God se toorn

image_pdfimage_print

 

“In this world two things are essential: a healthy life and friendship…” – Augustinus

 

God se toorn

Om mense vir Christus te wen sluit in dat hulle besef dat daar ‘n behoefte is wat net Christus kan vervul. Een hiervan is die behoefte om God se toorn te ontsnap. Hierdie waarheid kry ons in 1 Tessalonisense. Paulus het die woord in hierdie stad verkondig.

 

In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom (1:6). Wat was so oortuigend in Paulus se prediking? Hoe julle julle van die afgode bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat uit die dood opgewek is, uit die hemel verwag. Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom (in die ou vertaling van die toekomstige toorn verlos) (1:9 – 10).

 

Paulus het hulle gewaarsku: Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval … en niemand sal ontkom nie (5:3). Hy het die gelowiges aangemoedig: Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die verlossing te verkry deur ons Here Jesus Christus (5:9 – OAV). Paulus weet dat Jesus self gesê het: Wie egter aan die Sun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Johannes 3:36).

 

John Piper sê dat dit lyk asof moderne mense min slaap oor God se toorn verloor. Hy sê dat alle ongelowiges bewus is van God se toorn wat sal kom … en dat hulle dit verdien. Hulle het hierdie kennis onderdruk, maar dit is daar. God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk (Romeine 1:18). Hulle ken God; alle mense ken God, maar hulle onderdruk hierdie kennis.

 

Wat ken hierdie mense? Hulle is mense wat die verordeninge van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen (Romeine 1:32).  Hulle ken God se verordeninge, en weet dat wat hulle doen verkeerd is. Hulle weet dat as hulle hierdie dinge doen hulle die dood verdien.

 

Alle mense weet dit – hulle weet hulle doen die verkeerde dinge; hulle weet dat hulle voor ‘n persoonlike Regter skuldig is; hulle weet hulle verdien die straf. Ons almal weet dat God se toorn gaan kom. Ons mag hierdie kennis onderdruk het, maar dit is daar. Maar ons as gelowiges het die goeie nuus: daar is ‘n manier om God se toorn te ontsnap. Jy is dalk die een wat deur God aangestel is om hierdie waarheid weer in hulle wakker te maak en aan hulle hoop te gee.

 

Almal wat die evangelie van Jesus en mense liefhet, moet duidelik praat – insluitend die waarheid dat Jesus ons van die toorn van God verlos.

 

 

 

image_pdfimage_print