Twyfel

image_pdfimage_print

 

Kind words can be short and easy to speak, but their echoes are truly endless. Moeder Teresa

 

Twyfel

Sukkel jy soms met twyfel? As jy eerlik is, is die antwoord: ja. Twyfel beïnvloed die lewens van baie gelowiges. In hierdie lewe is niemand se geloof volmaak nie. Daarom kan jou geloof groei. Twyfel kan gesien word as die gaping tussen volmaakte geloof en jou huidige geloof. Dit beteken dat almal van ons twyfel.

 

Daar is ook niks waaroor gelowiges nie kan twyfel nie. Soms twyfel ons oor ons verlossing; soms twyfel ons oor God se liefde; soms twyfel ons selfs oor die Skrif, die bestaan van God en die identiteit van Jesus Christus. Selfs Johannes die Doper het op ‘n stadium oor die identiteit van Jesus getwyfel (Matteus 11:3).

 

Om twyfel te hanteer moet ons sewe beginsels oorweeg.

 

  1. Ontferm julle oor dié wat twyfel

Oor hulle wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm (Judas 22)

Dit is maklik om te oordeel en neer te sien op mense wat twyfel asof hulle tweedeklas Christene is. Om daar te wees as mense twyfel, vetroos en bou hulle op. Daar is somige mense wat hulle lewens lank twyfel – dit is in hulle aard. Wees barmharig teenoor hulle al moet jy dieselfde vrae oor en oor antwoord. Dit is ‘n geleentheid vir jou om geduld te leer.

 

  1. Leer dat twyfel dikwels die geboortepyne van ‘n dieper geloof is

Soos ons ouer word, word ons geloof deur beproewinge, swaarkry en versoekings getoets. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop (Romeine 5:3 – 4). Twyfel is nie altyd ‘n slegte ding nie. Ons moet besef dat die waarhede wat ons sommer so aanvaar verkeerd mag wees. Sulke twyfel lei dikwels tot sterker geloof.

 

  1. Wees gereed om saam met misterie te leef

Soms wil ons al die antwoorde weet – ons wil alles volkome verstaan voor ons ons aan God toewy. God het baie aan ons geopenbaar; daar is so baie wat ons kan verstaan. Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag (Deuteronomium 29:29).Ons sal nooit alles verstaan nie, maar wat ons kan verstaan is genoeg vir ons om tevrede in God te rus as geheimenisse ontstaan.

 

  1. Maak die belangrikste dinge die belangrikste dinge

Paulus sê vir die Korintiërs dat hy die belangrikste dinge aan hulle oorgedra het (1 Korintiërs 15:3). Hy praat dan oor die versoenende dood en opstanding van Jesus Christus as die sentrale elemente van ons geloof. So baie van ons twyfel oor sekondêre sake: hoe het God die aarde uit niks uit gemaak nie; wanneer kom Jesus Christus weer. Daar is baie sake in die Christelike geloof waar daar al vir eeue wettige verskille bestaan. Daar was nog altyd eenstemmigheid oor wie Christus is en wat Hy gedoen het.

 

  1. Leef volgens die geloof wat jy het

Twyfel is nie ongeloof nie. Twyfel is die brug wat geloof aan volmaakte geloof verbind. Hierdie brug sal bly staan tot ons die dag doodgaan of tot by Christus se wederkoms. Ons is so geneig om as ons twyfel dit aan ongeloof gelyk te stel. Omdat ons so dink en omdat ander ons as ongelowiges hanteer, begin ons mettertyd so leef. Moedig mense wat twyfel aan om soos Christene te leef, die evangelie te glo al voel ons nie altyd soos Christene nie.

 

  1. Twyfel oor jou twyfel

Hoekom  wil jy aan jou twyfel ‘n geleentheid gee wat jy nie bereid is om aan jou geloof te gee nie. Ons moet krities oor ons twyfel wees. Twyfel bied nie aan ons ‘n beter oplossing nie. Christene kan seker wees dat twyfel  nooit swaarder sal weeg as die sentrale waarhede van ons geloof nie.

 

  1. Werk deur die sonde in jou lewe

Dit is dikwels die plek waar ons moet begin. Persoonlike sondes en ongehoorsaamheid dreineer jou geloof. Sonde eis sy tol veral as ons dit probeer regverdig. Die poging om die Bybel op ‘n vriendeliker manier te interpreteer, veroorsaak mettertyd dat jy jou sonde as heeltemal aanvaarbaar sien. As daar iets is wat ek moet doen en dit nie doen nie, versprei jou twyfel vinnig. Nou word dit moeilik om jou geloofskrisis te oorwin.

 

Daar is twee tipes twyfelaars. Die eerste groep draai weg van God en glo hulle het vryheid ontdek. Die ander groep voel dat hulle weg van hulle geloof loop en hulle is baie ontsteld daaroor. Gelukkig keer hierdie groep meestal mettertyd terug na God.

 

Om te twyfel oor jou geloof beteken nie dat jy ongelowig is nie. Ontferm jou oor mense wat oor hulle geloof twyfel. Dit maak nie saak of daardie twyfel in jouself of in ander is nie.

 

 

image_pdfimage_print