoord kry ons in Moses se lied: Israel het vreemde gode bo die Here verkies, Hom getart met hulle afskuwelike afgode,  offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie, aan onbekende gode, nuwe gode wat van die bure af kom, gode wat onbekend was aan julle voorvaders …Hulle het iets wat nie ‘n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks was nie (Deuteronomium 32:16 – 17, 21).

 

Wat gebeur as ons afgode aanbid? ‘n Afgod is geen god nie – dit is ‘n leuen. Agter die leuen staan die Satan en sy helpers – demone. Paulus stel dit so: Wat wil ek hiermee sê? Dat ‘n afgodsoffer of ‘n afgod enige betekenis het? Nee, maar dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer, en nie aan God nie (1 Korintiërs 10:19 – 20). Ons moet dit duidelik verstaan dat God nie enige vorm van aanbidding aanvaar nie. Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstelling van bose geeste aanhang (1 Timoteus 4:1).

 

Baie hiervan het reeds in ons tyd waar geword. Daarom kry ons so baie verskillende groepe en verskillende onderrig van mense wat die Naam van die Here gebruik. Jesus self het al gewaarsku teen vals profete: Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus 7:15 – 23).

 

Iets wat meer algemeen word, is dat die mens homself as sy eie God sien. Daarna kyk ons volgende keer.

 

image_pdfimage_print