Sonder liefde is dit tevergeefs

image_pdfimage_print

The great Christian revolutions came not by the discovery of something that was not known before. That happens when someone takes radically something that was always there – H. Richard Niebuhr

 

Sonder liefde is dit tevergeefs

God is nie tevrede as ons Hom dien omdat dit van ons verwag word nie. God wil hê dat ons Hom moet dien omdat ons lief is vir Hom.

Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks (1 Korintiërs 13:1 – 3).

 

Paulus het hier ‘n indrukwekkende lysie saamgestel – die tale van mense en engele, die gawe van profesie, ken al die geheimenisse, besit al die kennis, geloof om berge te versit, deel alles aan ander uit, gee my liggaam prys. Sekerlik behoort dit ons in die top 1% van godsdienstige mense te plaas. Maar Paulus sê dat al hierdie dinge nie opweeg teen dit wat God graag wil hê nie – liefde. Sonder liefde is selfs die radikaalste toewyding aan Hom van geen waarde nie.

 

Jy kan al die geestelike gawes in die wêreld hê, jy kan absoluut gehoorsaam wees, jy kan al jou besittings uitdeel, jy kan die Bybel memoriseer, jy kan soos Martin Luther elke môre vier uur lank bid, maar as dit nie uit ‘n hart vol liefde vloei nie, is dit niks nie.

 

Om ware liefde in jou hart te kweek, vereis meer as geestelike gawes, groter Bybelkennis, absolute geloof en selfs radikale gehoorsaamheid. Dit vereis iets radikaal anders. Dit is nou waar die evangelie ter sprake kom. Net die evangelie kan liefde vir God in jou hart kweek. Paulus verwys na die evangelie as God se krag tot redding van elkeen wat glo (Romeine 1:16). As die evangelie verkondig word, maak die Gees die hart lewend om die heerlikheid en skoonheid van God wat daarin geopenbaar is, te sien. Die verhaal van Jesus se dood en opstanding het die krag om dooie harte weer lewend te maak.

 

Godsdiens kan vir jou sê wat om te doen – jy moet God met jou hele hart, siel, verstand en krag liefhê – maar net die evangelie gee vir jou die krag om dit te doen. Hoekom? Die evangelie bring ‘n gehoorsaamheid gedryf deur ‘n begeerte na vore.

 

Die probleem is dat ons allerhande kosmetiese veranderinge maak om ware hartsverandering te vervang. Ons soek nuwe geestelike gawes, ons ontdek weer ou aanbiddingstegnieke, ons sê ons moet die groot opdrag van Matteus 28 uitleef … Natuurlik het hierdie dinge ‘n plek, maar nie een van hulle lei tot liefde vir God nie. Net die evangelie kan dit doen. Sonder die evangelie is al die ander dinge nutteloos.

 

Die evangelie is nie die ABC van die Christelike geloof nie – dit is die A tot Z; dit is nie die eerste tree op die leer van die waarheid nie – dit is die spilpunt van al God se waarhede. Alle ander Christelike deugde vloei hieruit voort. Groei in Christus gaan nie verder as die evangelie nie – dit gaan dieper in die evangelie.

 

image_pdfimage_print

You may also like...