‘n Tweede en Derde Hervorming

image_pdfimage_print

It is better to pray often with brevity than rarely but at length. —D.A. Carson

 

‘n Tweede en Derde Hervorming

Net meer as ‘n dekade gelede pleit Rick Warren vir ‘n Tweede Hervorming: ‘n hervorming van dade. Die eerste hervorming was oor doktrine. Ons nader die 500ste herdenking van die Hervorming. Daar is toenemend gesprekke oor hervormings wat nodig is. Warren se oproep is nie juis uitgevoer nie. Dit is ook ‘n vals antitese wat geskep is tussen doktrine en dade. Die regte doktrine reg verstaan lei tot die regte dade. Ons kan nie die een of die ander een kies nie.

 

Warren het geglo dat die grootste uitdaging waarvoor die kerk in 2005 te staan gekom het, was ‘n verlies aan geloofwaardigheid. Niks het eintlik sederdien verander nie. Die kerk praat van lewens wat verander word, maar die wêreld sien die kerk se agenda as dieselfde as die samelewing s’n. Al verskil in leefwyse is kerkbywoning. Vandag woon baie Christene nie eers meer die eredienste by nie.

Hoe sou so ‘n hervorming van dade lyk? Dit sou die Bybelse beginsel van teenwoordigheid – om daar te wees – ernstig opneem. Niks is belangriker om langs diegene wat hulp nodig het, te kom nie. In Jesus se tyd was dit maar ‘n moeilike besigheid – hoe is Hy nie gekritiseer omdat Hy langs tollenaars, sondaars en dronkaards geloop het nie. As ons dit probeer, gaan die kritici gou toetree.

 

Brian Harris glo dat die oproep vir die tweede hervorming geldig was, maar dat ons tans ‘n derde hervorming nodig het: ‘n hervorming van die regte gesindheid. Dit is moontlik om die regte ding uit pligsbesef te doen, maar dit met ‘n hart van klip. Die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun is ‘n goeie voorbeeld. Hy bly by sy vader se huis en doen altyd wat hy gevra word om te doen. Sy hart was nie reg nie. Hy doen alles wat reg was, maar binne in hom was sy hart nie reg nie. Hy steek dit weg tot op die dag dat sy broer terugkeer en met ope arms deur hulle vader verwelkom word. Toe volg die uitbarsting en sy hart word blootgelê.

 

In ‘n tyd van media versadiging tree deernis-uitputting maklik in. Ons hoor die een aaklige storie na die ander. Mettertyd raak dit ons nie meer nie. Ons begin aanvaar dat die mense wat swaarkry dit oor hulleself gebring het. ‘n Hervorming van gesindheid vereis dat ons die behoefte aan deernis weer sal raaksien. Ons sal dit net kan doen as ons sien dat ons ontvangers van God se deernis is, want ons het dit nodig gehad. As God nie sy oorvloedige liefde onverdiend oor ons uitgestort het nie waar sou ons gewees het?

 

Maar bring dit ons nie na die eerste hervorming terug nie. As ons Luther korrek verstaan, het jy  ‘n hervorming van doktrine, dade en gesindheid almal ineengevleg.

 

 

image_pdfimage_print