Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek is tot alles in staat

image_pdfimage_print

We need the whole Jesus. The complete Jesus. Everything he said. Every detail of what he did – Eugene Peterson

 Bybelverse wat verkeerd gebruik word: Ek is tot alles in staat

Eric J. Bargerhuff het ‘n baie interessante boek – The Most Misused Verses in the Bible – geskryf. In hierdie reeks gaan ek onder andere van hierdie boek gebruik maak.

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee – Filippense 4:13

As ons ‘n vers uit konteks neem en probeer om die Bybel te gebruik soos ons dit graag wil hê, kan ons baie maklik probleme kry. Ons kan maklik ontnugter word met God, want hy voldoen nie aan ons verwagtings nie! Hy het belowe Hy sal dit doen en nou doen Hy dit nie. Nou begin ons aan die Bybel se integriteit en God se vermoë om te doen wat Hy belowe het, te twyfel. Die vraag: Wat presies sê Paulus vir ons in hierdie vers? Praat ons hier van fisies of geestelike of emosionele of al drie soorte krag?  Wat beteken alles?

 

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy onder huisarres verkeer. Hy weet nie of die Romeine hom nie dalk gaan teregstel nie Hy skryf ‘n brief aan die eerste gemeente wat hy in Griekeland gevestig het. Die eerste bekeerling in die stad was ‘n vrou – Lidia. Kort hierna word hy en Silas in die tronk gegooi, want hulle het die plaaslike handel belemmer deur demone uit ‘n slawemeisie uit te dryf.

Onder Paulus se invloed groei die gemeente in Filippi. Hulle ondersteun hom dikwels finansieel. Deels skryf hy hierdie brief om hulle vir hulle ondersteuning te bedank. Die hoofrede vir hierdie skrywe was sy begeerte om te sien dat die gemeente geestelik groei en God getrou dien. Hulle het God liefgehad, maar vertrou ook op hulle eie vermoë om die Christelike lewe uit te leef. Gevolglik  word hulle bekommerd en oënskynlik geïrriteerd met mekaar. Dit klink nie veel anders as vandag nie. Ons is nog steeds oor baie dinge bekommerd. Die probleem is dat ons so in die wêreldse dinge vasgevang is dat dit ons geestelike groei belemmer. Ons wonder hoe God gaan voorsien veral as ons geen uitweg sien nie.

Paulus se begeerte was dat die gemeente vas in die geloof moet staan. Hy moedig hulle aan om stram verhoudings vinnig reg te stel, om hulle altyd in die Here te verbly, om gereeld te bid en om op te hou om hulle te bekommer. Tot aan die einde van die brief wil hy hulle aanmoedig om hulle nie oor hulle behoeftes te bekommer nie:  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike  rykdom in Christus Jesus (4:19). God is daar; Hy ken hulle omstandighede en behoeftes.

Om in geloof te lewe is nie altyd maklik nie, maar dit is wat God van ons verwag. God het nooit aan ons ‘n maklike lewe beloof nie. Daar is so baie om na uit te sien in ons toekomstige lewe. Ons moet God vertrou, want Hy het belowe om in ons behoeftes te voorsien. Alhoewel Paulus die Filippense daaraan herinner dat God altyd vir sy kinders voorsien, is daar nog iets: tevredenheid – maak nie saak wat die omstandighede is nie. Net voor ons by ons teks kom, lees ons: Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Paulus het hulle bydrae ontvang en hy is baie dankbaar daarvoor. Hy gebruik egter die geleentheid om ‘n bindende beginsel aan hulle oor te dra: Maak nie saak wat jou omstandighede is nie, leer om tevrede te wees. Ons vermoë om ten spyte van ons omstandighede tevrede te wees, berus op een waarheid: ek kan dit doen deur Hom wat my krag gee.  Paulus praat hier oor tevredenheid. God het aan hom die krag gegee om hom nie te bekommer nie.

Sou ons lewens nie anders gewees het as ons in die geestelike krag wat God gee, intap nie – ons sou ons nie meer bekommer het nie. Ons moet ons minder bekommer en meer verheug. Hierdie vers beteken dat ons genoeg krag sal hê om tevrede te wees as ons hulpbronne min is. Dit beteken ons het geloof in die God wat voorsien; die God wat in  beheer van ons omstandighede is; die God wat ons behoeftes raaksien.

Paulus self is ‘n goeie voorbeeld van hierdie beginsel. Hy pleit dat God ‘n doring uit sy vlees sal verwyder. God verander nie sy omstandighede nie, maar sê vir hom: My genade is vir jou genoeg (2 Korintiërs 12:9). God voorsien die krag sodat ons tevrede kan wees as die lewe nie ideaal is nie; Hy gee aan ons die genade om te volhard en te oorwin.

Ons kan tevrede wees en die krag ontvang om alle dinge te verduur, want Christus gee vir ons krag. As ons tevrede is om op Hom ten volle te vertrou, word Hy verheerlik, want sy krag is duidelik waarneembaar.

Volgende keer kyk ons na Eksodus 21:22 – 25.

 

image_pdfimage_print

You may also like...