Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede!

image_pdfimage_print

Laat sy liefde jou lei: ‘n “Ja” vir God bring vrede! – Milanie Vosloo

“Elkeen wat aan die wil van my hemelse Vader gehoorsaam is, is my eintlike familie.” Matteus 12:50

 

God se opdragte is nooit goedkoop nie. Dan sou almal mos doen wat Hy vra. Nee, ons Here vra dikwels juis die effens moeiliker dinge van ons. Soms selfs die oёnskynlik onmoontlike. Want ons God weet waartoe ons in staat is wanneer ons dit sáám met Hom doen.

 

Die heerlikheid van gehoorsaamheid lê dikwels nie in die uitkoms nie, maar in die blote wéte dat jy getrou aan sy stem was. Want gehoorsaamheid bring ongekende vrede in die harte van God se kinders. Dit maak jou vry van jouself, van wêreldse bande, van aardse goed en van skuldgevoelens. Oombliklike gehoorsaamheid, sê Rick Warren, gaan jou meer van God leer as ‘n leeftyd van Bybelstudie. Jy sal sommige bevele trouens nooit verstaan as jy hulle nie eers gehoorsaam nie.

 

Onthou vandag, jy kan nooit ‘n fout maak as jy aan God gehoorsaam is nie, want wanneer jy doen wat Hy vra, sê wat Hy van jou verwag en leef soos wat Hy hou voorskryf, sal dit altyd tot jou beswil en tot sy eer en verheerliking wees.

 

Gehoorsaamheid aan God laat jou tevrede voel selfs al moes jy opoffer; dit gee aan jou rus selfs al werk jy baie hard en dit plaas ‘n stuk dankbaarheid in jou hart selfs al het jy nie alles wat jou hart begeer nie.

 

Heilige Gees, leer my om u stem nie net te hoor nie, maar sonder aarseling te doen wat U vra.

 

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning. Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

milanie_boeke_advertensie

 

 Skrywer: Milanie Vosloo

 

image_pdfimage_print

You may also like...