Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

image_pdfimage_print

 

The illusion which exalts us is dearer to us than ten thousand truths. –Aleksandr Pushkin (1799-1837)

Jy is geroep; jy is gestuur; gaan

Matteus 10 en Lukas 10 is belangrike Skrifgedeeltes vir ons uitreik na die wêreld om ons. Hier gee Jesus opdragte aan sy dissipels oor hoe om uit reik na die wêreld om hulle. Ons kan dit sien as spesifieke stappe wat ons moet uitvoer voor ons kan uitreik of as beginsels. Een van die redes waarom ons dikwels nie slaag in ons uitreik na die wêreld nie, is omdat ons ons eie beginsels neerlê en volg.

 

Wat is hierdie beginsels?

  • Roep en stuur spesifieke mense uit op die sending

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was … Jesus het die twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee (Matteus 10:1 – 5).

God inisieer hierdie roeping en uitstuur, maar Hy kommunikeer altyd sy roeping en sending deur ‘n plaaslike groep gelowiges. So sien die gemeente in Antiogië die behoefte en stuur vir Paulus en Barnabas uit na die heidenwêreld. Omdat die plaaslike gemeente die liggaam van Christus is, is dit vanwaar die roeping en stuur meestal sal kom.

 

Om gestuur te wees, beteken nie noodwendig dat ons na ‘n ander land moet gaan nie. God stuur ons elke dag in die wêreld om ons. Om gestuur te wees is nie ‘n reis nie – dit is ‘n lewenstyl. Dit beteken ek moet na die stem van die Heilige Gees luister, maar ek moet ook na die leiding van ander in die gemeente luister. Baie van ons sal weerstand bied as ons die roeping hoor – soos Moses. Ons het nou die leiding en bemoediging van ons medegelowiges nodig om deur die weerstand te breek. Na watter persoon roep God jou om die Goeie Nuus aan hom oor te dra; na watter plek roep God jou om te gaan – ver of naby?

 

  • Gee gesag met verantwoordelikheid

Toe Jesus sy volgelinge uitgestuur het, het Hy aan hulle die gesag gegee om die taak wat Hy aan hulle opgedra het, uit te voer. Al moes hulle nog baie leer, het Hy hulle vertrou. As ‘n gemeente mense uitstuur, moet die gemeente hulle oplei en ondersteun. Jesus gee aan elkeen van sy volgelinge die gesag om die goeie nuus oor Jesus Christus aan ander te verkondig – nie net aan leraars en sendelinge nie. Die krag om die goeie nuus uit te dra is aan elkeen van ons gegee – ons is gesante van Christus en ons gesag kry ons by Hom.

 

  • Vir doeltreffende evangelisasie moet jy fokus

Moenie met ‘n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in ‘n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe (Matteus: 10:5 – 6)

Jesus se fokus tydens sy openbare bediening was om na die verlore skape van Israel uit te reik – dit was nog nie die regte tyd om na die heidennasies uit te reik nie. Hierdie is ‘n belangrike beginsel: jy kan nie terselfdertyd na almal toe uitreik nie – jy moet fokus. Kies jou fokus en ontwikkel dan die metodes wat jy nodig sal hê om hulle te bereik Vir elke teikengroep moet jy ‘n spesifieke strategie ontwikkel. Ons fokus, nie om eksklusief te wees nie, maar om doeltreffend te wees.

 

As individue begin ons fokus dikwels by ons familie en vriende – diegene wat die naaste aan ons is. Hulle het die veranderinge wat Jesus in ons lewens aangebring het eerstehands gesien. Ons is dus beter in staat om na hulle uit te reik as enigeen anders.

 

Ek is gestuur; ek ontvang gesag; ek moet fokus.

 

image_pdfimage_print

You may also like...