Jesus die weg na God toe (14:1-6)

image_pdfimage_print

Jesus die weg na God toe (14:1-6) – Francois Malan

14:1 Die woord vir ontsteltenis, waarvan hier gepraat word, is ook gebruik vir die waters van Betesda, wat onstuimig in beweging gebring is (5:7),  maar ook om akute emosionele en geestelike spanning te veroorsaak, soos Jesus beleef het toe Hy by Lasarus se graf gestaan het (11:33), die kruisdood voorsien het (12:27), Judas se verraad voorsien het (13:21).  Aan die vooraand van sy gevangeneming, veroordeling tot die dood, kruisiging, spot van verbygangers, beveel Jesus sy dissipels: laat julle harte en denke nie in ontsteltenis verwar word nie. 

In die onstuimigste omstandighede, glo in God! – eintlik: as dit lyk of die wêreld mal geword het, ‘bly steeds glo/vertrou op God’ as die soewereine Here van sy skepping. Nog moeiliker: glo ook in My! – bly steeds op My vertrou as  die Seun van God,  wanneer  hulle sien hoe Jesus weggesleep word, gegésel word, met ‘n doringkroon op sy kop, onder sy kruis strompel, naak aan ‘n kruishout sterf (Rom 4:18: Abraham het teen alle hoop steeds in hoop geglo wat God vir hom beloof het – en so die vader van alle gelowiges geword). Slegs met so ‘n geloof kan jy jou benoudheid en besorgdheid oorwin. Met dié dubbele opdrag om in God en in Hom te glo stel Jesus Homself weer gelyk aan God (10:30,38).

 

14:2 Jesus gebruik die beeld van ‘n huis met baie woonplekke vir sy Vader se hemelse woning (Hebr 12:22 praat van die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele; Openb 21:9-22:5 die heilige stad Jerusalem wat van God af uit die hemel afkom met die heerlikheid van God; die woonplek van God by die mense Openb 21:3; 2 Kor 5:1 as ons aardse tentwoning afgebreek word het ons ’n vaste gebou in die hemel, ‘n woning deur God gemaak, wat vir ewig bly staan).  Jesus vertrek om, deur die dood en verhoging, vir sy volgelinge ‘n tuiste reg te maak in daardie woning, wat reeds bestaan, sodat hulle vir ewig by Hom kan wees. Sonder Jesus kan niemand in die hemel woonplek kry nie.

 

14:3 Jesus se belofte dat Hy weer kom om sy volgelinge te kom haal om by Hom te bly, verwys na sy wederkoms. Aan die einde van die tyd kom Jesus in sy volle heerlikheid. Dan sal Hy sy eiendom met Hom saamneem na die plek in die hemel wat Hy vir hulle gereedgemaak het (Joh. 5:28-29). Maar wanneer die gelowige sterwe, is dit ook wanneer Jesus hom kom wegneem om altyd by Jesus in die hemel te wees (Joh. 11:25-26; Lk 16:22; Flp 1:23).

 

14:4 Julle ken die weg waarheen Ek gaan (1983-vertaling voeg in: …die weg ‘na die plek’ waarheen…). Jesus het die weg daarheen deurgaans duidelik uitgespel – dit is deur geloof in Hom dat hulle die ewige lewe verkry. Maar die waarheid het nog nie ten volle by hulle deurgedring nie. Daarom toets Jesus hulle met dié stelling dat hulle die weg ken, om dit weereens uit te spel.

 

14:5 Oor waarheen Jesus gaan is die dissipels onseker (13:33,36). Tomas verwoord hulle onkunde oor die plek en die weg daarheen. Dit openbaar hulle onkunde oor die huis van die Vader (14:1-2). Hulle dink nog aan ‘n aardse woning, en ‘n aardse koninkryk.

 

14:6 Die plek waarheen Hy  vertrek, is duidelik die huis van sy hemelse Vader (14:2-3) – niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. Dit gaan nie om sy aardse vader nie, maar om Jesus wat God is, die Seun van God (1:34,49; 3:16,18; 5:25; 10:36; 11:4,27;  19:7 waaroor Hy doodgemaak word). Dit kon Tomas en die dissipels nog nie mooi begryp nie.

            Jesus se antwoord oor die weg begin met ‘Ek, Ek is’ soos Hy Hom aan Moses bekendgestel het (Eks 3:14) om te bevestig dat Hy God is. Ek is die weg na die Vader. Hy is die weg na die Vader en die Vader se woning deur sy gehoorsame offer van Homself in die dood, en deur sy opstanding, as die goddelike Middelaar tussen God en mens, deur wie ons elke dag tot die troon van God kan gaan, en begin lewe soos Jesus (Hebr 10:19-24). Hy is die waarheid, die openbaring van God aan die mens, die openbaringsmiddelaar. Sy woorde oor die liefde van God vir die wêreld, en oor ons verlossing van sonde deur Hom, is volstrek betroubaar. Naas Hom is daar geen ander waarheid waardeur ‘n mens gered word nie. Hy is die lewe in die skepping en in die herskepping (1:4,12-13; 5:26), die Middelaar van verlossing tot ‘n lewe in God. Hy oorwin die dood. Hy is die opstanding en die lewe vir elkeen wat in Hom glo (11:25), die bron van die lewe en die sin van die lewe. Vir die Samaritaanse vrou is Hy die weg na God toe (4:23-26), vir Nikodemus is Hy die waarheid (3:11-16), vir Lasarus is Hy die lewe (11:25-27,43-44).

            Die negatiewe stelling aan die einde van v6 (niemand kom na die Vader behalwe deur My nie) beskryf die teenstand wat die die Woord van God, wat mens geword het, gely het as die Weg, die Waarheid en die Lewe, maar die werklikheid waarna dit verwys is positief vir die mensheid. Alle egte waarheid is God se waarheid, alle lewe is God se lewe. God se Waarheid en Lewe het mens geword het in Jesus, die weg na God toe.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...