Laat sy Liefde jou Lei: Ek het God gevra …

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Ek het God gevra … – Mlilanie Vosloo

Ek het God gevra …

God wil hê dat alle volke op aarde Hom moet dien. Hy wil hê dat ons almal voor Hom moet buig. Gelukkig is God naby aan ons almal. Handelinge 17:27

Vir baie jare het ek geworstel met die sinvolheid van mý lewe. Toe ek jonk was het ek geglo dit lê in ’n perfekte lyfie en skoonheid. In my twintigs het ek God gevra om aan my sukses, rykdom en geluk te gee. Na my kinders se geboortes, het my gebede meestal om hul beskerming en geluk gedraai terwyl ek al hoe meer vir wysheid begin bid het. Namate ek ouer geword het, het die kwessie van gesondheid ’n groot deel van my gebede uitgemaak … Ja, ons menslike gesprekke met God gaan mos maar heel dikwels oor onsself, die mense vir wie ons lief is en ons beskerming en voorspoed hier op aarde.

Natuurlik luister God na al ons mens-gebede en die detail van ons lewens. Tog dink ek dat God wil hê dat ons geloof en gebede ook sal groei tot vaste spys-voedsel. Ek dink Hy wil baie graag hê dat ons meer sal vra: Here, laat u wil deur my lewe geskied. Neem my menswees, heilig dit en laat ek dan sigbaar en hoorbaar u beelddraer wees.

Mag ek en jy die genade ontvang om tot God te bid vir die klein dingetjies, maar mag ons ook die onderskeidingsvermoё hê om vir dié dinge te bid wat werklik ‘n ewigheidsverskil maak.

Here Jesus, dankie dat my hele menswees ‘n kragtige instrument in u hande is.

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...