Met wie spandeer jy tyd?

image_pdfimage_print

God cannot give us a happiness and peace apart from Himself, because it is not there. There is no such thing. —C.S. Lewis

 

Met wie spandeer jy tyd?

“Jy is die geselskap wat jy hou.” Die ouer mense het graag hierdie spreekwoord teenoor hulle kinders gebruik. Is dit waar? Is ons net die voorwerp van hulle invloed of moet ons probeer om ander te beïnvloed om te verander? Hoe kan ek ‘n persoon beïnvloed om ‘n dissipel van Jesus Christus te word?  As ons dissipels wil maak, het ons ‘n strategie daarvoor nodig. Hierdie strategie moet soos Jesus se strategie lyk. Met wie het Jesus tyd gespandeer? Mense met leierskapspotensiaal (nie noodwendig bewese leiers nie) en mense op die rant van die samelewing.

 

Elke leier wat soos Jesus wil lei het ‘n verpligting om in mense in hierdie twee kategorieë te belê.

 

  1. Diegene met leierskapspotensiaal

“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (Lukas 22:31 – 32).

Alle leiers lei; goeie leiers ontwikkel. Ongelukkig meet ons leierskap volgens die persoon se vermoë om take af te handel. Die belangrikste leierskapsvaardigheid is  om mense met leierskapspotensiaal te identifiseer. Groot leiers help dan mense om hulle potensiaal te bereik. Die grootste nalatenskap van ‘n leier is nie wat hy gedoen het nie, maar wie hy ontwikkel het.

 

Ons sien dit in Jesus se lewe. Al sy dissipels, met die uitsondering van Judas,  is voorbeelde van Jesus wat leierskapspotensiaal ontwikkel – en dit in ‘n groep alledaagse manne.  Petrus is ‘n goeie voorbeeld.  Hy was ‘n oorywerige man wat eers gedoen en dan gedink het. Maar onder Jesus se leiding ontwikkel hy tot die leier van die vroeë kerk. Ons lees van sy preek op daardie eerste pinksterdag toe 3000 mense hulle bekeer het. Dit verskil hemelsbreed van die Petrus wat enkele dae vantevore ‘n diensmeisie beledig het omdat sy gesê het dat hy ook ‘n volgeling van Jesus is. Jesus ontwikkel leiers.

 

  1. Diegene op die rant van die samelewing

Die Seun van die mens het gekom en geëet en gdrink en hulle sê: “Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.” (Matteus 11:19).

Jesus het ook geglo en belê in mense op die rant van die samelewing. Om aan hierdie mense liefde te bewys en aan hulle ‘n stem te gee, is nie juis die aanvaarde patroon in ons samelewing nie. Dit behoort ‘n prioriteit vir elke Christen, veral Christenleiers, te wees. Jesus het bande gehad met groepe wat nie in die samelewing waardeer is nie: vroue, Samaritane, kinders, sondaars, armes, siekes … Jesus was aan elk van hierdie groepe toegewy. Hulle kon nie iets van groot waarde vir Jesus gee nie. Hy het nie probeer om iets uit die verhouding te kry nie.

 

Identifiseer ons ooit diegene wat op die rant van ons samelewing staan? Is dit nie tyd dat ons dit doen en ‘n ware vriendskap/verhouding met hulle aanknoop nie? Christus heg waarde aan hulle. Elkeen van hulle is ‘n beelddraer van God. Ons moet vir die wêreld wys dat ons hulle waardeer en liefhet. Ons moet vir hulle modelleer hoe dit lyk as Jesus Christus in ons lewens is.

 

Met wie spandeer jy tyd? Wie is jou vriende? As ons soos Jesus wil wees, moet dit wees met mense met leierskapspotensiaal en mense op die rant van ons samelewing.

 

image_pdfimage_print