Oriëntasie, Disoriëntasie en Reoriëntasie: Waarheen as ongeloof my moeg maak?

image_pdfimage_print

Oriëntasie, Disoriëntasie en Reoriëntasie: Waarheen as ongeloof my moeg maak? – Kobus Kok

‘n Leser vra:

Ek het met godsdiens grootgeword, is gedoop en het belydenis afgelê. Dit is my gevoel dat dit alles net goeie leerstellings is en dat God nie werklik bestaan nie en dan so ook enige ander opperwesens. Dit sluit ook satan in (net bang maak stories). Wanneer ek bid is dit niks anders as om met die muur te praat nie. Daar is eenvoudig geen reaksie, gevoel of wat ook al ek veronderstel is om te beleef nie. Ek is geleer dat geloof nie iets is wat ek kan uitwerk (uitdink, uitredeneer) nie. As jy glo dan glo jy. Ek glo nie meer nie. Waar begin ek? Wat doen ek? Ek het altyd (of so het ek gedink) vertroosting gekry deur op my “Vader” se skoot te sit. Nou reken ek dit was maar altyd net propaganda en ek het dit geglo omdat ek dit gehoor het vandat my oë oopgegaan het as ‘n baba. As ek enige iets anders so aanmekaar gehoor het sou ek dit ook geglo het. En ek is seker dit geld vir alle ander mense ook. Sal julle insette baie waardeer?

Antwoord:

Dr. Kobus Kok antwoord:

Dankie vir jou eerlike navraag wat ek baie waardeer. Myns insiens kan baie mense met jou situasie identifiseer. Iemand het eenmaal gesê dat jy nog nie waarlik glo as jy nie al waarlik getwyfel het nie. Dit werk ook so in verhoudings: mens gaan dikwels deur ‘n tyd van ontnugtering en disoriëntasie, iets wat elke paartjie van kan getuig. Maar dan is dit juis in die onseker tye van ontnugtering waar jy aansienlik groei en verdiep en jou verhouding ‘n verdere dimensie inbeweeg, óf jy totaal in die gravitasie-kring van disoriëntasie en vernietiging afbeweeg. Die antwoord lê dikwels in die wet van die kompas. Indien ek van die begin af sê ek wil noord uitkom, gaan ek soek en veg en oorleef totdat ek uiteindelik weer noordwaarts gaan. Net so in ‘n verhouding. Indien ek van die begin af sê: “Ons gaan dit laat werk” –  sal ons alles moontlik doen om dit reg te kry. Indien ons egter van die begin af sê: “Ja-nee kyk, my ma was reg, die verhouding was ‘n fout” – sal ek oral foute raaksien.

Net so met ons verhouding met God. Dit wat jy wíl sien, dit sál jy sien. Indien mens vas oortuig daarvan is dat daar nie ‘n God is nie, sal jy selfs net op ‘n biologies-neurologiese vlak in die patrone van jou denkprosesse bepaalde neurologiese bane versterk waarbinne jy God ontken en jouself soos ‘n rekenaar programmeer om dit nie raak te sien nie, selfs al is Sy teenwoordigheid reg voor jou. Deur middel van rasionalisering verklaar jy die Goddelikheid sommer vinnig weg. Aan die ander kant, indien jy glo in God en na Hom soek, sal jy Hom sien, dikwels op die mees onvoorspelbare plekke en tye. Dit beteken nie geloof is net in my kop nie. Dit is soos wanneer ek my oë en neus toedruk en nie die roos ruik wat voor my is nie. Dit beteken nie die roos is nie daar nie. My neus is net toe daarvoor. Net so werk dit met ons koppe. Baie mense sê ons hoef net ons hart vir die Here te gee. Myns insiens is dit nie so eenvoudig nie. Ons moet ook ons koppe en ons rasionaliteit vir hom gee. Dit is immers in die konteks van die kritiese wetenskaplike beoefening van die teologie dat ek die wonderlikste dinge oor God en die Bybel ontdek het.

Ek het al self in my lewe iets beleef van die proses van ontnugtering en die twyfel wat daaruit voortspruit. In jou geval het jou naïewe geloof, waar jy onkrities was en jy op die Vader se skoot gesit het, gelei tot die disoriëntasie waar jy nou is. Die feit dat jy nog jou vraag rig aan ons, wys mos dat jy eintlik nog soek na antwoorde, dat jy steeds ware noord soek en miskien wil jy weer na ‘n punt van reoriëntasie beweeg. Dit is dikwels die pad wat baie loop: van oriëntasie (onkritiese geloof), ontnugtering, disoriëntasie en dan gaan hulle deur die lang verdiepingsfase wat uiteindelik lei tot ‘n proses van reoriëntasie. Dit is waar jy uiteindelik moet uitkom. Jy moet egter vir jouself van die begin af sê: Ek wil graag weer “sien” en in daardie sin geestelike genesing ontvang. Dit is nogal vir my ‘n mooi manier om daaroor te dink. Ongeloof word in die Bybel gekoppel aan geestelike gebrokenheid omdat ons verhouding met God in daardie sin nie heel is nie. Geloof gaan oor ‘n heroriëntasie jeens God en in daardie sin ontvang ons genesing en restourasie. In Johannes 9:41 lees ons dat die wat nie glo nie, blind is, wat by implikasie beteken dat die wat glo, diegene is wie se sig herstel is en wie se geestelike gebrokenheid gerestoureer is. Twyfel en ongeloof is iets wat die Bybelskrywers ook ken. Vat maar net Psalm 77 waar die Psalmdigter in die eerste elf verse kla dat hy roep en roep, en sy hande uitgestrek bly, maar hy geen antwoord kry nie en dit vir hom voel of God skoon weg is en of daar ‘n einde gekom het aan God se troue liefde vir hom. Mens moet lank by die eerste elf verse van Psalm 77 staan en jouself ten diepste assosieer met die emosies wat deur die digter se pen na jou toe kom. Emosies soos twyfel, onsekerheid, wantroue, moedeloosheid, teleurstelling, vrees en nog wat spoel vinnig oor jou as jy daaroor mediteer en jouself in sy woorde laat swem. Maar dan swaai die gedig op ‘n baie interessante wyse in Psalm 77:12. Die digter verander skielik sy woorde. Nou word sy woorde woorde wat hom laat herinner – woorde wat weer geloofsmoontlikhede oopsluit en vars ontdekkings moontlik maak. En dit is die geheim. As jy weer wil sien, moet jy kies om weer te wíl sien en woorde kry wat jou weer laat sien. Dit kom nie maklik nie, omdat jou ontnugtering en teleurstelling iets is wat diep lê. Tog met tyd, sal jy weer begin om in verwondering na ‘n God en ‘n Goddelike werklikheid in hierdie werklikheid te kyk en besef dat daar iets meer is as dit wat jou sintuie kan ervaar. Eers as jy die geloofswaarhede van die Christendom jou eie maak en dit so deel is van jou dat dit jou identiteit bepaal, sal jy weet dat dit waar is en hoekom jy glo wat jy glo. Want dan is dit deel van jou wese, deel van jou menswees. Selfs al gaan jy weer daarna deur ‘n tyd van disoriëntasie, sal die heroriëntasie weer volg. Die vraag is net, waarheen wys jou kompas… Mag jy weer die rigting vind wat jou by die gans andere God sal uitbring.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...