Paulus se brief aan die Filippense (1: 8-11) – Francois Malan

image_pdfimage_print

1:8 ‘Want God is my getuie hoe ek met die innige toegeneentheid (splángna) van Christus Jesus intens na julle almal verlang.’ Paulus beroep hom op God as getuie van die egtheid van sy verlange na die gemeente, want dit is God wat in sy genade die band van eenheid tussen gelowiges smee en die verlange na mekaar gee. Daarom het Paulus ’n intense verlange om hulle weer te sien, vir sy gemeenskap met hulle en om hulle te help in hulle geloof in Christus. Hulle is sy vreugde en die kroon op sy werk (4:1). Om die diepte en egtheid van sy liefde vir hulle te verklaar verwys hy na Christus se liefde wat in en deur hom werk. Vir die liefde van Christus gebruik Paulus die woord splángnois, wat verwys na al ’n mens se binneste organe, sy hart en verstand, sy hele wese, sy gevoel, denke en innerlike krag. So het Christus Homself geheel en al vir die wêreld se verlossing gegee. Dit is daardie onselfsugtige liefde van Christus wat deur Paulus werk na die gemeente toe en in hulle na hom toe, die liefde wat uit Christus kom en deur Hom gevoed word. Johannes sê: ’Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het’ (l Joh 4:19). In Johannes 14:23 sê Jesus: ‘As iemand my liefhet, sal Hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Die Filippense moes seker wees van Paulus se liefde vir hulle en sy verlange na hulle.

1:9 ‘Ek bid juis dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling 1:10a om dié dinge van waarde te kan onderskei,…’ Liefde lei tot gebed. Paulus verseker die gemeente dat hy konstant vir hulle bid – die werkwoord ‘ek bid’ is in die teenwoordige tyd, wat die konstante voortgang impliseer. In vers 9-11 gee hy aan hulle ’n kykie in die inhoud van sy gebed vir hulle. Die begin van sy gebed vir hulle is dat hulle liefde ‘nog meer en meer in volheid sal toeneem, veral in kennis (epígnōsis helder denke oor die inhoud van wat geken word) en die vermoë om die aard van alles waaroor dit telkens gaan, te kan insien (aisthêsei vermoë vir praktiese konkrete beoordeling).’ Dit gaan om die kwaliteit van hulle liefde wat oorvloedig moet wees (perisseúō in oorvloed wees). Dit behels dat hulle die Here al hoe beter sal leer ken as die God van liefde wat hulle deel maak van sy onselfsugtige liefde, en dat hulle ’n fyner aanvoeling sal hê vir wat voor God van waarde is (ta diaférō die dinge wat waarde het, wat kosbaar is) en watter dinge nie (vgl. Fil 3:7-8). Vgl. Spreuke 2:6: ‘Dit is die HERE wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig’. Die liefde wat God in jou werk (Gal 5:22) maak jou oog skerper om jou naaste en sy bekwaamhede en behoeftes raak te sien, dit verhelder jou verstand om mense beter te verstaan, verfyn jou waarneming en belewenis. Spreuke 4:23 sê ‘Wees veral versigtig oor wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.’ 1:10b ‘…sodat julle, met die oog op die dag van Christus innerlik suiwer en onberispelik kan wees,

1:11 vervul met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God,’ ‘ Die dag van Christus’ verwys na die dag van sy wederkoms om te oordeel, die finale dag waarop alle mense voor Hom gaan verskyn om beoordeel te word (Matt 25:31-33,46). Die doel van Paulus se gebed vir die verruiming van die Filippense se liefde is dat hulle innerlik suiwer (eilikrinês deursigtig voor God , suiwer van gees, sonder bedekte bymotiewe) en onberispelik (apróskopos onskuldig, vir niemand ’n struikelblok sal wees nie) voor Christus sal staan op die oordeelsdag. Hoe om innerlik suiwer en onberispelik te wees, word in vers 11 uitgespel: deur vervul te wees met die vrug van geregtigheid wat Jesus Christus vir hulle verwerf het en aan hulle skenk om in geloof aanvaar te word, soos bome vol vrugte. Hier verwys dit na die vrug van geregtigheid (vgl. Gal 5:22 vir die vrug van die Heilige Gees se werk in ons). In Johannes 15:3 sê Jesus: Julle is alreeds rein en skoon gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. Deur sy woord en sy Gees reinig God ons om suiwer voor Hom te lewe en teenoor mekaar. In Romeine 8:13 sê Paulus: As julle deur die Gees die praktyke van die (sondige) liggaam doodmaak, sal julle lewe. Dit is egter nie die Filippense of ons integriteit en reinheid wat ons aan die Regter kan voorlê nie, maar die geregtigheid wat Christus vir ons aan die kruis verwerf het, wat ons dankbaar in geloof aanvaar. Die vrug van hierdie soort geregtigheid word gevorm deur te lewe en te bly in die regte verhouding wat God skenk. Geregtigheid voor God beteken dat ons verhouding met God reggestel is deur Christus en dat God ons sy kinders gemaak het deur ons geloofsband met sy Seun (Rom 8:14: Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God). Nou moet ons leer hoe om as kinders van God te lewe, al meer sonder bymotiewe en sonder om ander aanstoot te gee of vir hulle ’n struikelblok te wees. In 2 Kor 3:18 sê Paulus: die Gees van God is besig om ons te verander om al meer soos Christus te word.

Daarvoor is dit ook nodig dat ons al meer vir Christus leer ken uit sy woord. Die doel van dit alles is die verheerliking en lof van God. Die integriteit en reinheid van die Filippense teenoor mekaar en hulle bure, die uitlewing van die liefde van God wat die Heilige Gees in hulle bewerk, alles moet gemik wees, nie op ons eie verheerliking nie, maar om God te verheerlik en te loof (vgl. Matt 5:16 Julle moet julle lig so voor die mense laat skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is kan verheerlik; Joh 15:8: Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en so bewys dat julle my dissipels=volgelinge is). Paulus se gebed vir hulle is dat God hulle daarin sal lei met sy gawes aan hulle, wat hulle ontvang deur in geloof aan sy Seun Jesus Christus verbind te wees.

image_pdfimage_print

You may also like...