Hoe moet ons die verhale van die Ou Testament verstaan?

image_pdfimage_print

 

The Bible tells us to love our neighbors, and also to love our enemies; probably because they are generally the same people.”- G.K. Chesterton

 

Hoe moet ons die verhale van die Ou Testament verstaan?

Baie van ons het as kinders ‘n Kinderbybel gehad waarin ons die verhale van die Ou Testament gelees het. Hulle het ons aandag vasgevang. As kinders leer ons die storie van die Bybel – storie vir storie. Maar as ons ouer word, glo ons dat ons nou die dieper waarhede van die Bybel soos ons dit in die Nuwe Testamentiese briewe kry, kan hanteer. Stories is vir kinders.

 

Maar die raamwerk van die Bybel is stories. Van Genesis tot Openbaring is dit een groot storie: die skepping, die sondeval, God se pogings om die mens te verlos en die finale nuutmaak van alles met die koms van Jesus Christus. Dit is die oorhoofse verhaal van die Bybel

 

Maar binne hierdie oorhoofse verhaal kry ons die individuele stories van Josef, Rut, Josua en vele ander. Hoe moet ons die stories van die Ou Testament verstaan?

  • Lees individuele stories in hulle spesifieke konteks, maar altyd met die oorhoofse storie in gedagte. Die verhaal van Rut is ‘ pragtige storie van stryd, geloof, verlossing en toewyding. Maar dan lees ons dat sy Dawid se oumagrootjie is – sy pas in die groter storie in. Sy word selfs in Jesus se geslagsregister ingeluit – Rut die vrou uit Moab. Haar storie behels meer as haar familie en die oes van graan.
  • Lees die stories natuurlik. Stories help ons om die breër betekenis van wat gebeur het, te verstaan. Elke storie het nie noodwendig ‘n sedeles nie. Die storie van Josua wat die Israeliete deur die Jordaan lei, is presies dit. Ons moenie dink daar is een of ander simboliese betekenis in die rivier nie. Om ‘n simboliese betekenis aan elke Bybelstorie te heg, is misleidend. Dit aanvaar daar is ‘n verborge betekenis in die stories en die gewone leser wil weet wat hy nie in hierdie storie raaksien nie.
  • Ons moenie elke Ou Testamentiese storie moraliseer of vergeestelik nie. Jakob mislei sy broer Esau en later sy oom, Laban. Die Bybel veroordeel nie dit wat Jakob gedoen het nie – dit praat dit ook nie goed nie. Die verhaal vertel vir ons net wat gebeur het. Josua se vernietiging van Ai en sy inwoners beteken nie dat ons ons vyande moet uitwis nie. Ons moenie in elke geval die “moraal van die storie” soek nie. Hierdie stories illustreer wel waarhede wat elders in die Bybel geleer word.
  • Ons moet leer uit die ingewikkelde lewens van die karakters in die Bybelstories. Ons ondervind spanning as ons lees dat die groot helde van die Ou Testament foute gehad het en oortree het. Dit word aanvaar dat ons sal uitwerk wat verkeerd is in die lig van ander gedeeltes in die Bybel. Die karakters in die verhale is almal sondaars, maar hulle is deel van die geskiedkundige ontvouing van die oorhoofse storie van die Bybel – die storie van God. Die Bybel is baie eerlik.
  • Ons moet deur die stories van die Bybel lees en dit sien as die storie van God – die sentrale karakter in die Bybel. Die Ou Testament se storie openbaar die Skepper van alle dinge as die God van liefde – Hy is heilig. Sy liefde sien ons in sy geduld, beskerming, genade en leiding.

 

Die verbasende is dat elke keer as ons deur een van hierdie stories lees ons iets nuut sien. Ons sien onsself – ons sondes en nie net die sondes van die karakters in die storie nie. En ons sien hoop wat ons nooit sou gesien het as dit nie vir die genade van God was nie.

 

 

 

image_pdfimage_print