Bekering – Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Vraag

Schalk vra

 Vertel ’n bietjie meer rondom die woord “bekeer”. Volgens Matteus was dit Jesus se “intreepreek”. Wat sou die eerste ontvangers van die Woord onder “bekeer” verstaan het? Bekeer, omdraai van wat? Volgens Matteus was die boodskap aan heidene (nie-Jode).

Antwoord van Prof Hermie van Zyl

Die woord “bekeer” of “bekering” word wyd in die Ou Testament én Nuwe Testament gebruik om ’n belangrike aspek van die mens se verhouding met God uit te druk: Om jou weg te keer van jou sonde en toe te keer na God toe. Verder, daar is verskillende Hebreeuse en Griekse woorde in die grondteks van die Bybel wat in Afrikaans met “bekeer/bekering” vertaal word, wat elk sy eie nuanse van bekering bevat. Ek gaan egter nie op al hierdie nuanses in nie, maar konsentreer slegs op Matteus se hantering daarvan in Jesus se “intreepreek”, soos die vraagsteller verlang.

(As ’n omvattender hantering van die begrip “bekering” verlang word, kan die artikels van proff Adrio König en Francois Malan op Bybelkennis se webblad geraadpleeg word. Tik op die soekblokkie in: “Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering – Adrio König”; asook “Wedergeboorte en Bekering – Francois Malan” om hierdie artikels te lees. Dr Coen Slabber het in sy blog op dieselfde webblad ook heelwat oor bekering geskryf. Sleutel die woord “bekering” in om dit te bekom.)

Maar terug na Matteus se hantering van “bekeer”. Volgens Matteus 3:2 en 4:17 het beide Johannes die Doper en Jesus hulle onderskeie bedienings begin met die woorde: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Dit is duidelik dat Matteus op hierdie manier die bedienings van die Doper en Jesus met mekaar verbind. Albei staan in diens van die koninkryk van God. (Let wel: koninkryk van die hemel en koninkryk van God is dieselfde. Eersgenoemde kommunikeer net gemakliker met ’n meer Joods-Christelike gehoor – soos wat die Matteusevangelie gehad het – omdat Jode die Godsnaam so ver as moontlik vermy en vervang het met ander begrippe, soos “hemel”.) Aangesien beide die Doper en Jesus in diens gestaan het van die koms van die koninkryk van God, het beide ook hulle onderskeie gehore tot bekering opgeroep ten einde hierdie koninkryk in ontvangs te neem. Bekering en koninkryk gaan dus hand aan hand; jy kan nie die koninkryk in ontvangs neem as jy nie tot bekering kom nie, as jy nie die regte ingesteldheid het nie.

Wat is hierdie regte ingesteldheid? Die Griekse woord wat hier vir “bekeer” gebruik word, is metanoéō (werkwoord); die selfstandige naamwoord is metánoia, en beide beteken dieselfde, naamlik om ’n omkeer of verandering van denke en hart te ondergaan, om anders na God, jouself en ander te begin kyk, en dan natuurlik: om anders te begin lewe. En hierdie “anders” word bepaal deur die koninkryk van God. Daarom dat bekering en koninkryk in dieselfde asem genoem word. Laasgenoemde bepaal hoe bekering lyk. En as gevra word wat dit in die praktyk behels, dan is die hele Matteusevangelie eintlik die antwoord hierop, maar in die besonder die eerste onderrig van Jesus aan sy dissipels in die Bergrede, wat volg op Jesus se intreepreek. In die Bergrede word inhoud gegee aan wat verandering van denke behels. Om net enkele sake te noem: Dit behels dat jy “arm van gees” sal wees, dit wil sê, volledig afhanklik van God sal wees, alles van Hom sal verwag (5:3); dat jy sout en lig vir die wêreld sal wees (5:13-16); dat jou getrouheid aan die wet (5:20) nie net lippediens sal wees nie, maar sal uitmond in versoening met jou broer (5:24), in getrouheid aan jou eggenoot (5:31), in liefde vir jou vyand, omdat jou Vader in die hemel ook so maak (5:48); dat jy opreg sal wees in jou godsdienstige uitlewing (6:1-8); dat jy jou nie dood sal bekommer oor die dag van môre nie, omdat jy weet dat jou hemelse Vader sal sorg (6:33); dat jy nie net ’n mond-Christen sal wees nie, maar sal doen wat die wil van die Vader is (7:21-23).

En so kan ons voortgaan. Die koninkryk se waardes moet so ’n impak op jou lewe hê dat jy ’n totale omkeer van denke, hart, gesindheid en lewenswyse sal ondergaan. Dít, volgens Matteus – volgens Jésus – is bekering.

Net ’n laaste gedagte oor die Doper en Jesus se gehore. Die Doper tree in Judea op en rig hom veral tot die Jode en hulle godsdienstige leiers uit Jerusalem (Matt 3:5-7). Hierdie optrede van die Doper is in ooreenstemming met dié van die Ou-Testamentiese profete wat die volk Israel voortdurend opgeroep het om terug te keer tot God en sy wil van harte te omhels en uit te leef. Jesus het dieselfde intreepreek gehad, maar in Galilea, sy tuisprovinsie (4:12-13). Maar dan is daar dié bykomstigheid dat sy optrede daar as ’n vervulling van die profesie van Jesaja 8:23-9:1 aangedui word, naamlik dat daar nou redding kom vir “Galilea waar die heidene woon” (Matt 4:15). Hiervolgens lyk dit asof Jesus Hom uitsluitlik tot die heidene wend. Maar dis nie waar nie, want in Galilea het daar nie net heidene gewoon nie. Inteendeel, daar was ’n baie sterk Joodse bevolking. Dit word bevestig deur 4:23 waar staan dat Jesus in die Joodse sinagoges van Galilea onderrig gegee en die koninkryk verkondig het. Sy gehoor in die Bergrede is dan ook sy dissipels en die skare, wat waarskynlik hoofsaaklik Jode was (5:1; 7:28). Verder, volgens Matteus het Jesus Hom hoofsaaklik op die “verlore skape van die volk Israel” toegespits (10:5-7). Net so nou en dan het Hy heidense gebiede besoek (8:28-34; 15:21-28). Maar waarom dan die klem op “Galilea van die heidene” in 4:15? Dit is duidelik dat Matteus hiermee alreeds sy lesers daarop voorberei dat die evangelie nie net vir die Jode bedoel is nie, maar uiteindelik al die nasies van die wêreld – die heidene – moet bereik (28:19). En vir beide groepe – Jode en heidene – is bekering dieselfde: Om in die lig van die koms van die koninkryk deur Jesus Christus jou hele waardestelsel te verander, om te keer en anders te begin dink en lewe. Want as jy eenmaal deur die koninkryk aangegryp is, is jou lewe nie meer dieselfde nie, maar het jy oorgegaan van die dood na die lewe, en is jou lewe ’n voortdurende bekering tot God se nuwe wêreld, waar ander waardes geld as waaraan ons gewoond is in die ou wêreld.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...