Moenie net daar staan nie … doen iets

image_pdfimage_print

How utterly terrible is the current idea that Christians can serve God at their own convenience.” — AW Tozer

 Moenie net daar staan nie … doen iets

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8).

Nadat Jesus dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien – Jesus se hemelvaart. Hierdie was die einde van Jesus se lewe op aarde, maar dit is ook die begin van die verhaal van die vroeë kerk.

Jesus sê in werklikheid vir sy dissipels: Dit is nou julle beurt om My lewe op aarde te leef. Hulle besef dit is onmoontlik, maar Jesus belowe dat Hy die Heilige Gees gaan stuur  om vir hulle alles te gee wat hulle nodig sou kry.

 Lukas gaan voort met die verhaal. Die dissipels kyk stip na die hemel toe daar skielik twee mans in wit klere by hulle staan. Hulle sê vir die apostels: Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom  soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Die apostels staan daar verbaas oor die gebeure wat hulle pas gesien het. Die engele sê vir hulle in soveel woorde: “Moenie net daar staan nie – doen iets. Julle het ‘n opdrag. Doen wat julle aangesê is om te doen.”

 Hierdie woorde geld net so vir my en jou. Ons het die taak van daardie dissipels geërf. Ons kan nie net rondstaan terwyl daar so baie is om te doen nie. Ons taak is om die koninkryk van God sigbaar in hierdie wêreld te maak. Ons moet die Christelike boodskap uitleef. Ons opdrag is om die goeie nuus tot in die uithoeke van die wêreld uit te dra. Die uithoeke van die wêreld is daar waar ek leef en werk en sosialiseer. Moenie net daar staan en na die hemel opkyk nie – doen iets.

image_pdfimage_print