Wat vra die Here van ons?

image_pdfimage_print

 A nation should not be judged by how it treats its highes citizens, but its lowest – Nelon Mandela

Wat vra die Here van ons?

In ons huidige oorloë oor onder andere aanbiddingstyle, vra die kerk dikwels vrae soos: “Waarvoor vra die kerklos of nominale lidmate?” In ‘n poging om ons geboue vol te maak – en oënskynlik suksesvol voor te kom – beplan gemeentes hulle aanbidding om aan die smaak en eise van die grootste getal potensiële lidmate te voldoen.

 

Dié vraag wat gelowiges altyd moet vra, is: “Wat vra die Here van ons?” Ons vergeet dat as ons nie tydens die week op God se pad loop nie, niks wat ons Sondae in die erediens doen Hom sal beïndruk nie. Ons moet God se pad loop, ons onderhorige status voor Hom aanvaar en sy gebooie onderhou. Dit is die vrugte van ons liefde vir Hom. Woorde van toewyding klink hol sonder ‘n lewe van toewyding.  Ware geloof word nie gedemonstreer deur woorde van waarheid te sê nie, maar om ‘n lewe van waarheid te leef. Gelowiges wat sê dat hulle aan God behoort, maar optree asof hulle aan ‘n ander god behoort, is nie ware gelowiges nie.

Paulus word skoon driftig as hy aan die Galasiërs skryf: Julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie … Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Daarna gee hy ‘n lys van die praktyke van die sondige natuur en ‘n lys van die vrug van die Gees …Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. Ware geloof word gedemonstreer deur ‘n veranderde lewe – ons weier om volgens die eise van ons sondige natuur leef (Galasiërs 5:13 – 26).

Studies bewys dat die gesindhede van gelowiges en ongelowiges teenoor etiese sake soos materialisme, die armes, seksuele onsedelikheid, rasisme, ens skaars van mekaar onderskei kan word. Die etiek van baie wat hulle Christene noem, lyk soos die etiek van die wêreld.

Moses herinner ons dat ware geloof deur deernis vir die sosiale en ekonomiese randfigure in ons samelewing  gedemonstreer word. Ons vergeet dat sonder die genade van God ons almal vreemdelinge en slawe van die sonde is – burgers van die koninkryk van die duisternis. In sy genade het God ons gered en burgers van sy koninkryk gemaak.  Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16).

As mense ons raakloop, weet hulle dat hulle nou ‘n geloofsgemeenskap van mense met genade betree het.

image_pdfimage_print