Maak die mense my dissipels en doop hulle

image_pdfimage_print

“If you are renewed by grace, and were to meet your old self, I am sure you would be very anxious to get out of his company.” C. H. Spurgeon

Maak die mense my dissipels

Ons ken almal hierdie opdrag van Jesus, maar wat beteken dit? Hierdie is nie ‘n voorstel wat Jesus gemaak het nie – dit is ‘n opdrag. Eenvoudig gestel: Dissipelskap is ‘n doelgerigte venootskap met ‘n ander persoon om daardie persoon te help om Jesus te gehoorsaam en om in sy verhouding met Jesus te groei. Hierdie persone moet dan op hulle beurt ander lei na Jesus toe. Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer (2 Timoteus 2:2).

 

Hoe leef ons hierdie opdrag uit?  Miskien moet ons kyk na wat ons verkeerd doen voor ons dit reg sal kry.

  • Dissipelskap is nie maklik nie.

Verlossing is gratis, maar dissipelskap kos ons ons lewens. Jesus stel dit so: Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou.” (Lukas 9:23 – 25). Om ‘n dissipel van Jesus te wees beteken dat ek my lewe opgee om Hom te volg – heelhartig en onvoorwaardelik. My lewe in nie meer myne nie, maar Syne.

  • Dissipelskap is nie net “ek en Jesus” nie

Dissipelskap is ‘n verhouding. Om volledig aan Jesus se opdrag te voldoen, moet ons dissipels wees wat dissipels maak. Dit beteken ons moet tyd met ander mense spandeer. Jesus en sy dissipels het baie tyd saam deurgebring – hulle het saam geëet, saam geloop, saam in bote gery … Hulle doen dit voortdurend en doelgerig. As ons geroep is om dissipels van Jesus te wees, word ons dissipels saam met ander – ons leer hoe om God en mekaar lief te hê. Ons moet toelaat dat ander ons uitdaag en bemoedig in ons wandel saam met God. Dit is waarom eerlike verhoudings so belangrik in ons Christelike lewe is. Om waarlik dissipelsvan Jesus te wees, het ons mekaar nodig.

  • Dissipelskap is nie mentorskap nie

Mentorskap is wat die mentor aan iemand anders kan bied deur sy eie wysheid en ondervinding; dissipelskap is wat Jesus kan bied deur sy wysheid en teenwoordigheid. Jy het nie ‘n reeks kwalifikasies nodig vir dissipelskap nie – jy moet net vir Jesus volg en gehoorsaam en gewillig wees om ander te help om dieselfde te doen.

  • Dissipelskap is nie ‘n metode nie.

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, beteken nie ek moet lidmaat van ‘n spesifieke denominasie wees, deel van ‘n spesifieke kleingroepie wees nie. Dit vereis wel dat ek die dinge van die koninkryk van God doen – soos Jesus se dissipels gedoen het. Hulle moes die goeie nuus dat die koninkryk van God naby gekom het, verkondig en die siekes genees. Dissipels word steeds geroep om die evangelie aan ander te verkondig in ons gemeenskappe en om te bid vir die wat siek is en dié wat seerkry.

image_pdfimage_print

You may also like...