Ontmoetings met Jesus: Die Skeptiese Student

image_pdfimage_print

Be extravagant for God or the devil, but for God’s sake don’t be tepid. —C.T. Studd

Ontmoetings met Jesus: Die Skeptiese Student

[Ek maak onder andere van Timothy Keller se boek Encounters with Jesus gebruik.]

In die Johannes-evangelie lees ons van ‘n hele aantal ontmoetings wat Jesus met individue gehad het. In hulle antwoord Hy van die groot lewensvrae. Een van hierdie groot vrae is: Waar moet ons kyk vir antwoorde op hierdie groot vrae? As praktiese voorbeeld gaan ons na Jesus se ontmoeting met Natanael kyk (Johannes 1:43 – 51).

Johannes die Doper was ‘n bekende leermeester. Hy het ‘n paar toegewyde studente – Andeas, Petrus en Filippus – gehad. Hulle het geglo. Maar dan was daar Natanael. Hy was maar ‘n skeptiese student. Hy was eintlik ‘n intellektuele snob.

Filippus kom by Natanael en vra hom om saam met hom te kom, want hulle het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.  Hierop reageer Natanael snydig: Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?  Hierdie is ‘n gesindheid wat ons steeds kry – ook onder gelowiges. Ons kyk neer om mense wat aan die verkeerde kant van die treinspoor woon. Daar is die regte mense … en die ander. Ons wil graag hê ander moet sien ons is bekwaam en intelligent. Ons praat ook spottend en neerhalend van ander. Ons kan nie glo dat iemand wat uit Nasaret kom in staat is om die groot vrae te antwoord nie.

Baie mense sien die Christelike geloof soos Natanael Nasaret gesien het – hulle slaan hulle oë op na die hemel as ons net van Christus en geloof praat. Hulle kyk jou met ongeloof aan as jy vir hulle vertel wat Jesus gedoen het en steeds kan doen – dis nie vir hulle nie.

Hierdie geringskatting van die Christelike geloof is dodelik. Dit maak enige poging tot kreatiwiteit en probleemoplossing onmiddellik dood.  In so ‘n atmosfeer kan daar nie verhoudings ontwikkel nie. Dit is fataal om sekere idees sommer sonder om hulle te oorweeg, te verwerp. Deur die Christelike geloof summier te verwerp, sny ons die wortels van ons belangrikste waardes af. Dink aan die fundamentele beginsel van ‘n gemeenskap van vrede – jy moet jou vyand liefhê. Of: dink aan nog ‘n voorbeeld: elke mens is gemaak na die beeld van God en is daarom waardevol en het sekere regte. Dink aan die versorging van die armes. Waar kry ons hierdie waardes? In die Christelike geloof.

Ons moenie toelaat dat mense ons oortuig dat geloof outyds en intellektueel ongesofistikeerd is nie. Onthou die trots en vooroordele wat ons hier by Natanael kry. Moenie neerhalend teenoor ander wees nie

Natanael is trots en selftevrede. Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?  Net drie verse later sê hy: Rabbi, U is die Seun van God: U is die Koning van Israel!  Hieruit is dit duidelik dat hy ‘n diep onderliggende geestelike behoefte gehad het. Toe Jesus sekere geloofwaardige bewyse aan hom gee, verander hy vinnig. Vandag kry ons steeds baie openbare stellings wat op skeptisisme dui. Baie van hulle dui op ‘n onderliggende geestelike soeke. Hulle soek antwoorde op die groot lewensvrae.

Ten spyte van sy neerhalende opmerkings gaan Natanael tog saam met Filippus om Jesus te ontmoet. Hoekom? Die Jode was verward. Hulle weet nie waarom hulle onder die Romeine staan nie; hulle verstaan nie wat God besig was om met hulle te doen nie. Nêrens kry hulle bevredigende antwoorde nie. Is ons nog gewillig om soos Natanael na beter antwoorde te soek?

Nou kom Jesus en Hy sê twee dinge van Natanael:

  • Hier is ‘n ware Israeliet, ‘n man in wie daar geen bedrog is nie. Kan nie wees nie. Kyk hoe neerhalend het hy na Nasaret verwys. Jesus gee nie om as ons reguit praat en vrae vra nie.
  • Toe jy nog onder die vyeboom was, het Ek jou al gesien. Dit kon Natanael nie glo nie – dat Jesus van hom geweet het nog voordat Hy hom ontmoet het. Geen wonder Natanael roep uit: Rabbi, U is die Seun van God; U is die koning van Israel!  Jesus wys hom tereg: “Eers was jy skepties, maar nou is jy gereed om My te aanvaar. Ek het nog nie eers met jou oor die dieper dinge gepraat nie. Jy verstaan nog nie eers wie Ek werklik is nie.” Jesus is nie teen mense wat dink nie. Hier vra Hy vir Natanael om nog meer te dink.

Ons kan nie vir altyd skepties bly nie – dan vernietig ons onsself intellektueel. Aan die ander kant moet ons nie sommer die eerste idee aangryp en hoop dit los ons probleem oor die langtermyn op nie. Daarom moet ons nie die Christelike geloof aanvaar net omdat dit sekere van ons probleme hanteer nie – ons moet dit net aanvaar as dit waar is.

As ek vir die eerste keer na Jesus kom, verwag ek nie te veel nie – miskien sal Hy my help om ‘n beter persoon te wees Ek verwag nie antwoorde op die groot lewensvrae nie. As ek vir Jesus kry, kry ek meer as wat ek ooit verwag het. Nou kom ons by die laaste ding wat Jesus vir Natanael sê:  Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe. Engele is ‘n teken van die teenwoordigheid van God. Jesus Christus sê hier dat Hy die brug tussen hemel en aarde is. Deur sy menswording, kruisdood en opstanding kan Hy my reg in die teenwoordigheid van God bring.

Ons moet ontslae raak van al ons vooroordele. Kom kyk saam met Natanael. Praat met jou vriende oor Jesus; wees gereed om jou prioriteite te verander. Wat ek ook al droom, hoop en verwag – ek sal iets baie groter in Nasaret ontdek.

image_pdfimage_print