Pinkster

image_pdfimage_print

Pinkster – Francois Malan

Johan vra: 

Ek wil net graag meer inligting hê oor Pinkster en Pinksterfees. Kan julle my dalk moontlik help met inligting oor Pinkster

Antwoord 

Prof François Malan antwoord: 

Handelinge 2:1 praat van die dag van die pinksterfees. In die Griekse Bybel is pinkster pentekoste wat 50 beteken. Dit is op die vyftigste dag na die paasfees van die Jode. Dit is die tweede van die drie oesfeeste van die Jode (Eks.23:14-19).

Die paasfees het begin op die dag waarop die eerstelinggerf van die garsoes as offer na die priester gebring is. Daarna het die fees van die ongesuurde brood nog ses dae geduur (Eksodus 23:15,16; Levitikus 23:4-14; Deutr.16:8). Dit is ook die fees van die oes van die eerstelinge genoem. Op dié fees word ook gedink aan die uittog uit Egipte, toe die Israeliete ongesuurde brood, wat nie in die woestyn sou sleg word nie, geëet het, en aan die bloed aan die kosyne, wat die doodsengel laat verbygaan het, vandaar die naam pasga of paasfees ‘to pass over’ (Eksodus 12:12-23). Dit is ook tydens die paasfees dat Jesus gekruisig is om ons uit die mag van die sonde en die bose te verlos (Matteus 26:17), en Hy die nagmal ingestel het om sy dood te onthou (Lukas 22:19-20). Christus is die paaslam wat vir ons geslag is (1 Kor.5:7)

Sewe weke na die paasfees is dit pinkster, op die 50e dag, die dag na die sewende sabbat. Dan word die herfsoes van koring, ens. ingebring (Eks.34:22; Lev.23:15-22; Deutr.16:9-12). Die fees het een dag geduur, brood met suurdeeg is geëet, as teken van Israel se bevryding uit Egipte en vervulling van die Here se verbond met sy volk. Volgens latere Joodse rabbi’s was dit ook die tyd toe Israel by Sinai die wet van die Here ontvang het.

Aan die einde van die landboujaar word daar dan nog ‘n groot danksegging gevier vir die druiwe, sitrus en olyfoes en die jaar se oeste, nl. met die loofhuttefees, wanneer die Jode vir 9 dae in hutte, van takke gemaak, woon ter herdenking van die uittog en die Here se beskerming met hulle reis deur die woestyn (Lev.23:33-36, 39-43; vgl. Joh.7:2).

In Hand.2:33 verklaar Petrus wat op die pinksterdag gebeur het: Jesus is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort, met die tekens van wind, vuur, en spreek in verstaanbare tale. Dit het gebeur op die dag toe die pinksterfees aanbreek (letterlik: toe vyftig dae vol geword het, 2:1). In Lukas 9:51 gebruik Lukas dieselfde Griekse woord: toe die dae van sy opneming vol geword het (NAV toe die tyd naderkom…). Die heilsbelofte van Joël 2:28-32 is toe vervul (vgl. Hand.2:16-21). Sedert die dag word verkondig dat God vir Christus uit die dood opgewek het (Hand.2:22-24,32; 4:10, ens.). Die groot dade van God word verkondig. Die deurbraak van God se koningskap kom aan die lig.

Die res van Handelinge wys hoe die verhoogde Christus deur die Heilige Gees werk en mense tot bekering (verandering van denke en lewenswyse) bring om in Jesus te glo en Hom te volg. Dié wat egter nie in Jesus se verlossing wil glo nie, word gewaarsku dat dit tot hulle veroordeling lei (Hand.13:10-11).

Die pinkstergebeure is ook die geboorte van die kerk (Hand.2:37-47). Die Heilige Gees bind gelowiges saam tot die een liggaam van Christus (Ef.4:4-6).

Wat beteken die koms van die Heilige Gees? In Johannes 14:16 belowe Jesus dat die Vader vir ons ‘n ander Voorspraak sal stuur om ewig by ons te wees. Die Griekse woord het die gedagte van ‘n helper, wat troos, bemoedig, en bemiddel tussen ons en God, en tussen ons gelowiges. In 14:23 sê Jesus dat Hy en die Vader in ons kom woon deur die Heilige Gees in ons; in 14:26 dat die Heilige Gees ons alles sal leer en herinner wat Jesus gesê het; in 15:26-27 dat die Gees van waarheid oor Jesus sal getuig, en van ons Jesus se getuies sal maak; in 16:8-11 dat Hy die wêreld kom oortuig van sonde, nl. om nie in Christus te glo nie. Hy kom mense oortuig van geregtigheid (die reg aan Jesus se kant), want Jesus gaan na sy Vader, en daardeur word ons verhouding tot God reggemaak en word ons kinders van God as ons in Jesus glo; Hy kom mense oortuig van oordeel, want die satan is reeds veroordeel en uitgegooi uit sy posisie as owerste van die wêreld (12:31) en God het nou aan Jesus alle mag/gesag in die hemel en op aarde gegee en Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat.28:18,20).

Paulus sê dat die gemeente die tempel van God is, dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, dat die Gees van God in ons woon en dat ons nie aan ons self behoort nie (1 Kor. 3:16; 6:19). Die Gees maak ons tot kinders van God (Rom.8:15), Hy werk in ons sodat ons in Jesus sal glo (Ef.2:8). God is liefde (1 Joh.4:8), dit is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Die Heilige Gees kom ons intrek in daardie liefdesverhouding. Dit is die betekenis van ‘die gemeenskap van die Heilige Gees’ wat elke Sondag aan die gemeente toegesê word (2 Kor.13:13). Efesiërs 3:14-19 sê die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde het sy bestaan te danke aan die Vader. Deur sy Gees versterk Hy ons innerlik, sodat Christus deur die geloof in ons harte woon en ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Die liefde van God wat die Gees in ons werk is ons krag, nie mag en geweld nie. Mag ons heeltemal vervul word met die volheid van God se liefde.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print