Jesus herstel Petrus in die apostelamp (21:15-23)

image_pdfimage_print

Jesus herstel Petrus in die apostelamp (21:15-23) – Francois Malan

21:15 Na die oggendete langs die houtskoolvuur (anthrakia, 21:9) spreek Jesus Petrus aan as Simon, seun van Johannes, nie met die ‘rots’naam wat Jesus hom gegee het nie (1:42; vgl. Mt 16:18).  Jesus vra drie maal vir Petrus of hy Hom liefhet, nadat Petrus langs ‘n houtskoolvuur (anthrakia, 18:18) drie maal ontken het dat hy Jesus ken en sy dissipelskap van Jesus verloën het. By hulle vorige maal saam, het Petrus oormoedig verklaar: Ek sal my lewe vir U aflê (Jn 13:37; in Mt 26:33 het hy nog gespog: al sou húlle U ook almal in die steek laat, ek sal U nooit in die steek laat nie).

Jesus vra: het jy My baie lief (agapas), meer as hulle hier? Petrus antwoord: Ja Here, U weet dat ek U liefhet (filoo soos ‘n vriend; 15:13-15).  In sy verleentheid vergelyk hy hom nie meer met sy mededissipels nie, maar werp homself op die Here en sy kennis van Petrus, dat die Here weet wat in sy hart aangaan (2:25), ten spyte daarvan dat hy gefaal het. Tot sy groot verligting aanvaar die Here hom deur hom weer aan te stel in sy diens (vgl. Lk 22:31-32). Petrus se liefde vir die Here moet blyk uit sy sorg vir die Here se kudde. Petrus wie se geloof hom gefaal het, kry die opdrag om Jesus se lammers, die swakkes in die geloof, te versorg. 

 

21:16 Jesus vra vir die tweede maal: Simon seun van Johannes, het jy my baie lief (agapas). Petrus antwoord weer: Ja, Here , U weet dat ek u liefhet (filoo). Die herhaling van dieselfde vraag vra rekenskap oor die egtheid van sy gehegtheid aan Jesus, nou nie in vergelyking met die ander nie, maar van hom wat hier voor Jesus staan. Petrus se antwoord steun weereens op Jesus se kennis van sy hart as bewys van sy liefde. Jesus kan sy kudde se sorg alleen opdra aan iemand wat Hom onvoorwaardelik en onwankelbaar liefhet en doen wat Hy sê (15:10).

 

21:17 Die derde keer vra Jesus selfs of Petrus Hom liefhet (fileis) – soos hy nou al twee maal beweer het. Petrus se selfversekerdheid van voor die gevangeneming van Jesus is daarmee heen. Petrus word bedroef  oor hierdie derde keer wat selfs sy vriendskap bevraagteken (Mat.26:75; Mk 14:72; Lk 22:61 vertel van sy droefheid direk na die haan gekraai het). Hy verwys vir sy getuienis van die egtheid van sy vriendskap na Jesus se alwetendheid – Here, U weet alles, U weet dat ek u liefhet (filoo). Die eerste opdrag was ‘laat my skape wei’ (boskoo), die tweede ‘pas my skape op’ (poimainoo), die derde is weer ‘laat my skape wei’ (boskoo). Al drie kere is daar ‘n heraanstelling van Petrus. Sy taak is om die gemeente te versorg, en die enigste vereiste daarvoor is liefde tot Jesus en Jesus se kudde. Dié liefde is ook die vereiste vir die manier waarop die volgelinge van Jesus versorg moet word.

 

21:18-19 Soos Jesus die dwarsbalk van sy kruis op sy nek, met sy hande daaraan vasgemaak, gedra het (19:17), so sal die soldaat, wat Petrus moet gaan kruisig, die dwarsbalk van Petrus se kruis op sy nek sit, en Petrus sal sy hande uitstrek om daaraan vasgemaak te word,  soos die Romeinse gebruik was. Die ‘ander, ’ nl. die soldaat, sal Petrus se lang jurk opbind en met sy gordel om sy middel vasmaak, sodat hy ongehinderd kan stap; die soldaat sal hom aanjaag na waar hy nie wil wees nie. So skets Johannes die kruisiging van Petrus met ‘n alledaagse beeld van iemand wat in sy jeug kan gaan waar hy wil, maar in sy ouderdom afhanklik word van ander om hom aan te trek en te lei, soms na plekke teen sy wil. Johannes beskryf dit as ‘n teken (dieselfde woord as die wondertekens wat Jesus verrig het); die betekenis van die teken is die dood waarmee Petrus God gaan verheerlik, in navolging van Jesus se dood tot verheerliking van God (12:27-28; 13:31-32; 17:1). God word verheerlik deur Christene wat hulle lewe afê vir die naam van Jesus (1 Petr.4:16). Petrus word gewys op die gevolge van sy heraanstelling as herder van Jesus se skape (21:15,17). Hy wat in 21:7 in sy vervaarde eiewilligheid nog sy eie klere aangetrek het, sal in sy ouderdom gebind word vir die Naam van Jesus, en soos die goeie herder sy lewe vir die skape aflê (10:11).

            Jesus se finale opdrag aan Petrus is: Volg My! – sonder om van Jesus af te wyk, en tot in sy dood aan die kruis (‘n onverwagte vervulling van  13:36).Toe hierdie Evangelie geskryf is, het Petrus meer as 20 jaar tevore, moontlik in 64 n.C., aan ‘n kruis in Rome gesterf, volgens die kerklike oorlewering (Eusebius II25; 311 n.C.). Die ‘geliefde dissipel’ was toe waarskynlik ook al dood (vgl. die verklaring by 21:24).

 

21:20-21 Om Jesus te ‘volg’ beteken nie meer om agter Hom aan te loop, soos die dissipels vir ‘n paar jaar lank gedoen het nie, maar verwys na Jesus se voortgaande werk in die wêreld deur sy volgelinge onder leiding van, en met die krag, van die Heilige Gees. Iets van die nuwe soort navolging van Jesus het Petrus reeds gesien in ‘die dissipel vir wie Jesus baie lief was’ (van wie ons reeds sedert hoofstuk 13 lees, die man aan Jesus se bors vir wie Petrus gevra het om by Jesus te vra wie die verraaier onder hulle is, wat eerste by die graf gekom het saam met Petrus, wat Jesus eerste op die strand herken het, en deur hom het Petrus na Jesus toe geswem). As die kruis Petrus se einde gaan wees, wat dan van hom?  

 

21:22 Jesus wys Petrus se nuuskierige vraag af oor die lieflingdissipel se toekoms. Daaroor sal die Here nog self besluit. Die vraag wat ‘n ander se toekoms sal wees is vir geen volgeling van Jesus van belang nie. Dit is in die Here se hand. Maar wat wel uiters noodsaaklik is, is dat jy, wat die besondere voorreg ontvang het om deur Jesus geroep te word om Hom te volg, die vaste besluit neem om Jesus te volg en dit jou lewe lank met toewyding uit te voer. ‘Jy’ staan met klem voorop in die kort sinnetjie: Jy, volg jy My! Die roepstem van God mag nie verdring word deur weetgierigheid oor die wil van God vir ander nie. God gebruik elke mens op ‘n unieke manier. So was die ywerige Petrus ‘n getuie vir Jesus deur sy lewe en ook deur sy marteldood (die Griekse woord vir getuie, martus, het later ‘martelaar’ geword, vir die mense wat weens hulle getuienis oor Jesus gemartel en doodgemaak is). Johannes was weer deur sy lang lewe ‘n getuie van die liefde van God, sodat hy die benaming ‘die geliefde dissipel’ gekry het, die een wat in sy lewe en geskrifte getuie was van God se liefde vir die wêreld en vir hom.  

 

21:23 Die vers is ‘n byvoeging deur die skrywer om die presiese woorde van Jesus  te onderstreep. Dit was skynbaar verkeerd vertolk deur die ‘geliefde dissipel’ se volgelinge, as sou Johannes bly lewe tot die wederkoms. En  nou dat hy waarskynlik al dood is, verstaan hulle nie wat aangaan nie.  Die ‘broers’ by wie die misverstand ontstaan het, verwys waarskynlik na die Johannese gemeentes. Die Here het nie gesê (v22): ‘Ek wil hê hy moet bly tot ek weer kom nie,’ maar ‘as Ek wil hê dat hy moet bly tot Ek weerkom – is dit nie jou saak nie, jy, volg jy My!.’  

 

Die tweede slot (21:24-25)

21:24 ‘Ons weet…’ waarskynlik is dit die skrywer se gebruiklike ‘ons’ (soos in 3:2 deur Nikodemus, in 3:11 deur Jesus; 20:2 deur Maria Magdalena) om die belangrikheid van die getuienis te onderstreep. Hierdie Evangelie is die getuienis van die ‘geliefde dissipel.’ Die skrywer wat sy getuienis opgeteken het, sê ‘ons weet dat sy getuienis (maturia) waar is.’ Hierdie Evangelie is by uitstek ‘n getuienis oor Jesus, wat gebaseer is op die getuienis van Jesus self, en oor Jesus deur die Heilige Gees, wat die ‘geliefde dissipel’ in staat gestel het om dit te glo en te begryp, en daaroor te getuig (martureoo), dit deur die eeue aan die kerk oor te dra. Daarvoor het die ‘geliefde dissipel’ ‘n gelowige en oortuigde volgeling/e (‘ons’) gebruik om dit neer te skryf, soos bv. Tertius wat Romeine vir Paulus neergeskryf het (Rom 16:22).

 

21:25 Soos 20:30-31 sluit 21:25 ook af met ‘n verwysing na baie ander dinge (baie tekens in 20:30) wat Jesus gedoen het. Die doel daarvan word in 20:31 aangegee: dat mense sal glo en lewe, in 21 is die skrywer beïndruk deur die omvang van die werk en lewe van Jesus. Hy gebruik ‘n hiperbool: dat die wêreld nie die boeke sou kon bevat as alles neergeskryf is nie. Wat wel waar is, is dat geen mens ten volle die evangelie, die goeie nuus van Jesus,  kan ken en begryp nie (vgl. Salomo se gebed in 1 Kon.8:27 oor die tempel, vgl. Jn 2:21 Jesus se liggaam as die ontmoetingsplek met God) – die eindige kan nie die oneindige bevat nie. Die menswording van die Woord om die hemel en die aarde en die tye te vervul met sy volheid, vol genade en waarheid (Jn1:14), bly ‘n misterie, ‘n geheimenis. Die openbaring van God in sy Woord/Seun is groter as die hele skepping wat Hy geskep het. Maar Hy het die Heilige Gees aan ons gegee om sy unieke openbaring in hierdie Evangelie te begryp, sodat elkeen wat in Jesus glo ‘n dissipel word vir wie Jesus liefhet.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...