Psalm 36 (1)

image_pdfimage_print

Psalm 36 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 36 (1)

Hoe kosbaar is u trou, o God! (36:1 – 13)

36 Vir die koorleier. Van Dawid, die dienaar van die Here.

2In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord.

Die goddelose het geen vrees vir God nie

3en praat net goed oor homself.

Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat.

4As hy praat, is dit kwaadwillig en vals; verstandig wees en goed doen bestaan nie vir hom nie.

5Selfs as hy gaan lê, dink hy net kwaad uit;

hy bly op ’n pad wat nie reg is nie; wat sleg is, verwerp hy nie.

6Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke,

7u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see. U sorg vir mens en dier, o Here.

8Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil.

9In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid.

10U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons.

11Laat u liefde bly by dié wat U erken en u trou by dié wat opreg is.

12Laat my nie onder die voete van eiegeregtige mense beland nie,

moenie dat goddeloses my hier wegdryf nie!

13Dié wat altyd onreg doen, val net daar waar hulle is;

hulle word platgeslaan en kan nie weer opstaan nie.

 

Tema: Die mens het ‘n keuse: hy kan hom skaar by die goddeloses of hy kan luister na die woord van God en Hom dien.

Die indruk word in 36:8 – 9 geskep dat die psalmis in die tempel wegkruip vir sy vyande. Hy bid dat hulle hom nie uit die tempel sal wegdryf en hom in hulle mag kry nie. Maar die psalmis se gebed is meer as net ‘n klag oor sy toestand of ‘n oproep om verlossing of ‘n dankwoord vir uitkoms. As die dienaar van die Here is die psalmis deur God uitverkies vir ‘n bepaalde taak. Deel van die taak is om mense te onderrig. In hierdie psalm voer hy hierdie opdrag uit. Terwyl hy by God skuil, vergelyk hy God en die goddelose met mekaar. Hy beskryf dus wie die goddeloses is en wat hulle doen en wie die Here is en wat Hy doen.

 

Psalm 35 sluit af met die psalmis wat homself ‘n dienaar noem. In hierdie psalm word na Dawid as die dienaar van die Here verwys. Hy is beide dienaar en lid van God se verbondsvolk. In hierdie sin moet elkeen van ons onsself as dienaars beskou.

 

image_pdfimage_print