In die gees by iemand – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Ek weet daar is verse in die Woord wat my “verkeerd” gaan bewys, maar ek kan dit nie insien nie. Hoe kan jy “in die gees” by iemand wees? As dit so is, moet jy mos kan weet wat gesê word, of hoe? Ek kan verstaan as jy sê “in die gedagtes”, maar ek verstaan nie van “in die gees” nie.

Antwoord

Prof. Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is eintlik nie ‘n teologiese aangeleentheid nie, maar gewoon ‘n taalkundige een. Tog het dit ook ‘n godsdienstige kant. Kom ons kyk.

In populêre taalgebruik word daar dikwels onderskei tussen ‘n mens se gees, siel en liggaam. “Liggaam” is die fisiese of liggaamlike sy van ons lewe. “Siel” is die meer spirituele, godsdienstige kant, naamlik die mens wat verlang na en in verhouding met God tree. “Gees” het weer te doen met die menslike wil, lewenskrag en vermoëns, wie en wat jy ten diepste is. Dis in hierdie konteks dat ‘n spreekwoord gebruik word soos: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak”. Dit beteken dat iemand graag iets wil doen, maar nie fisies daartoe in staat is nie.

Nader aan die vraag hierbo sal mens soms op ‘n uitnodiging na ‘n partytjie soos volg reageer: “Ag, ek wil vreeslik graag daar wees, maar sal ongelukkig nie kan nie. Maar wees verseker, in die gees is ek by julle.” Hiermee bedoel mens dat jy nie fisies by die partytjie teenwoordig kan wees nie, maar wens dat jy daar kan wees. Wanneer die partytjie aan die gang is, sal jy dink aan die mense wat daar is, wonder hoe dit afloop en wat almal alles doen. Jou gees is eintlik daar, maar omdat jy nie alomteenwoordig is nie, kan jy nie fisies teenwoordig wees nie. Dit beteken uiteraard dat mens nie weet wat alles daar gebeur nie, want as mense is ons gebonde aan een plek op ‘n spesifieke tydstip. Maar in die gees reik mens partymaal uit na ander plekke, verlang jy om daar te wees, en is jy in ‘n sekere sin wel daar. Jy kan jou indink, selfs inleef hoe dit is, sonder om fisies daar te wees.

Hierbo het ek gesê dat die onderskeid tussen siel, gees en liggaam populêre taalgebruik is, ‘n manier van praat om tussen die verskillende aspekte van ons lewe te onderskei. Maar dit moenie so verstaan word as sou die mens regtig opgedeel kan word in of ‘n samevoeging is van drie afsonderlike dele nie, want die mens is ‘n psigosomatiese eenheid. Dit beteken dat ons ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Daar is nooit ‘n tyd waar al drie nie deel is van dieselfde werklikheid of gelyktydig saamwerk nie. Hierdie drie kan dus onderskei, maar nie geskei word nie. Hulle is eintlik maar net drie perspektiewe op of drie maniere van kyk na dieselfde mens. Daarom kan ons ook sê dat die hele mens liggaam is, of gees is, of siel is. Dit hang net af watter aspek van menswees op ‘n bepaalde tydstip beklemtoon word. Soms wil jy op die geestelike vermoëns van die mens fokus, maar dit beteken nie dat op daardie moment die ander twee afwesig is nie. Ons bestaan nie as gees (of siel) los van ons liggaam nie. Omgekeerd, ons liggaam (fisiese lewe en omstandighede) het weer dit wat ons “gees” en “siel” noem, nodig; daarsonder is ons nie mens nie. Net soms lyk dit asof die een bo die ander uitstyg. So sal ons van ‘n parapleeg sê: “Hy mag nou wel nie kan loop nie, maar dit blus geensins sy lus vir die lewe nie; sy gees is sterker as sy liggaam.” Dit wil amper lyk of die liggaam aangevuur en gedryf word deur bo-liggaamlike kragte en vermoëns, maar uiteindelik kan hierdie kragte slegs deur die liggaam gekanaliseer word. Dus, om “in die gees” op ‘n ander plek te wees as waar jy fisies is, is hoogstens ‘n metaforiese manier van praat om jou verlange, begeerte en bereidwilligheid tot kommunikasie uit te druk, maar kan ongelukkig nie meer wees as dit nie. Dit bly gebonde aan die beperkings wat ons liggaam op ons lê.

Bogenoemde was min of meer ‘n taalkundig-antropologiese verstaan van die uitdrukking: “in die gees is ek daar”. Maar wat van die meer teologiese of godsdienstige? Die uitdrukking om “in die gees” (êrens) te wees, kom wel ‘n keer of wat in die Bybel voor, maar hier verwys “gees” nie na die menslike gees nie, maar na God se Gees. Ons lees byvoorbeeld in Openbaring 1:10 dat Johannes op die eiland Patmos “in die Gees” op die dag van die Here (= Sondag) ‘n harde stem agter hom gehoor het en toe die opdrag ontvang om alles op te skryf wat hy sien. “In die Gees” beteken hier dat Johannes ‘n soort visioen ontvang of gesig gehad het, dat hy in ‘n g(G)eestesverrukking was, of, soos die 1983-Vertaling dit stel, dat hy “deur die Gees meegevoer is” en allerlei dinge meegedeel is oor hoe God besig is om “agter die skerms” te werk. Dis amper dieselfde as wat Paulus ervaar het toe hy tot in die derde hemel weggeruk is en daar onuitspreeklike dinge gehoor het (2 Kor 12:2-4). Hier word egter nie die woorde “in die Gees” gebruik nie, hoewel Paulus sê dat hy nie weet of dit “in die liggaam” of “buite die liggaam” was nie. Dis duidelik dieselfde soort ervaring as wat Johannes op die eiland Patmos gehad het – ‘n gebeure wat deur die Gees van God veroorsaak is, ‘n gebeure wat die betrokke mens se fisiese beperkings oorskry en hom na ‘n ander werklikheid verplaas het.

Daar is nie ‘n direkte verband tussen die uitdrukking “in die gees is ek by julle” en om “in die Gees” een of ander geestelike ervaring te hê waar jy voel dat jy na ‘n ander wêreld gevoer word nie. Eersgenoemde is ‘n gewoon menslike manier van praat om ‘n verlange of wens uit te druk en laasgenoemde is ‘n ervaring wat uit en uit deur God bepaal word. Tog is daar ‘n raakvlak. Mens kan sê dat beide met ‘n soort buite-normale ervaring te doen het waar ‘n verplasing van lokaliteit in die menslike gees plaasvind, die een bewerk deur menslike verlange en die ander deur God. Wat dalk ‘n aanduiding kan wees dat ons as mense meer is as wat ons fisiese beperkings op ons plaas. Ons is deel van ‘n groter werklikheid wat ons fisiese bestaan te bowe gaan. Ons taalgebruik sê dit, ons geestelike ervarings suggereer dit. Maar meer as dit is spekulasie. Dalk hou die toekoms saam met God, ook na ons dood, allerlei verrassings in. Maar laat ons nie nou dinge vooruit loop nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...