Psalm 31 (7)

image_pdfimage_print

 

To follow means to follow, not to lead. To point not to our own superior moral character but to the dimly seen figure out there that we are stumbling after – Frederick Buechner

 

Psalm 31 (7)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie is ‘n modelgebed vir iemand wat vertrou dat hy gehelp gaan word, nie omdat hy so ‘n groot geloof het nie, maar oor die Een op wie hy vertrou. Hierdie is ‘n gebed wat twee maal gebid is. Miskien het hy geen antwoord gekry nie of miskien het die situasie nie verander nie.

 

In Lukas 23:46 gebruik Jesus vers 6 om sy vetroue uit te druk as Hy sy naderende dood aanvaar. Dit is belangrik om daarop te let dat ons ons gees aan God toevertrou, nie net weens die naderende einde daarvan nie, maar ook weens die oortuiging dat die lewe sal voortgaan. Jesus het geweet dat Hy sy gees sal terugkry. Hierdie is nie ‘n stelling wat die einde van die wêreld sommer net aanvaar nie, maar die wete dat God verdere lewe kan en sal gee. In u hand lê ek my lewe (vers 6) en my tye is in u hand (vers 16), sê basies dieselfde.

 

Toe pous Johannes Paulus II Yad Vashem besoek het, het hy sy toespraak met Psalm 31:13b -15 begin en geëndig. Hy sê dat ons daar deur die hartverskeurende klaagliedere van baie oorweldig word. Maar ons moet altyd besef dat die bose nooit die laaste woord sal hê nie Uit die diepte van ons pyn en hartseer roep die gelowige uit: Op U vertrou ek Here; ek sê: U is my Here.

 

Die psalm het twee duidelike boodskappe vir die gelowiges van vandag:

  1. Ek moet in tye van nood my toevlug tot die Here neem. Dit is nie ‘n reg wat ek het of een moontlikheid tussen baie ander nie. Dit is ‘n noodsaaklikheid: Ek moet my toevlug tot die Here neem. Ek moet op Hom alleen vertrou, want Hy alleen is getrou. In ‘n wêreld wat onder my voete wankel, is Hy alleen my rots. In ‘n samelewing waarin goddeloses op weerlose mense jag maak, is Hy alleen my skuilplek. In ‘n toekoms wat al hoe donkerder word, is Hy my enigste lig.
  2. God hoor my noodroep en reageer daarop. Hy reageer nie altyd onmiddellik nie; Hy gee nie altyd presies wat ek vra nie. Niks sal keer dat Hy op sy tyd en op sy manier sal antwoord nie. My waarborg is sy reddingsdade deur die geskiedenis heen.

 

As ek een is wie se gebede reeds verhoor is, moet ek God daarvoor dank. As ek nog wag op ‘n antwoord, moet ek nie begin twyfel of moed verloor nie. Wees sterk en hou goeie moed. God het gehoor; Hy sal op sy tyd uitkoms gee,

 

 

image_pdfimage_print